|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het met regstappe begin sodat John Hlophe, voormalige regter-president, se aanstelling by die Regterlike Dienskommissie (RDK) tersyde gestel kan word. Die einste RDK het Hlophe vroeër onbevoeg verklaar om as ’n regter te dien weens sy oneerlikheid en growwe wangedrag. Die burgerregteorganisasie versoek die Konstitusionele Hof om Hlophe se aanstelling as irrasioneel, onregmatig en in stryd met die Nasionale Vergadering se grondwetlike plig te verklaar.

AfriForum het verder ’n dringende vertoë aan Laerskool Mikro se hoof en beheerliggaam gerig om die skool se enkelmedium Afrikaanse taalbeleid te handhaaf nadat dit aan die lig gekom het dat dié skool in Kuilsrivier oorweeg om in 2025 ’n Engelse gr. R-klas in te stel.

AfriForum is van mening dat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se planne vir watersekerheid en die lewering van water- en sanitasiedienste niksseggend gaan wees as dit nie daadwerklike planne insluit om munisipale verspreidingsnetwerke op te knap nie.

Die burgerregteorganisasie het sukses behaal nadat die Vrystaatse DWS hul besluit omgekeer het om die tydelike oordrag van watergebruiklisensies op grond van ras af te keur. AfriForum het vroeër vandeesmaand sy regspan opdrag gegee om ’n hersieningsaansoek te bring ná die DWS geweier het om die oordrag van die watergebruikslisensie van ’n swart boer na ’n wit boer toe te staan aangesien die ontvanger van die waterregte nie aan sekere rasgebaseerde kriteria voldoen het nie.

AfriForum het Vaal Central Water (VCW) met regstappe gedreig nadat dit aan die lig gekom het dat die VCW watervoorsiening na die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit wil verminder aangesien dié munisipaliteit versuim om sy rekening te vereffen. AfriForum is van mening dat die waterbesnoeiings eerder die inwoners gaan straf as die munisipaliteit.

Danksy AfriForum se druk gaan twee groot lekke op die hooftoevoerlyn van Viljoenskroon se watersuiweringswerke na die reservoir eindelik herstel word. Inwoners van dié dorp het hierdie lekke herhaaldelik by die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit aangemeld sonder dat die munisipaliteit die herstelwerk gaan doen het.

’n Dringende brief is ook aan die Moqhaka-munisipaliteit gestuur oor rou riool wat bykans 20 km van ’n stukkende pompstasie af in die Valsrivier in Kroonstad invloei. Die organisasie het in sy brief geëis dat die rioolpompstasie herstel en opgegradeer word om toekomstige besoedeling te voorkom en dat die watergehalte in die Valsrivier gereeld gemoniteer word.

Altesaam 80 slaggate is by die T-aansluiting by Van Collerstraat en Eerstelaan in Parys gevul. Die plaaslike AfriForum-tak het ongeveer R9 000 bestee om hierdie pad se slaggate te verminder. In Port Elizabeth het die AfriForum-tak reeds 1,5 ton teer gebruik om slaggate in Sherwood te vul.

Danksy die ruim skenking wat AfriForum se Lydenburg-tak die afgelope nege maande van die Lydenburg/Mashishing Sakekamer ontvang het, kon dié plaaslike AfriForum-tak voortgaan met hul verskeie projekte. Hierdie skenking is onlangs gebruik om die gras in Voortrekkerstraat te sny en om die rommel te verwyder.

Die AfriForum-tak in Centurion se buurtspan het saam met die Kloofsig Huiseienaarsvereniging gewerk om ongeveer 3 600 m2 te ontbos en skoon te maak.

Die AfriForum-tak in Bronkhorstspruit het die gebied agter Diamant- en Goudpark skoongemaak. 23 sakke tuinafval en vullis, asook ’n bakkievrag gesnoeide takke is weggery.

AfriForum se Albertinia-plaaswag en Riversdal-buurtwag het saam met die polisie in Heidelberg en verskeie veiligheidsrolspelers ’n massapatrollie in dié dorp aangepak. Altesaam 13 mense is tydens die patrollie deursoek en die polisie het beslag gelê op skerp voorwerpe.

AfriForum se brandspan in Germiston het in samewerking met privaat veiligheidsmaatskappye op ’n huisbrand gereageer en verhoed dat die huis heeltemal vernietig word.

Die teenboelieveldtogspan het die meer as 500 leerders aan die Lord Milner School in Settlers, Limpopo, besoek om hulle bewus te maak van afknouery en boeliegedrag.

Tydens die streeksuitdunne van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie in die Wes-Kaap het Hoërskool Durbanville se junior span en Paul Roos Gimnasium se senior span deurgedring na die nasionale finaal wat in Oktober in Pretoria sal plaasvind.

Soortgelyke plasings