|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se takke het oudergewoonte ’n besige week agter die rug. Dié burgerregteorganisasie se privaatvervolgingseenheid het ook gehelp om geregtigheid te laat geskied bykans drie jaar ná Patrick Jewell deur ’n minderjarige doodgery is.

Kgaugelo Masenya (19) is tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis wat hy onder huisarres sal deurbring. Dit volg ná hy as minderjarige in 2021 vir Patrick Jewell voor sy huis raakgery het. Jewell het twee weke later aan sy beserings beswyk. Jewell se dogter Jacky het AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader ná die saak by die polisie byna geen vordering getoon het nie. Sy sê sy is dankbaar die saak is nou afgehandel, maar voel Masenya se straf kon meer gewees het. Sy het die eenheid ook vir hul hulp bedank.

Jacky Jewell met ’n foto van haar oorlede pa Patrick.

AfriForum het vandeesweek die instelling van vlak1-waterbeperkings in Pretoria bevraagteken aangesien die Tshwane-metro dreig om huishoudings wat meer as hul kwota water gebruik, se toevoer te sny. “Almal is bewus van die waterkrisis wat dreig en elke inwoner in die Tshwane-metro moet water verantwoordelik gebruik. Die inwoners kan egter nie oor die vingers getik word as daar nie daadwerklike stappe gedoen word om al die lekkasies te herstel en onwettige koppelings te identifiseer nie,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Die AfriForum-tak in Thabazimbi het in samewerking met plaaslike gemeenskapslede die waterpyp wat na die reservoirs lei, herstel. Dié waterpyp strek oor ’n totale afstand van 7,8 km en het meer as nege lekkasies gehad. Hierdie lekkasies het gelei tot watertekorte wat die inwoners van Thabazimbi dae aaneen sonder water gelaat het.

Awie Krog is as AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar aangewys en Danielle de Villiers se The Fun Room as Onderneming van die Jaar. Krog is die eienaar van Craft Braai, ’n onderneming wat tydens die Covid-19 begin is nadat hy afgelê is. Hierdie onderneming verkoop  braaisakkies waarin tot maalvleis op die braaivuur gaargemaak kan word. The Fun Room is ’n veilige speelplek vir kinders in Pretoria, waar ouers ook rustig kan sit en eet terwyl die kinders speel.

Awie Krog is as AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar aangewys.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het die afgelope week meer as 1 400 leerders in die Wes-Kaap oor die gevare van boeliegedrag toegespreek. Die Carl Schreve Morawies Primêre Skool, Groenvlei Primêre Skool, Hoërskool- en Laerskool Aurora, Laerskool Dirkie Uys en Kalksteenfontein Primêre Skool is onder meer besoek om die leerders te help om boeliegedrag te identifiseer en hok te slaan.

StudentePlein se debatspan het die afgelope naweek met die louere weggestap by die nasionale finaal van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente. Hulle het om dié titel deelgeneem teen die span van die Noordwes-Universiteit (NWU) by Akademia se Leriba-kampus in Pretoria. Die NWU se Pietie Vogel, Jaco Mulder, Johan Jordaan en Estiaan Vorsteras is as naaswenners gekroon.

AfriForum se Tzaneen-tak het padtekens en spoedhobbels voor die Laerskool Tzaneen aangebring en in Nelspruit het die AfriForum-tak 50 sakke vullis tydens ’n skoonmaakaksie verwyder. ’n Buurtspan is ook onlangs in Nelspruit op die been gebring om die tak in staat te stel om selfs meer gedoen te kry. AfriForum se Pretoria-Wes-tak het sportvelde in Danville skoongemaak.

Veiligheid in Kimberley is opgeskerp danksy AfriForum. Die tak in dié dorp het ’n tweede LPR-kamera in gebruik geneem waarmee proaktiewe misdaadvoorkoming moontlik gemaak word. Dié tak het as deel van die organisasie se #OnsDorpOnsVeiligheid-projek onduidelike straatname in dié dorp oorgeverf en 300 penne aan plaaslike polisiebeamptes geskenk.

Die Afrikaner maak só-musiekblyspel se eerste vertoning het vandeesweek in die AfriForum Teater plaasgevind. Hierdie komedie is tot 27 Oktober op die planke. Koop kaartjies by www.afriforumteater.co.za.

Soortgelyke plasings