|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek stem dik gemaak teen die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (beter bekend as die BELA-wetsontwerp) en die swak dienslewering van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit.

AfriForum Jeug het die afgelope week na die Uniegebou opgeruk om beswaar te maak teen die BELA-wet. ’n Memorandum wat aan president Cyril Ramaphosa gerig is, is aan een van sy verteenwoordigers oorhandig. Volgens AfriForum Jeug herinner die BELA-wet aan die Britse owerhede se optrede tydens die Anglo-Boereoorlog toe kinders verneder is as hulle Afrikaans in skole gepraat het.

Charné Mostert (veldtogbeampte by AfriForum) en Louis Boshoff (woordvoerder van AfriForum Jeug)

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het die wysigings wat wel aan die BELA-wet aangebring is as woordgimnastiek bestempel. Sy wys daarop dat finale besluitneming oor belangrike aspekte by ’n skool insluitend taalbeleid steeds in die hande van ’n amptenaar sal lê en dit steeds ʼn bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse skole sal inhou.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake

In Parys het die AfriForum-tak en lede van Save Ngwathe ʼn “begrafnis” vir dienslewering voor die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se kantore in dié dorp gehou. Hierdie dorp en ander wat ook deur dié munisipaliteit van dienste voorsien word gaan gebuk onder wydverspreide probleme waarvan watervoorsiening en kragonderbrekings van die ergste is. Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, het verduidelik dat dienslewering begrawe word aangesien daar nie meer skoon, lopende water, elektrisiteit of ordentlike paaie in dié dorp is nie.

AfriForum is gereed om te help om die dreigende waterkrisis in die land te pak. Dié burgerregteorganisasie doen ’n beroep op organisasies, ingenieurs, spesialiste en rolspelers betrokke by alle aspekte van waterbestuur om op die burgerregtewaghond se Waterkrisisportaal te registreer om sodoende deel van die oplossing te word.

Registrasies op AfriForum se Waterkrisisportaal is nou oop. Besoek www.waterkrisis.co.za vir meer inligting of om op die databasis te registreer.

Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake

AfriForum se Heilbron-tak het ’n noodwaterpunt met 5 000 liter kapasiteit opgerig. Toegang tot skoon water was ook al in hierdie dorp ’n uitdaging en dus het die tak besluit om hierdie waterpunt op te rig. Dié tak wil graag nog noodwaterpunte oprig, maar sal donasies vanuit die gemeenskap nodig hê om dit te kan doen. Inwoners wat bereid is om boorgate hiervoor beskikbaar te stel kan vir Gerrie Muller, die takvoorsitter, skakel by 083 620 7018.

AfriForum se Heilbron-tak het ’n noodwaterpunt in die dorp opgerig.

In Nelspruit het die AfriForum-buurtwag voertuigradio’s en paneelbordkameras aangeskaf om hul taak makliker te maak. Die Centurion-tak se buurtwag het opleiding in basiese brandbestryding ontvang en 19 buurtwaglede in die Suidstreek het protospan opleiding ondergaan wat hierdie lede sal help om veiligheid in hul dorpe te verskerp.

AfriForum se teenboeliespan het die Vaal Triangle Academy in Vanderbijlpark besoek waar ’n praatjie aangebied is oor die gevare wat boeliegedrag inhou. Leerders is toegerus met vaardighede wat hulle sal help om boeliegedrag te identifiseer en hok te slaan.

“Die een groot les wat kinders in die stryd teen boeliegedrag moet leer, is om saam te staan,” verduidelik Leandie Bräsler, bestuurder van Jeugleierskap by AfriForum. “Boelies floreer op slagoffers wat alleen en magteloos voel. Kinders kan egter hulle mag herwin en opstaan teen boelies wanneer hulle maats en ondersteunende volwassenes het wat saam met hulle kan staan.”

Soortgelyke plasings