Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits
AfriForum het vandeesweek die stryd vir Afrikaanse skole en moedertaal onderrig voortgesit met ’n voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die sogenaamde BELA-wetsontwerp). Dié burgerregtewaghond het ook ’n boek uitgegee oor die besonderse vriendskap tussen Afrikaners en Hongare.
Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys, het in Kaapstad ’n mondelinge voorlegging oor die BELA-wet gelewer by die laaste geleentheid wat die publiek gehad het om aan die Nasionale Raad van Provinsies se openbare deelname deel te neem. Müller het in haar voorlegging beklemtoon dat die BELA-wet nie die probleme wat tans in openbare skole ondervind word sal oplos nie, maar eerder bestaande knelpunte sal vererger.
AfriForum het vandeesweek ’n boek bekendgestel wat die besonderse vriendskap tussen Afrikaners en Hongare in oënskou neem. Verhoudinge tussen Afrikaners en Hongare, 1652–2023, deur Ilze Nieuwoudt, is in Afrikaans en Engels beskikbaar. Nieuwoudt sê daar is baie raakpunte in die geskiedenis van Afrikaners en Hongare waarvan baie mense nie bewus is nie. Daar was byvoorbeeld ten minste 25 Hongare wat in die Anglo-Boereoorlog geveg het en daar was omtrent 1 500 Hongare wat ná die revolusie in hul land in 1956 na Suid-Afrika verhuis het waar Afrikaner-gesinne hulle gehelp het om ’n lewe in Suid-Afrika te skep.
Kgaugelo Masenya (19) het hierdie week vir die eerste keer in die hof verskyn in ’n saak waar hy op ’n klag van strafbare manslag tereg staan. Masenya was byna drie jaar gelede in ’n botsing betrokke wat die lewe van Patrick Jewell geëis het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid ondersteun Jewell se dogter Jacky in hierdie saak.
Die blogger Bernice Schutte het die afgelope skoolvakansie saam met AfriForum se teenboelieveldtogspan aan die Taai-Meraai-vakansieprogram van Solidariteit Helpende Hand se Pretoria-Oos-streek deelgeneem. Hier is talle slim planne en prettige oplossings gebied vir die probleme wat graad 7-dogters moet oorkom.
Keimoes se bekende waterwiel is terug op sy plek danksy die optrede van AfriForum se Groot-oog-buurtwag. Dié wiel het van sy stellasie losgekom en in die kanaal beland. Kobus Pool, een van die buurtwaglede wat op die waterwiel afgekom het, het besluit om self werk daarvan te maak en die wiel was dieselfde dag weer op sy plek.
AfriForum se Delportshoop-tak het die begraafplaas in die dorp opgeknap. Plantegroei om grafstene is gesnoei en rommel is met die hulp van die gemeenskap weggery. AfriForum se Heilbron-tak het die gholfbaan se trekkergrassnyer geleen waarmee verskeie middelmanne gesny is en om die Riemland-museum skoongemaak is.