Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits
AfriForum het die afgelope week tot verskeie sake toegetree en heelwat skoonmaakprojekte aangepak om verval te stuit.
AfriForum het Eskom se voorgestelde kragtariefverhoging in formele kommentaar tydens Gauteng se openbare raadplegingsessie teengestaan en daarop gewys dat daar nie van verbruikers verwag kan word om ’n styging van 36,15% te aanvaar om die jarelange wanbestuur van die kragverskaffer reg te stel nie. Die organisasie het ook geskrewe kommentaar oor die verhoging in die Oos-Kaap, die Vrystaat, Mpumalanga, Limpopo en in Noordwes ingedien.
Die burgerregteorganisasie het vandeesweek ook aangedui dat regstappe gedoen sal word indien pres. Cyril Ramaphosa die Onteieningswetsontwerp onderteken of indien die ANC probeer om die Grondwet te wysig. Dit volg nadat die ANC aangedui het dat die party voorgestelde wysigings aan die Grondwet ter tafel sal lê om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.
Die blou-en-groendruppelverslag wat AfriForum jaarliks bekendmaak skets vanjaar ’n kommerwekkende prentjie. Slegs 87% van munisipale drinkwater wat die organisasie getoets het, is veilig vir menslike gebruik. Die groendruppeluitslae (riool) toon dat slegs 13% van verwerkte rioolwater aan die minimum standaarde vir storting in ’n waterhulpbron voldoen.
Boere in die Noord-Kaap het reeds groot verliese gely weens die voortdurende droogte en die regering het nog nie ingetree om dié boere te help nie. Daarom het AfriForum se Williston-tak en Saai die afgelope week tien ton voer aan die plaaslike boere geskenk.
Die gesamentlike landbou-ontwikkelingsprojek wat AfriForum en ander landbourolspelers sedert 2022 in samewerking met die Thabake Business Enterprise in Noordwes aanpak, het hierdie week begin om die derde aanplanting van murgpampoene te oes. Die vorige oes uit hierdie projek het meer as 400 kg rooikool en 800 kg groenbone gelewer.
AfriForum Brandweer, in samewerking met Fire Ops SA, het spoedig gereageer nadat ’n bekende restaurant in Bloemfontein se grasdak aan die brand geslaan het. Danksy vinnige en doeltreffende kommunikasie en samewerking tussen Fire Ops SA en die Mangaung-brandweer, is die brand bedwing sodat dit nie na die res van die gebou versprei het nie.
Die organisasie se Overstrand-tak het kos, water en ander benodigdhede aan plaaslike brandbestryders voorsien tydens die verwoestende brande wat in die Hemel-en-Aarde-vallei en Karwyderskraal gewoed het.
Die Langeberg-tak het tien perske- en tien appelkoosbome aan H. Venter Primêr in Ashton geskenk.
AfriForum se tak in Nelspruit het verskeie skoonmaakprojekte aangepak om die stad skoon en netjies te hou. Gras is gesny, vullis opgetel en padskouers is ook opgeruim. Altesaam 50 sakke vullis is verwyder. Dié tak se buurtwag het ook twee nagsigverkykers ontvang om hulle met misdaadvoorkomingsinisiatiewe en patrollies te help.
Die Noord van die berg-buurtspan in Pretoria het in November agt stormwaterdreine skoongemaak. Hulle het ook 1 570 sakke met rommel gevul, 196 vragte rommel weggery, 2,5 hektaar gras gesny, 12 parke skoongemaak en die gras gesny, asook agt gebiede skoongemaak wat met rommel bestrooi was.
AfriForum het vandeesweek gesê die sowat R16 miljoen wat die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit aan personeel se prestasiebonusse wil bestee, is ’n klap in inwoners van dié metro se gesig. Heelwat inwoners in Germiston en die omliggende gebiede is sonder lopende water en dienslewering is ook gebrekkig.
Die Ellisras-tak het die Menseregtekommissie genader om Motlalekgomo Mmope, bestuurder van die Lephalale Plaaslike Munisipaliteit, te ondersoek nadat inwoners van Lephalale al vir meer as ’n week sonder water is. Alhoewel die munisipaliteit besig is om verouderde infrastruktuur te vervang, het AfriForum by nadere ondersoek bevind dat drie verskillende kontrakteurs aangestel is om waterpype te vervang. Die gehalte van die werk wat reeds gedoen is, is substandaard en het in sommige gebiede gelei tot lae waterdruk terwyl ’n vermeerdering in waterdruk op ander plekke veroorsaak het dat die nuwe pype bars.