|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Die jaar staan einde se kant toe, maar AfriForum was die afgelope week steeds besig om vir geregtigheid te veg. Dié burgerregteorganisasie se takke het ook gehelp om nood te verlig en Kersfeesvreugde aan jonk en oud te bring.

Conrad Pretorius, die slagoffer van ’n padwoedevoorval in 2023, sal hopelik in Februarie volgende jaar uitvind of die saak teen hom laat vaar gaan word en of die advokaat, waarnemende regter en Pretorius se vermeende aanvaller, Roelof du Plessis, eerder vervolg sal word. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die oorspronklike besluit (om Du Plessis nie vir poging tot moord te vervolg nie) betwis, aangesien dit skynbaar ’n geval van selektiewe vervolging is waarin ’n regspraktisyn aanspreeklikheid vryspring weens sy status onder regslui. Die saak is hierdie week in die landdroshof in Hatfield, Pretoria, tot 4 Februarie 2025 uitgestel.

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het vandeesweek ’n klag teen die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ingedien. Dit volg ná riool al vir maande lank by komplekse in Bailliepark insyfer. Dié munisipaliteit is al verlede maand versoek om aandag aan die probleem te gee, maar dit blyk dat die munisipaliteit hom doof gehou het daarvoor.

Riool by ’n kompleks in Bailliepark, Potchefstroom

AfriForum se Bloemfontein-tak het op hul beurt ook ’n klag teen die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit by die MRK ingedien. ’n Waterkrisis het die stad in ’n wurggreep met sommige inwoners wat reeds vir drie weke lank nie voldoende water het nie.

AfriForum Brandweer het intussen in Bloemfontein gehelp om ’n brand by ’n restaurant in Langenhovenpark te blus, terwyl AfriForum se Groot Drakenstein-plaaswag, in samewerking met AfriForum se Paarl-tak, gehelp het om die verwoestende Paarlberg-brande onder beheer te bring.

Swak munisipale dienslewering het die afgelope paar jaar reeds ’n alledaagse verskynsel in Parys geword. As daar nie vuil drinkwater is nie, vloei rou riool in die strate of is daar onbeplande kragonderbrekings. AfriForum het derhalwe ’n klag teen die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit by die MRK ingedien. Dit volg ná die AfriForum-tak in Parys ook verlede week ’n dringende aansoek by die Bloemfonteinse hooggeregshof ingedien het waarin intervensie, ingevolge artikel 139 van die Grondwet, versoek is. Hiervolgens kan ’n provinsiale uitvoerende gesag intree en die munisipaliteit onder administrasie plaas indien dit nie sy pligte nakom nie.

AfriForum se Grootoog-buurtwag in Keimoes het die afgelope naweek ’n verdagte aangekeer wat glo by ’n huis ingebreek het. Gesteelde items is in die verdagte se besit gevind.

Die burgerregteorganisasie het voorts ook hierdie week aangekondig dat daar vanjaar, met die hulp van verskeie liefdadigheidsorganisasies en die publiek, deur middel van AfriForum se noodfonds 81 ton voer en 10 000 liter drinkwater verskaf kon word aan boere wat onder droogtes en veldbrande gebuk gegaan het. Maaltye is ook aan behoeftiges versprei.

Die gesamentlike inheemseveldbok-inkubasieprojek wat in Mei 2024 in die Barolong Boo Seleka-koninkryk by Thaba’Nchu, oos van Bloemfontein in die Vrystaat, afgeskop het, toon sterk groei. ’n Totaal van 19 boklammers (10 rammetjies en 9 ooitjies) is gebore sedert die projek begin is. Die aanvangskudde van 21 Nguni-inheemseveldbokke (20 ooie en een ram) het gevolglik tot 40 aangegroei.

D.M. Morena, Prins M. Moroka en M.C.N. Motaung, pronk met van die bokke van die gesamentlike inheemseveldbok-inkubasieprojek van die Barolong Boo Seleka-koninkryk by Thaba’Nchu, oos van Bloemfontein

In Benoni het die AfriForum-tak die vreugde van Kersfees met ’n uitreikaksie versprei. Die jaarlikse Kersrit is die afgelope Saterdag gehou. Daar is by verskeie kinderhuise, tehuise vir bejaardes en selfs by ’n diereskuiling geskenke uitgedeel. Daar is ook gesmul aan pizza en allerlei ander lekkernye.

Soortgelyke plasings