|

Flukse vervolging van bekende blogskrywer onthul NVG se dubbele standaarde

Drie maande nadat ’n bekende blogskrywer, Musa Khawula, lasterlike opmerkings oor die sakeman Ze Khumalo gemaak het, is hy in hegtenis geneem en van crimen injuria aangekla omdat hy die sakeman “se waardigheid aangetas en beskadig” het. Tog, 18 maande nadat drie jongmense soortgelyke aanklagte teen die TikTok-gebruiker Njabulo Madlanga aanhangig gemaak het, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nog nie eens besluit of sy vervolg gaan word nie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Reece Lopes, Milan Kruijer en Jude Fraser-Grant en beoog om Madlanga privaat te vervolg indien die staat weier om dit te doen. Die eenheid het in ’n skrywe aan adv. Andrew Chauke, direkteur van openbare vervolging (DOV), sy kommer uitgespreek oor wat blyk ’n dubbel standaard te wees en om te versoek dat hy ingryp om te verseker dat vervolging ingestel word.

Adv. Chauke het binne ’n dag ná ontvangs van die eenheid se brief aangedui dat ’n senior advokaat aangewys is om aan die saak aandag te geen en dienooreenkomstig te reageer. Die eenheid het in Junie en November 2024 aan adv. Chauke geskryf. Alhoewel die DOV vinnig en positief op die korrespondensie gereageer het, deur die aanklaer in beheer van die saak opdrag te gee om tot ’n besluit te kom, het dit nie gebeur nie.

Die drie vriende het in Augustus 2023 ’n saak van crimen injuria teen Madlanga aanhangig gemaak nadat sy glo vals en skadelike bewerings van rassisme in ’n reeks Tik-Tok-plasings teen die vriende gemaak het. Een van die plasings is meer as twee miljoen keer op die platform gekyk. In Oktober 2023 het die privaatvervolgingseenheid daarin geslaag om ’n beskermingsbevel teen Madlanga te bekom, wat haar verbied het om die vriende verder te teister of die hulp van ander in te roep om die klaers te teister. Die eenheid het voorheen in die openbaar verklaar dat valse bewerings van rassisme net so ernstig hanteer moet word soos bona fide-bewerings van hierdie soort diskriminasie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het adv. Chauke daarop gewys dat die besluit of vervolging ingestel gaan word, nie vertraag word deur die kompleksiteit van die saak nie, maar weens onbekende redes wat niks met die geldigheid van die vervolging te doen het nie. “Die NVG se mediaverklaring op 14 Januarie 2025 oor die inhegtenisneming en vervolging van die sogenaamde ‘sosialemediapersoonlikheid’, Musa Khawula, het die eenheid oortuig dat ons kliënte se saak verydel word deur oorwegings wat nie met die feite van die saak verband hou nie.

“Luidens die NVG se verklaring word Khawula daarvan aangekla dat hy tussen 10 en 12 Oktober verlede jaar ‘afbrekende kommentaar op sy sosialemediaplatform, wat talle aanhangers het, geplaas het, met die beweerde bedoeling om die sakeman Ze Nxumalo se waardigheid aan te tas en te beskadig’. Die feite van beide sake stem opvallend ooreen, maar 18 maande nadat ons kliënte hul kriminele klagte ingedien en ’n beskermingsbevel teen die persoon bekom het, het die aanklaer skynbaar steeds versuim om ’n besluit oor vervolging te neem.

“Moet ons aanvaar dat slegs prominente individue, wat in een of ander manier bekendheid verwerf het, geregtigheid verdien wanneer hul waardigheid en goeie naam deur sosialemediapersoonlikhede beswadder word? Dit versterk die publiek se persepsie van ’n ongelyke regstelsel en erodeer die publiek se vertroue in ’n NVG wat veronderstel is om sonder vrees, guns of voordeel op te tree,” sluit Nel af.

Die eenheid is hoopvol dat adv. Chauke seker sal maak dat die saak met dieselfde dringendheid en aandag hanteer word wat hy voorheen daaraan gegee het en dat ’n besluit om vervolging binnekort geneem sal word.

Soortgelyke plasings