|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandeesweek nóg ’n groot sukses behaal. Die burgerregteorganisasie het ook stem dik gemaak oor ’n mynbouaansoek vir die vestiging van ’n steenkoolmyn op die voorstoep van die Krugerwildtuin wat, indien dit toegestaan word, rampspoedige gevolge vir die omgewing sal inhou.

Nog ’n vrouemishandelaar het sy rieme styfgeloop met die toetrede van AfriForum se privaatvervolgingseenheid tot ’n saak. Irvin Thabo Ngobeni is hierdie week in die Mamelodi-landdroshof skuldig bevind op aanklag van aanranding van sy buurvrou Nthabiseng Sebothoma. Sy het AfriForum vroeër vanjaar om hulp genader nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) versuim het om die saak behoorlik te ondersoek en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) derhalwe besluit het om nie die saak te vervolg nie. Ná die privaatvervolgingseenheid betrokke geraak het, het Ngobeni uiteindelik sy dag in die hof gekry, is hy skuldig bevind en gevangenisstraf van drie maande, of ’n boete van R6 000, opgelê.

AfriForum het ook hierdie week daarop aangedring dat ’n mynbouaansoek om steenkool digby die Krugerwildtuin te ontgin, herroep moet word. ’n Omgewingsimpakstudie (OIS) wat onlangs hiervoor ingedien is, is volgens AfriForum ’n rampspoedige mislukking wat in alle opsigte aan die voorvereistes van ’n OIS misluk. Lambert de Klerk, hoof van Omgewingsake by AfriForum, beklemtoon dat die aansoek ’n powere vertoning van regulatoriese nalatigheid is en dus afgekeur moet word.

Lambert de Klerk, hoof van Omgewingsake by AfriForum

Met ’n “Dag Zero”-scenario wat binnekort in Gauteng ’n realiteit kan wees, het AfriForum die Johannesburg-metro gevra om dringend aandag aan wydverspreide waterlekkasies in dié stad te gee. Daar is reeds voorspel dat daar teen volgende jaar nie genoegsame water vir Gauteng sal wees nie en daarom is dringende ingryping nou noodsaaklik. AfriForum het intussen op 31 Oktober ’n veldtog afgeskop waardeur inwoners van Gauteng waterlekkasies op ’n interaktiewe platform (www.waterkrisis.co.za) kan aanmeld.

Die SAUK-wetsontwerp was ook hierdie week weer in die kollig en AfriForum het ná die onttrekking van die wetsontwerp beklemtoon dat dit die ideale tyd is om met TV-lisensies weg te doen. Die burgerregteorganisasie voer aan dat die privatisering van die nasionale uitsaaier ’n moontlike oplossing vir hierdie staatsentiteit, wat soos soveel ander in ’n finansiële doodloopstraat is, sal bied.

’n Erge rioollekkasie in Potchefstroom het inwoners van dié stad in Noordwes nou keelvol en AfriForum dring aan op die dringende herstel daarvan. AfriForum het daarom ’n skrywe aan die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit gerig om hulle te versoek om onmiddellik aan die probleem aandag te gee. AfriForum dreig boonop om regstappe te doen as die munisipaliteit nie aan die skrywe gehoor gee nie.

Die riool in Balliepark, Potchefstroom

AfriForum en die breër gemeenskap van Kroonstad is intussen ook hewig gekant teen die heraanstelling van Sonnyboy Mokgatle as munisipale bestuurder van die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit. Sy heraanstelling volg ten spyte van ’n ondersoek na sy betrokkenheid by die storting van rioolvuil in die munisipale gebied, waarvoor hy in 2022 strafregtelik vervolg is. Kort ná die indiening van die klag het Mokgatle uit sy pos bedank en by monde van sy regsverteenwoordiger gesê dat hy nie verder by die munisipaliteit betrokke sou wees nie. AfriForum meen die rondskuiwery van amptenare is bloot ’n verdoeseling van onbevoegdheid.

Die AfriForum 911-reaksie-eenheid in Bloemfontein het vroeër vandeesweek drie verdagtes vasgetrek wat daarvan verdink word dat hulle by veediefstal in die Jagersfontein-distrik betrokke was. Die eenheid is ontbied ná vyf Brangus-beeste in dié omgewing gesteel is. Die voertuig wat vermoedelik tydens die diefstal gebruik is, het in Bloemfontein rondbeweeg en is deur die eenheid voorgekeer. Die SAPD het ook die beeste ter waarde van R300 000 opgespoor.

AfriForum se Bloemfontein-Noord-tak het op hul beurt die afgelope week verskeie slaggate in die eerste fase van ’n volhoubare projek herstel. Dié projek is saam met die padbedekkingsmaatskappy Raubex Roadmac Resurfacing aangepak en sal oor vier fases strek. Die tweede fase sal tydens die feestyd aangepak word.

In die Noord-Kaap het AfriForum se Keimoes-tak hierdie week ingespring om ’n vervalle park in die hartjie van dié dorp op te knap. Dit het drie dae geneem om rommel wat onwettig daar gestort is, te verwyder.

Soortgelyke plasings