|

Ernstige misbruik van hulpbronne wanneer polisie vuurwapeneienaars teiken onder dekmantel van wapenbeheer, waarsku AfriForum

In plaas daarvan dat die polisie sy aandag toespits op die bedrywighede van geweldsmisdadigers, lyk dit of die polisie gewone landsburgers, veral boere, teiken in ’n tyd waar landelike veiligheid ’n kritieke kwessie in Suid-Afrika is, waarsku AfriForum. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het onlangs ’n boer in die Vrystaat in hegtenis geneem onder die dekmantel van sy “verskerpte pogings om onwettige vuurwapens te verwyder en wapenbeheer te verbeter”. AfriForum beskou dit as ’n ernstige wanaanwending van hulpbronne gegewe dat geweldsmisdaad aanhou toeneem.

Die SAPD het vandeesweek beslag gelê op verskeie vuurwapens en ammunisie by twee Vrystaatse plase, terwyl die boer en eienaar van die vuurwapens in hegtenis geneem is. Die inhegtenisneming van ’n ander boer is moontlik op hande. Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, benadruk die belangrikheid daarvan dat vuurwapeneienaars binne die raamwerk van die wet optree en hul lisensies op datum hou, anders sal die polisie daarop ingestel wees om diegene wie se vuurwapenlisensies dalk verval het, agterna te sit, eerder as om te fokus op die misdadigers wat onwettige vuurwapens gebruik om misdade te pleeg.

Die Konstitusionele Hof het in 2022 beslis dat vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het, toegelaat word om weer aansoek te doen dat dit hernu word. Ten spyte hiervan gebruik die polisie tegniese aspekte as ’n voorwendsel om burgers te kriminaliseer en beslag te lê op vuurwapens wat nie eens met kriminele aktiwiteite verbind word nie. Dit nieteenstaande die feit dat die nuwe minister van Polisie, Senzo Mchunu, onlangs erken het dat 371 polisievuurwapens en meer as 29 000 rondtes ammunisie gedurende die tweede helfte van die 2023/2024-boekjaar verlore geraak of gesteel is.

“In ’n tyd waar die polisie nie vertrou kan word om vuurwapens te beskerm nie en gewelddadige plaasaanvalle en -moorde algemeen is, laat die owerhede boere kwesbaar vir aanvalle deur op die einste middele vir hul verdediging beslag te lê,” sê Broodryk.

Verder is die optrede van die SAPD in kontras met die voorneme van die minister, wat met sy toetrede tot die amp, toegewyd gelyk het om Suid-Afrika se hoë misdaadsyfer te pak. Tog, onder sy leierskap, misluk die polisie steeds klaaglik in die uitvoering van hul primêre plig – om op misdadigers toe te slaan wat die veiligheid van burgers bedreig.

“Byna drie mense word daagliks in die Vrystaat vermoor. Huisrowe waar rowers gewapen is, het boonop met 42% in dieselfde provinsie gestyg, maar steeds mors die SAPD hulpbronne deur hierdie roete te neem,” sê Broodryk.

AfriForum sal voortgaan om die situasie fyn dop te hou. Intussen doen die burgerregteorganisasie ’n beroep op alle vuurwapeneienaars om hul lisensies op datum te kry en dit in ooreenstemming met die wet te berg en gebruik. AfriForum doen ook ’n beroep op die SAPD om eerder sy pogings te vestig op betekenisvolle misdaadvoorkoming en die vervolging van geweldsmisdadigers, veral in die lig van die toenemende bedreigings wat boere en landelike gemeenskappe in die gesig staar.

Vuurwapeneienaars wat onseker is hoe om te werk te gaan om vuurwapenlisensies te hernu kan navrae.veiligheid@afriforum.co.za kontak vir meer inligting.

Soortgelyke plasings