Forum Tydskrif nou beskikbaar
Die 2024/2025-someruitgawe van AfriForum se Forum Tydskrif is nou beskikbaar. Dit is oudergewoonte propvol lekker leesstof oor AfriForum se bedrywighede. In Mei 2025 bereik die Afrikaans 100-vieringe ’n hoogtepunt en word 100 jaar sedert Afrikaans in 1925 ’n amptelike taal geword het, gedenk. Forum vier saam aan hierdie merkwaardige mylpaal.
Forum Tydskrif het by ’n paar bekendes, insluitend Leon van Nierop, Nico Strydom en Esmarie Yssel, gaan inloer om te hoor hoe hulle Afrikaans as ’n lekker taal uitleef. Ons stel ook ondersoek in na die geskiedenis van dié mooi taal en besin die hindernisse wat oorkom moes word om Afrikaans te laat groei van ’n kombuistaal tot ’n volwaardige wetenskapstaal.
Afrikaans het in die vroeë 1900’s teen ’n aanslag van die Britse regeerders staande gebly, maar die aanslae het nie daar geëindig nie. Lees ook in hierdie uitgawe oor AfriForum en die res van die Solidariteit Beweging se stryd teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela).
AfriForum se toptakke en -buurtwagte is vroeër vanjaar by die organisasie se driejaarlikse nasionale kongres vereer. Lees in hierdie uitgawe meer oor die takke, buurtwagte en die mense wat dag na dag skouer aan die wiel sit om hul onderskeie gemeenskappe op te hef. Vind ook uit hoe takke oor die hele land heen vanjaar duisende ton teer aangewend het om slaggate in byna elke uithoek van die land te herstel.
Adv. Gerrie Nel en die res van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ook gesorg dat geregtigheid geskied waar dit in baie gevalle gelyk het of sake deur die krake gaan val.
Voorts het AfriForum ook vanjaar voortgebou op die vestiging van sterker bande met ander gemeenskappe aan die suidpunt van Afrika. Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking en Verhoudings by AfriForum, skryf meer hieroor.
AfriForum-lede kwalifiseer ook vir heelwat voordele. Of dit nou vakansieverblyf, padel of ’n begrafnisdiens is – lees meer hieroor in Forum.
Lees die Forum Tydskrif hier.