|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Met die toename in veediefstal en oorgrensmisdaad aan die Lesotho-grens het AfriForum en die familieboerorganisasie Saai Interpol versoek om in te gryp. Dié organisasies het in ’n brief aan Interpol die dringende behoefte aan verbeterde internasionale samewerking beklemtoon om hierdie misdade, wat plaaslike boere ernstig raak, te bekamp.

Die Konstitusionele Hof het vandeesweek direktiewe uitgereik aan die respondente in AfriForum se saak oor die aanstelling van voormalige regter-president John Hlophe in die Regterlike Dienskommissie (RDK). AfriForum voer aan dat Hlophe se aanstelling in die RDK irrasioneel, onregmatig en in stryd met die Nasionale Vergadering se grondwetlike plig is. Hlophe is vroeër deur die einste kommissie skuldig bevind aan oneerlikheid en growwe wangedrag.

Die burgerregteorganisasie weier ook dat die watermafia die land se watersekerheid gyselaar hou. AfriForum en sy veiligheidsnetwerk het reeds begin om noodsaaklike infrastruktuur teen vandale in die Tshwane-metro te beskerm deur dié metro te help om kameras by reservoirs op te rig. Talle vermeende vandale is reeds danksy hierdie kameras aangekeer.

AfriForum het ook gewaarsku dat die vestiging van ’n nuwe staatsbeheerde agentskap wat grootmaatwaterinfrastruktuur moet ontwikkel en bestuur, nie as die regering se topprioriteit geag moet word nie. Die organisasie voer aan dat die swak munisipale bestuur van waterhulpbronne tans die grootste bedreiging vir watersekerheid is en moet daarom eers gepak word alvorens só ’n agentskap op die been gebring word.

Adj.pres. Paul Mashatile het aangekondig dat ’n openbare-privaatvennootskapmodel bewerkstellig moet word om die land se waterkrisis die hoof te bied. AfriForum het vroeër vanjaar reeds ’n skrywe aan Mashatile gestuur met praktiese stappe om die privaat sektor en die burgerlike samelewing te betrek om watervoorsiening en die bestuur daarvan te verbeter.

Die jongste verslag van die ouditeur-generaal (OG) beklemtoon AfriForum se jarelange kommer oor die wanbestuur en gebrek aan kennis wat die bestuur van munisipaliteite betref. Net 13% van die 257 munisipaliteit in die land het skoon oudits vir die 2022/23-boekjaar ontvang.

AfriForum sal ook aan die openbare raadplegingsproses deelneem om die implementering van ’n irrasionele kragtariefverhoging te verhoed en indien die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika besluit om Eskom se aansoek om ’n 36%-tariefverhoging instel, sal die organisasie regstappe doen.

Daar is verder in ’n skrywe aan die voorsitter, uitvoerende hoof en bestuur van die SAUK geëis dat Afrikaanse nuusbulletins terug verskuif sal word na SABC2 en daagliks deurgaans op dieselfde tyd uitgesaai word sonder dat dit met sport of ander geleenthede vervang word.

Altesaam 78 hoërskoolleerders van nege hoërskole in die Vrystaat het aan AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie deelgeneem. Hoërskool Jim Fouché (Gladdebek Gawies) se Chenique Erasmus, Josua Deacon en Eben Sander is die wenners van die junior kategorie. In die senior kategorie het C&N Sekondêre Meisieskool Oranje (#Een(d)) se Cara Conradie, Bea du Toit en Daniëlle Herbst geseëvier.

AfriForum se teenboelieveldtogspan en hul gelukbringer Matteus het 17 laer- en hoërskole in Oudtshoorn en Calitzdorp besoek om hulle meer te leer oor boeliegedrag en selfdood. Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het ook die onderwysers op 20 Augustus toegespreek.

AfriForum se tak in Kuruman het vier LPR-kameras in dié dorp opgerig om misdaad te bekamp.

Die Centurion-tak en inwoners van Pierre van Ryneveld het langs die Pierre van Ryneveld-biblioteek skoongemaak en 2,5 ton vullis weggery.

Soortgelyke plasings