|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek in die Noord-Gautengse Hooggeregshof die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) weer ’n bloedneus gegee in hul poging om R50 miljoen aan Kuba te skenk.

Dirco het reeds een keer in die hof pakslae gekry toe AfriForum ’n dringende interdik bekom het om die skenking van die R50 miljoen te verhoed. Hierdie week het Dirco appèl aangeteken en weer het die hof in AfriForum se guns beslis.

Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum

Honderde sakke teer is deur AfriForum-takke gebruik om slaggate te herstel. In Zeerust is 125 sakke teer gebruik en in Pretoria 900 kg om slaggate voor die Laerskool Wonderboom te herstel. Die AfriForum-tak in die noorde van Pretoria het verskeie versoeke van die publiek ontvang om met die slaggatprobleem te help. Ook in Warmbad is meer as 4 ton teer gebruik om slaggate te herstel.

In Middelburg is 35 kg spinasie en 20 kg aartappels aan die Koppiesstraat Projek geskenk. Hierdie groente word by AfriForum se volhoubare groentetuin in Bethal gekweek. Daar is in Mei reeds meer as 150 kg spinasie aan behoeftige organisasies geskenk.

Bethal se groentetuin het reeds in Mei meer as 150 kg spinasie aan behoeftiges geskenk.

Die Rustenburg-tak se skoonmaakprojek is nog goed op dreef. Sleepwaens vol rommel is weggery en vier hektaar gras is gesny. Dié projek is sedert die begin van die jaar aan die gang.

Die skoonmaakprojek in Rustenburg is nog goed op dreef.

Enkele weke nadat die Teks-buurtwag (Trichardt, Evander, Kinross en Secunda) ’n hommeltuig bekom het, is dit aangewend om ’n arrestasie te bewerkstellig. Tydens ’n roetine opleidingsvlug het een van die twee opgeleide vlieëniers ’n verdagte opgemerk. Die SAPD Secunda is ontbied waarna een persoon in hegtenis geneem is.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n klagte ingedien by die provinsiale polisiekommissaris van Noordwes teen twee senior speurders van die Potchefstroomse SAPD weens die beweerde gebrek aan vordering met ’n perdemishandelingsaak by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Die privaatvervolgingseenheid tree namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging op in die saak. Dié diere is sodanig mishandel dat 25 perde uitgesit moes word.

Natasha Venter, adviseur by die privaatvervolgingseenheid

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, is tans in die buiteland waar hy onder meer in Nederland en Hongarye besoek aflê met die voortsetting van die #DieWêreldMoetWeet-veldtog wat in 2020 afgeskop het. Die regeringskrisis in die land sal bespreek word asook hoe die buiteland kan help om druk op die regering te plaas.

Soortgelyke plasings