|

Eskom sit planne voort om sonkragverbruikers te kasty – AfriForum

AfriForum het vandag Eskom se planne om sy prysstruktuur aan te pas om die vaste koste aansienlik te verhoog, bestempel as ’n poging om verbruikers wat eie krag opwek te kasty. Die sogenaamde ontbondeling van die kragvoorsiener se tarief is luidens die konsultasiedokument oor die voorgestelde kleinhandeltariefplan (RTP) wat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) gister vrygestel het, daarop gemik om deursigtigheid te bevorder en te verseker dat verbruikers betaal vir die dienste wat hulle gebruik, insluitende toegang tot Eskom se kragnetwerk.     

Die RTP is nou oopgestel vir openbare deelname. AfriForum sal binnekort sy insette en teenkanting teen die voorgestelde tariefontbondeling, sowel as verskeie ander belangrike kwessies wat in die plan uiteengesit word, aan Nersa voorlê. Die sperdatum vir insette is 17 Desember 2024. Eskom hoop om die RTP teen April 2025 te implementeer.

AfriForum hou vol dat Eskom se planne om die prysstruktuur aan te pas ’n onbillike en aansienlike finansiële implikasie sal inhou vir verbruikers wat van byvoorbeeld sonkrag gebruik maak. Eskom se aansoek behels onder meer dat die lynfooi onder alle verbruikers verdeel sal word, terwyl dit voorheen by die algemene kragtarief ingesluit was. 

Benewens Eskom se plan om meer geld uit sonkragverbruikers te wurg, wil die kragvoorsiener ook veranderinge aan die sogenaamde tyd-van-verbruik-tariewe en -tye (oftewel time-of-use– (TOU)-tariewe en -tye) aanbring. Dié beoogde aanpassing sal opnuut bepaal hoeveel verbruikers op verskillende tye van die dag moet opdok vir kragverbruik. Ander belangrike aanpassings wat ook in Eskom se RTP uiteengesit is, is die herstrukturering van residensiële kragtariewe en voorgestelde hersiening van kortings, insluitende die elektrifiserings- en landelike korting (ERS).

“Die toename in die gebruik van alternatiewe energie in Suid-Afrika spruit nie uit Eskom se uitstekende prestasie nie; inteendeel, hul powere prestasie het verbruikers as’t ware gedwing om alternatiewe vir betroubare kragvoorsiening te implementeer, maar nou wil Eskom die einste verbruikers daarvoor straf,” sê Morné Mostert, hoof van Plaaslikeregeringsake by AfriForum. “Eskom se monopolie en jare lange implementering van ​​beurtkrag het ’n verwoestende impak op die ekonomie gehad en individue en ondernemings moes noodgedwonge ander oplossings vind om hulself teen die kragvoorsiener se mislukkings te beskerm. Die voorgestelde aanpassing in die Eskom-lyntarief kom bloot omdat Eskom sien watter verlies hy ly weens verbruikers se selfdoen-benadering en nou planne probeer beraam om geld te wurg uit verbruikers wat hulself begin bevry van dié monopolie.”

Mostert beklemtoon dat Nersa, as kragreguleerder, ’n verantwoordelikheid het om kragverbruikers te beskerm – veral as Eskom se voortgesette onderprestasie in ag geneem word.

“Verbruikers moet hulle geensins laat flous deur die huidige beurtkragvrye kragvoorsiening nie. Eskom het ’n nalatenskap van ondoeltreffendheid wat nie geïgnoreer mag word nie, en Nersa mag nie toekyk hoe kragverbruikers gestraf word met die onbillike tariewe wat Eskom nou probeer deurvoer nie,” sluit Mostert af.

AfriForum sal binnekort sy kommentaar op die RTP indien en help toesien dat sy lede se bekommernisse oor die voorgestelde aanpassings sowel as die impak wat die aanpassings op verbruikers kan hê, gehoor word.

Soortgelyke plasings