|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek ’n omvattende veldtog teen die Onteieningswetsontwerp wat privaat eiendomsreg bedreig van stapel gestuur. Hierdie veldtog gaan op takvlak, nasionaal en internasionaal gedryf word in ’n poging om dié vernietigende wetsontwerp teen te staan.

Ernst van Zyl en Ernst Roets

Die 10 jaar stryd om van e-tol ontslae te raak het vrugte afgewerp ná ’n aankondiging dat die staat die ongeveer R24 miljard se e-tol skuld van Sanral gaan oorneem. AfriForum het R100 000 geskenk vir ’n hofsaak om e-tol as onwettig te laat verklaar wat tot ’n aanvanklike interdik teen die implementering van die stelsel gelei het.

Die privaatvervolgingseenheid se herhaalde pogings om met die Gautengse Departement van Onderwys te vergader oor die Phoenix High School het op dowe ore geval en dié eenheid gaan nou die nasionale Departement van Basiese Onderwys nader vir dringende ingryping. Dit volg nadat die skool al vir byna ’n dekade probeer om kwessies op te los wat verband hou met die eienaarskap van die grond waarop die skool gebou is.

Terwyl beskuldigdes van ’n plaasmoord en -aanval Maandag in die hof in Roedtan verskyn het, het AfriForum saam met verskeie organisasies, sakeondernemings, boere en inwoners van die gemeenskap aan ’n vreedsame optog teen plaasmoorde deelgeneem om hul misnoeë met hierdie gruweldaad te wys.

AfriForum se buurtwagte regoor die land werk daagliks hard om hulle onderskeie gemeenskappe te help beveilig. Daarom het die buurtwagte in Pretoria, Centurion en Bronkhorstspruit aan ’n massapatrollie op die N4-snelweg deelgeneem nadat ’n toename in voorvalle waartydens skerp voorwerpe op die pad geplaas word, opgemerk is.

Op plaaslike vlak het die Zeerust-tak 113 slaggate opgevul. Die tak het 105 liter bitumen en 120 sakke teer (drie ton) gebruik om dié gate te vul.

Die Heilbron-tak het ’n gholfdag aangebied en gaan die wins wat tydens die dag gemaak is by die plaaslike kinderhuis en die tehuis vir bejaardes aanwend.

Die teenboelieveldtog het saam met adv. Phyllis Vorster van die privaatvervolgingseenheid die Hoërskool Durbanville besoek. Vorster het die onderwysers van dié en omliggende skole toegespreek oor verskeie aspekte van die strafregstelsel terwyl die teenboeliespan die leerders bewus gemaak het van afknouery in skole.

Soortgelyke plasings