|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek opnuut versoek dat belanghebbendes weer vanaf 5 Mei 2023 die openbare raadplegingsessies bywoon waar die publiek mondelinge insette oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) kan lewer. Dié wet hou ’n groot bedreiging in vir Afrikaanse moedertaalonderrig en gaan ook bepaal dat die besluitnemingsmag by die provinsiale onderwyshoofde lê eerder as by die skool se beheerliggaam.

Nadat die privaatvervolgingseenheid druk op die Nasionale Vervolgingsgesag geplaas het, het ’n vermeende dronkbestuurder, Joseph Hebron Maponya, vir die eerste keer in die Middelburg-landdroshof verskyn. Dit volg nadat hy na bewering ’n motorongeluk veroorsaak het waarin die vyfjarige Amé Jansen van Rensburg dood is.

Die burgerregteorganisasie het ook besluit om nie verdere regskoste aan die saak oor die vertoning van die ou landsvlag te bestee nie. Dit volg nadat die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein die Gelykheidshof se aanvanklike bevel dat “enige” vertoning van die ou vlag haatspraak is, gewysig het deur nou spesifiek “ongevraagde openbare vertoon” te verbied.

Die teenboelieveldtogspan het saam met AfriForum se Weskus-tak ses skole in Langebaan en Hopefield besoek om leerders van die gevare van boeliegedrag in te lig en hulle met die nodige vaardighede toe te rus om as leiers op te tree in situasies waar boeliegedrag en afknouery plaasvind.

AfriForum se buurtwagte was baie bedrywig en in Bloemfontein het die buurtwagte gehelp om ’n veldbrand op ’n plaas te blus. Die brandspanne in dié buurtwagstrukture is dadelik ontbied en AfriForum se lugvleuel het gehelp om kwelpunte uit te wys sodat die brand vinniger geblus kon word.

Die Sasolburg-buurtwag het die plaaslike polisiestasie gehelp en drie nuwe buisligte is in die gemeenskapdienssentrum en aanklagkantoor geïnstalleer nadat die stasie se kragopwekker onklaar geraak het en ’n kleiner een aangeskaf is. Beligting in die aanklagkantoor was baie swak en die buurtwag het dié ligte, wat ook op die klein kragopwekker werk, daar geïnstalleer. Dié buurtwag het ook gedurende April verskeie aksies saam met die polisie uitgevoer waartydens verdagtes vir verskeie misdrywe aangekeer is.

Die buurtwag in Potchefstroom het in samewerking met gemeenskapslede en Mooirivier Beskerming gehelp om twee verdagtes vas te trek wat ’n leerder van Potchefstroom High School for Boys beroof het. Die verdagtes is aan die polisie oorhandig en amptelik gearresteer. Die buurtwag het ook ’n skietdag vir patrollielede en hul gades by die skietbaan buite die dorp aangebied nadat navrae ontvang is oor wapenopleiding.

In die Oos-Kaap het AfriForum se buurtwagte ook skietopleiding ontvang deur ’n kursus in die gebruik van basiese handwapens te voltooi. Hierdie opleiding help sodat AfriForum se buurtwagte binne die raamwerk van die wet optree en dat hulle in staat is om hul gemeenskappe te beveilig wanneer hulle patrolleer.

Soortgelyke plasings