Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits
Die grootste optog van Afrikaanssprekendes sedert 1994 het vandeesweek in Pretoria plaasgevind toe meer as 10 000 mense by die Voortrekkermonument byeengekom het om teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024 (Bela-wet) te betoog.
Die Solidariteit Beweging, AfriForum, Solidariteit, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en organisasies wat ’n belang by Afrikaanse onderwys het, het dié protesoptog gelei. ’n Memorandum met eise is aan John Steenhuisen (leier van die DA) en dr. Pieter Groenewald (leier van die VF Plus) oorhandig waarna hulle saam met die optoggangers na Freedom Park gestap het. Daar is ’n memorandum, wat deur meer as 40 organisasies onderteken is, aan Gayton McKenzie, minister van Sport, Kuns en Kultuur, as ’n verteenwoordiger van die Presidensie oorhandig.
AfriForum en Solidariteit het die dag ná die protesoptog in ’n mediaverklaring gesê die vakverbond Cosatu se aantygings oor die vertoon van “ou apartheidsera-vlae” is kwaadwillig en vals. Die een persoon (uit meer as 10 000) wat wel met ’n ou Transvaalse Vierkleur opgedaag het, is met sy aankoms weggewys en van die terrein af begelei.
Twee van AfriForum se veiligheidstrukture in die Noord-Kaap het die afgelope week vermeende misdadigers vasgestrek vir diefstal en beslag gelê op gesteelde goedere danksy veiligheidskameras wat in die gebiede opgerig is, asook goedgevestigde strukture.
AfriForum se protospan in Orania het in samewerking met Orania Veiligheidsdienste (OVD), vier vermeende kabeldiewe aangekeer nadat ’n veldkamera (trail cam) die verdagtes opgetel het waar hulle besig was om kabels te steel. Die verdagtes met hul buit en die voertuig waarin hulle gery het, is agternagesit en van die pad af gedwing. Die polisie is van die voorval in kennis gestel en het die verdagtes op die toneel in hegtenis geneem.
Die Vaalharts-buurtwag het op hul beurt op ’n vermeende luserndief se buit beslag gelê nadat die buurtwag in kennis gestel is dat die verdagte besig was om lusernbale te versteek. Die verdagte is ook met die hulp van veiligheidskameras in die gebied opgemerk waarna die buurtwag in kennis gestel is.
AfriForum se Rustenburg-tak het voortgegaan om padveiligheid te verbeter deur verskeie strate se padmerkers en spoedhobbels oor te verf. Ongeveer 130 liter verf is die afgelope twee maande hiervoor gebruik.
In Emalahleni het AfriForum se Witbank-tak die Blanchville-buurtwag gehelp om straatligte in hul buurt te herstel. Verder het dié tak 77 inheemse en vrugtebome aan skole en instansies geskenk.
In die Wes-Kaap het die Kaap Agulhas-tak talle oppervlaktes wat straatname bevat, skoongemaak en netjies oorgeverf.
Die Theewaterskloof-omgewing spog ook nou met ’n nuutgestigte AfriForum-tak wat op gemeenskapsprojekte en samewerking met plaaslike owerhede gaan fokus.