|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum en ander rolspelers gaan op 5 November ’n optog hou om protes teen die Wet op Basiese Onderwyswette (Bela-wet) aan te teken. AfriForum se takke het ook die afgelope week op verskeie maniere groot bydraes in hul dorpe gemaak.

Die boodskap by hierdie week se Bela-beraad was duidelik dat dié wet nie aanvaar moet word nie aangesien dit ’n aanval op Afrikaanse skole en kultuur is. Rolspelers het ’n aantal resolusies onderneem en ’n reuseoptog word vir 5 November beplan om druk op pres. Cyril Ramaphosa te plaas om die twee klousules wat taal- en toelatingsvereistes in die beheer van ’n regeringsamptenaar sal plaas, uit die wet te verwyder.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid gaan ’n fluitjieblaser help in ’n saak waar Panyaza Lesufi, die Gautengse Premier, na bewering ’n kernfiguur in ’n grootskaalse toesmeerveldtog van ongebreidelde korrupsie, geldwassery en bedrog is. Dit het die provinsiale regering nou al reeds honderde miljoene rande gekos en die geld was aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling toegeken om maatskappye sonder winsoogmerk te ondersteun. Dié eenheid het reeds verskeie forensiese verslae onder oë gehad wat 13 amptenare impliseer. Lesufi het hierdie verslae na bewering ook gesien, maar hy het ’n ander regsfirma aangestel om dit te hersien om sodoende die amptenare vry te spreek.

AfriForum Jeug het op 3 Oktober in samewerking met AfriForum se afdeling vir Jeugleierskap en Ontwikkeling ’n leierskapsontwikkelingsessie aan gr. 11-leerders van Gauteng aangebied. Altesaam 40 nuutverkose leerlingsraadslede van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Noordheuwel, Hoërskool Centurion en Hoërskool Eldoraigne het dié geleentheid bygewoon.

In die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie se nasionale finaal vir hoërskoolleerders wat op Akademia se Leriba-kampus in Centurion plaasgevind het, het Helpmekaar Kollege die senior kategorie gewen en Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria het in die junior kategorie geseëvier. Tien skole het aan die finaal deelgeneem en die beoordelaars was beïndruk met die hoë gehalte van die debatte.

Die AfriForum-tak in Kaap Agulhas het tien melkhoutbome aan die Zoetendal Akademie geskenk, in Kimberley het die AfriForum-tak ses vrugtebome aan kleuterskole geskenk en in Welkom het AfriForum die dorp met die aanplant van 21 witstinkhoutbome verfraai. AfriForum en Mooi Parys het 35 witstinkhoutbome in dié dorp se begraafplaas geplant.

In Danabaai het die AfriForum-buurtwag twee verdagtes, wat by ’n mesaanval betrokke was, vasgetrek. AfriForum se Alfa-buurtwag het in Sandbaai ses verdagtes aangekeer wat onder meer met ’n skootrekenaar, selfoon en ’n elektriese koord betrap is. In die Strand het die AfriForum-buurtwag, Vetus Schola Protection Services, Fidelity ADT, AM Security, Gordon’s Bay Security en Secure Rite Security patrollies vermeerder nadat ’n vlaag inbrake in die gebied plaasgevind het.

Danksy AfriForum se Groot-Oog-buurtwag is ’n vermeende luserndief onlangs in Keimoes vasgetrek en aan die polisie oorhandig en in Standerton het die AfriForum-buurtwag aan Operasie Vala Umgodi, ’n inisiatief van die polisie , deelgeneem waartydens een arrestasie gemaak en verskeie boetes uitgereik is.

AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-tak het in September met hul volhoubare skoonmaakprojek in Chrissiesmeer 36 sakke vullis uit die dorp se asdromme verwyder en AfriForum se Centurion-buurtspan het verlede maand talle skoonmaakprojekte aangepak waartydens  ongeveer 37 800 m2 se gras gesny en 5 900 kg se vullis weggooi is.

AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-tak het in September hul volhoubare skoonmaakprojek voortgesit.

In Orania het AfriForum se Bo-Karoo-tak 62 brandkrane geoudit en hul seëls vervang. Dis ’n belangrike stap om die dorp se brandbestrydingsvermoë te versterk.

AfriForum se Lichtenburg-tak het in September 290 sakkies teer, drie ton warm teer en 300 liter bitumen gebruik om 284 slaggate te herstel.

Soortgelyke plasings