|

Erfenisjuwele 8 – Museum van Honde

In die reeks Erfenisjuwele werp AfriForum lig op erfenisbakens en -projekte in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.

Dit was ’n groot verrassing om te sien dat ’n splinternuwe museum in Julie vanjaar sy deure in Kaapstad geopen het. Dit fokus op daardie vennote wat onlosmaaklik deel van ons gemeenskap se lewens is en sonder wie ’n mens jou moeilik ons bestaan sal kan indink… dit is naamlik die Museum van Honde / Museum of Dogs!

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, gesels met Karel van der Vyver (24). Hy was aanvanklik in Woodridge College in die Oos-Kaap op skool, maar het besluit om sy internasionale Baccalaureas-diploma aan die Lester. B. Pearson College of the Pacific op Vancouver-eiland in Kanada te voltooi. Hy het teruggekeer Stellenbosch toe om regte te studeer, en het sy meestersgraad in regte aan die Universiteite van Stellenbosch en Amsterdam voltooi. Tydens sy studies het hy ook in die Amerikaanse tegnologiewêreld gewerk, maar sy passie vir honde het hom gedwing om sy idee van ’n museum wat aan honde toegewy is, op die been te bring.

Waarom het jy tot die besluit gekom om dit te skep?

Die museum is al vir baie jare in wording. Ek het internskappe by die Joodse Museum in Kaapstad en by Iziko gedoen, wat my belangstelling in museums vir die eerste keer aangewakker het. Ek het natuurlik ook grootgeword met honde, so my lewenslange verhouding met my honde was waarskynlik my eerste inspirasie.

Dit was egter my tannie se stryd met kanker wat my meer laat dink het oor die museum. Sy het tydens haar behandeling by ons gebly saam met haar twee honde. Haar verhouding met haar honde in haar moeilikste tye het my baie laat dink oor die spesiale band tussen mense en hul honde. Nadat sy ongelukkig haar stryd teen kanker verloor het, het een van haar honde by ons agtergebly. Tinkie is dalk die grootste inspirasie vir die museum!

Wanneer het die museum vir die publiek geopen?

Op 27 Julie 2024.

Waar is dit geleë?

Die museum is geleë by Keeromstraat 95, Kaapstad. Dit is een van die oudste geboue in Suid-Afrika, oorspronklik gebruik deur die Kompanjiestuin vanaf ongeveer 1683, insluitend as ’n perdestal. Die gebou is in die vroeë 2000’s opgeknap en het nou ’n baie moderne boonste verdieping, tesame met die pragtige historiese onderste verdieping.

Mense assosieer museums dikwels met die geskiedenis van beroemde mense, oorloë en politieke gebeure. Dalk selfs met kuns. Waarom meen jy is dit nodig om die lewens van gewone mense (en honde!) ook in dié instellings te herdenk?

Almal het ’n storie, mense en honde. Museums fokus dikwels op die groot gebeurtenisse van ons tyd, wat natuurlik baie belangrik is om te herdenk, maar mense se daaglikse lewens moet ook belig word.

Die verhouding met ons honde is een van die kosbaarste verhoudings in baie van ons se lewens, maar dit word nêrens gedenk nie. Die museum verander dit nou.

Dit is baie waar. Mense besef ook nie die invloed wat honde en ander huisdiere op ons lewens en kultuur het nie – ons taal, gebruiksvoorwerpe, tradisies, en dies meer. Terwyl ek navorsing oor die herdenking van Geloftedag gedoen het, was ek verras om te sien dat mense 130 jaar gelede selfs hulle honde na Geloftefeeste saamgeneem het! Honde was dus werklik deel van ons kultuurlewe, soos van alle ander gemeenskappe in die land!

Wanneer mense die museum besoek, wat sal hulle daar aantref?

Die grootste trekpleister is die stories van eienaars, in hul eie woorde, oor hul honde, tesame met voorwerpe wat die stories illustreer.

Daar is ook ’n kort oorsig oor die geskiedenis van honde in Suid-Afrika, ’n foto-uitstalling deur die bekende dierefotograaf Emma O’Brien van Johannesburg, ’n uitstalling van keramiekhonde deur Tania Babb van Kaapstad, stories en foto’s oor Amerikaanse presidente en hul honde, en kortfilms oor honde van regoor die wêreld.

’n “Boek van herinneringe” is ook in die museum beskikbaar waar mense hul stories oor hul honde kan neerskryf. Geskikte stories sal mettertyd by die uitstallings ingesluit word, wat gereeld sal verander. Daar is ook ’n klein geskenkwinkel in die museum.

Wat is tot dusver besoekers aan die museum se reaksie?

Hulle is baie positief. Dit is interessant hoe verskillend mense op die uitstallings reageer. Elke besoeker het ’n spesifieke uitstalling waarmee hulle die meeste assosieer. Baie gesprekke handel oor of dit tyd is om ’n hond aan te skaf, of ’n nuwe hond te kry. Of mense kom na die museum nadat hulle hul hond verloor het.

Dit is ook interessant hoe verskillend almal die besoek benader. Party kom vir ’n romantiese afspraak, terwyl ander dit as ’n gesinsuitstappie sien. Ons kry selfs katliefhebbers!

Beplan julle enige gereelde byeenkomste of programme?

Ons werk tans saam met dierewelsynsorganisasies om hondjies wat beskikbaar is vir aanneming oor naweke by die museum te hê. Ons gaan ook begin om meer skooltoere aan te bied.

Watter advies het jy vir ander mense of groepe wat ook sterk voel oor ‘n aspek van ons kultuurgeskiedenis of ons alledaagse lewens en dit in ’n museum wil bewaar of herdenk?

Kry iets waaroor jy regtig passievol is, want dit is ongelooflike harde werk. Maak ook net seker dat genoeg ander mense ook ’n passie het vir die onderwerp sodat jy besoekers kry. Die belangrikste advies sou wees: Doen iets bietjie anders as waaraan mense gewoond is. Dit kan dalk ’n ongewone onderwerp wees, of dit word op ’n ongewone manier uitgestal. Mense soek altyd na iets ’n bietjie anders.

Kontakbesonderhede:  

Webwerf: museumofdogs.co

Instagram: @museumofdogs_

Epos: hello@museumofdogs.co

Soortgelyke plasings