Geen petisionering, geen appèl, waarsku AfriForum oor NERSA-planne
AfriForum het vandag benadruk dat die burgerregteorganisasie nog geen kennisgewing ontvang het van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) se skynbare planne om hul tot die Hoogste Hof van Appèl te wend in hul poging om onregmatige en ongeldige munisipale kragtariefverhogings deur te druk nie. Dít ten spyte daarvan dat die energiereguleerder vandag in die parlement voor die portefeuljekomitee oor Elektrisiteit en Energie aangevoer het dat hy hom tot die appèlhof gaan wend om te appelleer teen die hooggeregshofuitspraak wat op 19 Augustus gelewer is.
Ingevolge dié uitspraak is NERSA se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys. NERSA het hierdie aansoek gebring in reaksie op die hooggeregshof se beslissing wat in Junie vanjaar in AfriForum se guns gemaak is, en bevestig het dat NERSA se besluit om munisipaliteite se aansoeke om kragtariefverhogings sonder die vereiste kostestudies te oorweeg, onregmatig én ongeldig is. Derhalwe moet alle munisipaliteite wat nie kostestudies ingehandig het nie, weer die kragtariewe wat vir die 2023/2024- finansiële jaar goedgekeur is, instel.
Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake, het NERSA se ontwykende benadering wat tot dusver gevolg is, veroordeel. “Ten spyte van AfriForum se verskeie pogings om direk in gesprek met NERSA te tree oor die aangeleentheid, verkies die reguleerder om eerder hul planne in die parlement te bespreek as om in gesprek te tree met die einste organisasie wat die bevel teen hulle gekry het,” verduidelik Mostert.
AfriForum sal intussen met sy regspan konsulteer om die moontlikheid te ondersoek om ’n bevel te kry wat sal toesien dat die hooggeregshof se beslissing, te midde van ’n moontlike appèlperiode, implementeer word. Die organisasie moedig intussen kragverbruikers aan om, ingevolge artikel 102 van die Munisipale Stelselwet, voort te gaan en ’n geskilproses van stapel te stuur teen munisipaliteite wat onwettige kragtariefverhogings implementeer.
“AfriForum het nog geen dokumentasie ontvang wat die regskrag van die hooggeregshofbevel opskort nie en derhalwe sal ons voortgaan om verbruikers aan te moedig om op te staan teen die onregmatige en ongeldige verhogings wat NERSA skynbaar ten alle koste wil implementeer,” sluit Mostert af.