Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits
AfriForum se takke het vandeesweek aan die organisasie se #OnsDorp-projek deelgeneem deur verskeie skoonmaak- en opknappingsprojekte aan te pak.
In Mooinooi het die tak as deel van dié projek 33 sakke van 25 kg elk gebruik om slaggate te vul. Die Klerksdorp-tak en Doringkruin-buurtwag het die tweede fase van hul projek voltooi deur Murantiweg netjies te maak, gras te sny en bome te snoei.
Ongeveer 60 inwoners van Brits het hand bygesit tydens die #OnsDorp-projek om die Damara Parkie skoon te maak deur 1,5 ha gras te sny en ses stortbakke vol tuinvullis en rommel weg te ry.
Vandale en kabeldiewe teiken substasies gedurig en daarom het die Vanderbijlpark-tak saam met die gemeenskap die substasie in Carpentierstraat skoongemaak. As deel van die tak se projek om die substasie te beveilig, het hulle ook besluit om die deur wat verwyder is, te vervang en om die heining om die stasie te herstel.
Die Laeveld-takke het nuwe tuintoerusting aangekoop om nog meer skoonmaakprojekte aan te pak. Hulle het twee Stihl-bossiekappers, twee Kohler-industriële grassnyers en een Stihl-kettingsaag aangekoop.
Die Groter Moot-tak was weer eens bedrywig en het hulle verfprojek om Hoërskool Oos-Moot voltooi. Dié tak se tuinspan het 12 padmerkers en twee middelbaanlyne rondom die hoërskool weer duidelik sigbaar geverf.
Die tak in Kamieskroon het strafregtelike klagtes teen die munisipale bestuurder van die Kamiesberg-munisipaliteit ingedien nadat dié dorp en Garies reeds vir langer as nege maande waterprobleme ervaar.
AfriForum spog ook met ’n nuwe tak in die Wes-Kaap nadat inwoners van die Paarl aangedui het dat daar ’n behoefte is aan ’n AfriForum-tak.
Die Weskus-tak in Langebaan het pale geskenk en gehelp om dit op te rig sodat veiligheidskameras in die Longacres-landgoed geïnstalleer kan word in ’n poging om misdaad in die omgewing te bekamp.
Opleiding in regsaspekte is aan 139 gemeenskapslede in vier dorpe in die noorde van KwaZulu-Natal aangebied. Hierdie opleiding is deel van die opleidingsessies wat AfriForum-buurtwaglede ontvang sodat hulle aan die wetlike vereistes voldoen wanneer hulle aan buurtwagverwante aktiwiteite deelneem.
Forum Sekuriteit het brandbestrydingopleiding aan 12 buurtwaglede in die Laeveld aangebied en hierdie lede is nou met praktiese en teoretiese kennis toegerus om brande korrek en doeltreffend te bestry.
AfriForum het ook die #MyKrag-veldtog van stapel gestuur nadat ondernemings en huishoudings aangespoor is om sonkrag te installeer en dit aan die netwerk te koppel. AfriForum en die dienstemaatskappy, Pionier, wil met hierdie veldtog namens huishoudings en ondernemings met die Energiekrisiskomitee en Nersa onderhandel oor die regulasies vir privaat kragopwekking, verkope aan die kragnetwerk en tariewe vir verkope.
Daar is vroeër die week ooreengekom dat die saak oor die buitensporige verhoging in eiendomsbelasting van onderwysinstellings in Johannesburg in Oktober vanjaar aangehoor gaan word.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ook ’n oorwinning behaal nadat die streekhof in Somerset-Oos die aansoek om ontslag wat die beskuldigde in ’n verkragtingsaak gebring het, van die hand gewys het. Die beskuldigde word daarvan aangekla dat hy Celeste Gouws in 2017 verkrag het.