| |

Gamagara-munisipaliteit ploeg nou met AfriForum se kalwers

Die AfriForum-tak in Kathu het saam met ander rolspelers en ondernemings in die omgewing self hand aan die ploeg geslaan en padmerke in Rietbokstraat gaan verf en die area skoongemaak. Dit volg ná die Gamagara Plaaslike Munisipaliteit al vir jare versuim om stoptekens in hierdie straat te vervang en duidelike padmerke te verf. Nou spog die einste munisipaliteit met foto’s van AfriForum en ander rolspelers se harde werk en maak dit as hul eie af.

AfriForum se Kathu-tak het 20 liter geel verf en 20 liter wit verf gebruik om die padmerke te verf. Die vrywilligers het gehelp om vullis op te tel en die omgewing skoon te maak.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, is dit sleg dat die munisipaliteit krediet vir die hele projek wil hê terwyl hulle nie eens die basiese take kon verrig nie. “Dit is lagwekkend dat die munisipaliteit foto’s van die Kathu-tak se harde werk neem en hulself op die skouer klop vir werk wat hulle nie gedoen het nie. Ons sal egter voortgaan om ons deel te doen om totale verval in die dorp te verhoed.”

“Ons sal voortgaan om saam met ondernemings, organisasies en gemeenskapslede te werk wat ons droom van ’n beter Kathu deel. Daar is baie mense wat regtig ’n verskil maak en ’n verskil wíl maak, dit gee ons hoop! Die Kathu-tak het nog heelwat projekte wat voorlê vir die res van die jaar en ons nooi die gemeenskap uit om aan te sluit en saam met ons ’n daadwerklike verskil te maak,” sluit Strauss af.

Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting en om by jou naaste tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings