Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits
AfriForum en sy meer as 160 takke landwyd het vandeesweek hard gewerk om munisipale verval teen te werk en om swak dienslewering aan die groot klok te hang.
AfriForum het ’n brief van die Openbare Beskermer (OB) ontvang waarin die OB die burgerregtewaghond inlig dat ’n klag wat AfriForum vroeër vanjaar daar ingedien het aan die Spesiale Ondersoekeenheid oorhandig is vir verdere ondersoek. Dié klag handel oor die beweerde korrupsie, wanbestuur en die misbruik van fondse by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) waarby dr. Blade Nzimande, voormalige minister van Hoër Onderwys, en Ernest Khosa, voormalige voorsitter van NSFAS, betrek is.
Die burgerregteorganisasie het sy jaarlikse vullisterreinouditverslag bekend gestel wat ’n haglike prentjie oor die land se vullisterreine skets. Slegs 27 van die 189 vullisterreine wat geoudit is, het aan 80% of meer van die ouditvereistes voldoen. Geen vullisterrein in die Vrystaat het hierdie oudit geslaag nie.
AfriForum verwelkom Media24 se besluit om die 66 joernaliste wat moontlik hul werk kwyt sou wees met die beoogde sluiting van bekende gedrukte koerante in hul poste behou gaan word.
AfriForum se takke het in Julie deelgeneem aan die organisasie se #VulDieGat-projek om hul onderskeie dorpe se paaie te verbeter. In Vanderbijlpark is meer as 120 sakke teer gebruik, in Welkom is 8,7 ton teer en in Bethlehem 7,7 ton teer gebruik om slaggate te vul. Die Lydenburg-tak het R10 000 aan die Lydenburg/Mashishing-sakekamer geskenk sodat slaggate in Poenstraat herstel kan word. 250 sakkies teer is gebruik om 60 m van dié pad te herstel.
Die Moreletapark-tak in Pretoria se noodwaterpunt, wat skaars ’n week gelede opgerig is, het in een aand meer as 4 300 liter water aan inwoners van dié omgewing verskaf nadat krane droog was weens instandhouding deur Rand Water.
AfriForum se tak in Thabazimbi het met fase twee begin om die reservoirs in Jordaanstraat te herstel nadat inwoners van dié gebied vir vyf jaar al watertekorte ervaar.
AfriForum se Delareyville-tak het ’n brief aan die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit gestuur waarin dié munisipaliteit dringend versoek word om die Henk Joubert-natuurreservaat te omhein. Talle ongelukke het reeds plaasgevind weens wilde diere wat oor die R501 beweeg.
In Kimberley het die AfriForum-tak in samewerking met die Rapportryerbeweging, die Voortrekkers, Landsdiens en lede van die publiek die Burger-monument in Magersfontein skoongemaak.
AfriForum se Benoni-tak het padtekens in die parkeerarea by die polisiekantoor in Daveyton geverf. Hulle het ook gehelp om van dié polisiestasie se voertuie te herstel. Hierdie tak se buurtwag kon danksy hul ANPR-kameras en die hulp van ander rolspelers ’n gesteelde motorfiets en ’n gesteelde Mercedes-Benz terugvind. Drie verdagtes is ook gearresteer.
Die AfriForum-tak in Kathu het 40 liter verf gebruik om padtekens weer duidelik te verf en vullis is ook tydens ’n opknappingsprojek opgetel. Hierdie projekte is saam met plaaslike rolspelers en ondernemings aangepak om die beeld van dié Noord-Kaapse dorp te verbeter.
’n Dringende brief is aan Obakeng Isaacs, die munisipale bestuurder van die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit, gestuur oor die gebrekkige dienslewering in Kakamas, Keimoes en Kenhardt.
Tydens die streekuitdunronde van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie in Tzaneen is Merensky Landbou Akademie (span 1) se Eddie Mostert, Carmé Louw en Lua Streicher as die junior kategorie se wenners aangewys, terwyl dié skool se Carel Volschenk, Chané Gouws en Euné Pohl (span2) as senior wenners aangewys is.
AfriForum se teenboelieveldtogspan het vyf skole in Polokwane en Tzaneen besoek, asook twee skole in Marble Hall om leerders touwys te maak oor boeliegedrag en hoe om dit hok te slaan.