|

Gauteng-skole grootste grootpraters in Dink of Sink-kompetisie vir 2024

Die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie se nasionale finaal vir hoërskoolleerders het op 5 Oktober op Akademia se Leriba-kampus in Centurion plaasgevind.

Die doel van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is om debat in Afrikaans op hoërskool- en universiteitsvak te bevorder. Terselfdertyd leer die debatteerders ’n kernvaardigheid wat hulle in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree.

Altesaam 36 hoërskoolleerders van 10  hoërskole in Suid-Afrika het in hul onderskeie spanne aan die finaal van die debatskompetisie deelgeneem. Dié debatspanne is deur die jaar as die wenners in onderskeidelik die junior en senior kategorie in die betrokke provinsie aangekondig. Elkeen van die spanne het drie debatte oor verskeie onderwerpe met betrekking tot aktuele kwessies in hul omgewing en die land gevoer.

Die skole wat aan die junior kategorie van die finale debatskompetisie deelgeneem het, is Merensky Landbou Akademie (Limpopo), Hoërskool Framesby (Oos-Kaap), Hoërskool Nelspruit (Mpumalanga), Hoërskool Durbanville (Wes-Kaap), Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (Gauteng) en Hoërskool Jim Fouché (Vrystaat). Ná ’n naelbyt finale debat oor die voordele en nadele van groepswerk het Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria se Kiki Bulter, Lientjie Steyn en Anabelle Swanepoel koning gekraai, terwyl Hoërskool Durbanville se Saskia Cloete, Cayla Fourie en Lucah Vorster as die naaswenners in die junior kategorie aangekondig is.

“Dit is vir ons skool ’n absolute voorreg om elke jaar aan Dink of Sink te kan deelneem. Die kompetisie word puik georganiseer en ons ervaar die moeite en tyd wat hieraan geploeg word. Boonop dit alles is dit hope pret vir die leerders,” sê Lise-Mari Roodt, debatorganiseerder van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria

Die skole wat aan die senior kategorie van die finale debatskompetisie deelgeneem het, is Hoërskool Pearson (Oos-Kaap), Paul Roos Gimnasium (Wes-Kaap), Merensky Landbou Akademie, Hoërskool Nelspruit, Helpmekaar Kollege (Gauteng) en C&N Sekondêre Meisieskool Oranje (Vrystaat). Helpmekaar Kollege se Danielle Wilkinson, Thea Kotzé en Emile du Toit het die finale debat oor grondhervorming in Suid-Afrika gewen en is as die grootste grootpraters vir 2024 aangekondig. Hoërskool Nelspruit se Rosemarie Oberholzer, Brenton Eastes en Nina Prinsloo is die naaswenners.

“Dit is elke jaar vir Helpmekaar Kollege ’n voorreg én wonderlike geleentheid om aan die Dink of Sink-debatskompetisie deel te neem. Die vaardigheid om wyd en vinnig op jou voete te kan dink en dan standpunt in te neem (en te verdedig), is ’n absolute noodsaaklikheid in ’n moderne samelewing. Ons beskou hierdie kompetisie as die toonaangewende onvoorbereide debatskompetisie vir leerders en boonop is dit in ons moedertaal – wat ’n lekkerte,” sê Louis Botha, debatsorganiseerder van Helpmekaar Kollege.  

Akademia se fakulteit vir Politiek, Filosofie en Ekonomie het vanjaar ’n boekprys geskenk aan die senior span wat die beste argumente lewer oor mosies met betrekking tot politiek, filosofie en ekonomie. Die wenners van die boekprys is Rosemarie Oberholzer, Brenton Eastes en Nina Prinsloo van Hoërskool Nelspruit.

“Die hoë gehalte van die debatte weerspieël die hoërskoolleerders se toewyding aan hul voorbereiding. Die nasionale finaal was waarlik ’n naelbyteindstryd. Ons is opgewonde vir hierdie hoërskoolleerders se deelname aan die kompetisie volgende jaar en die nuwe hoogtes wat hulle met debat gaan bereik,” sê Nicolene Müller, projekkoördineerder van Onderwys by AfriForum.

Soortgelyke plasings