|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandeesweek tot verskeie sake toegetree om burgerregte te beskerm. Dié organisasie se takke en buurtwagte het ook hard gewerk om verval te stuit en misdaad hok te slaan.

AfriForum en Solidariteit het ’n konstruktiewe gesprek met die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) gevoer oor die bedreigings wat die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024 (Bela-wet) vir moedertaalonderrig en veeltaligheid inhou.

AfriForum Jeug het die Wes-Kaapse hooggeregshof op ’n dringende grondslag genader om die diskwalifikasie van Jolene le Roux as ’n lid van die Stellenbosch Universiteit se studenteraad te laat hersien. Dit volg nadat dié jeugorganisasie se appèl deur die universiteit se studentehof van die hand gewys is.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid bevestig dat die veroordeelde kinderverkragters, Marinus en Morné Kemp, ingevolge ’n ooreenkoms wat hul regsverteenwoordiger aangegaan het, op vrye voet bly ten spyte daarvan dat die Pretoriase hooggeregshof hul borgtog herroep het. Die Kemp-broers is in 2022 reeds skuldig bevind aan verkragting, maar het dadelik teen hul skuldigbevinding geappelleer en is sedertdien op borgtog.

AfriForum eis verder deursigtigheid oor die huurbesonderhede van Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, se nuwe kantoorgebou nadat dit aan die lig gekom het dat dié gebou voorheen Anglo American Platinum se korporatiewe hoofkantoor was. Die gebou behoort nou aan Olitzki Property Holdings (OPH). AfriForum se regspan het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Gautengse provinsiale regering en die verhuurder gerig om inligting te versoek.

Die burgerregteorganisasie het ook sy regspan opdrag gegee om ’n saak voor te berei sodat vanjaar se matriekuitslae wel op mediaplatforms gepubliseer mag word. Dit volg op die Inligtingsreguleerder se aankondiging dat die openbare bekendmaking van dié uitslae verbied word.

AfriForum het ook gewaarsku dat die huidige besteding van die Departement van Gesondheid om voor te berei vir die inwerkingstelling van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), ondeurdag is aangesien die grondwetlikheid van NGV nog betwis word.

Hofstukke is vandeesweek op die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit en die Departement van Menslike Nedersettings beteken om ’n onwettige ontwikkeling op Wonderfontein naby Sasolburg te stuit. Dié ontwikkeling voldoen nie aan die nodige vereistes vir ontwikkeling nie soos voorgeskryf deur die munisipaliteit se tribunaal en die nodige planne is ook nie gereed om hierdie ontwikkeling volhoubaar te doen nie.

AfriForum verwelkom die R160 miljoen-boete wat die Dipaleseng Plaaslike Munisipaliteit opgelê is weens jarelange waterbesoedeling nadat dié munisipaliteit daarvan aangekla is dat hy van Desember 2018 tot Augustus 2023 onverwerkte riool gestort het. Die organisasie is egter van mening dat amptenare eerder in hul persoonlike hoedanigheid verantwoordelik gehou moet word hiervoor.

’n Beroep is op die Tshwane-metro gedoen om saam te werk aan oplossings vir die uitdagings rakende afvalbestuur. AfriForum het in ’n brief aan die munisipale bestuurder beklemtoon dat onmiddellike ingryping en strategiese vennootskappe noodsaaklik is om ’n volskaalse afvalbestuurkrisis te vermy. Tesame hiermee is ’n hand van samewerking opnuut na die metro uitgereik sodat die organisasie se uitgebreide veiligheidsnetwerk aan die metro beskikbaar gestel word om proaktief op te tree om infrastruktuur te beveilig.

Inwoners van sommige dele in Thabazimbi het vir die eerste keer in 50 dae weer water gehad nadat die plaaslike AfriForum-tak in samewerking met inwoners en die privaat sektor gewerk het om waterlekkasies te herstel.

AfriForum se Keimoes-tak, gemeenskapslede en plaaslike ondernemings het ingespring om die openbare toilette naby die Waterwiel-monument te vervang, herstel en skoon te maak nadat dit verwoes en gevandaliseer is.

’n Lid van AfriForum se Mosel-buurtwag in Uitenhage het twee vermeende kabeldiewe in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig nadat hy hulle op heterdaad betrap het.

In nog ’n suksesverhaal het die AfriForum911-reaksie-eenheid in Bloemfontein en Bloemsec-sekuriteit ook vermeende diewe vasgetrek nadat die booswigte glo treinspoordwarslêers gesteel het. Hierdie eenheid en verskeie ander rolspelers het by ’n ander geleentheid gesteelde vragmotorsleepwaens opgespoor en daarop beslag gelê.

Soortgelyke plasings