Erfenisjuwele 2 – Besoek Bethlehem Museum Saterdag op Internasionale Museumdag
In AfriForum se reeks Erfenisjuwele werp ons die lig op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar. In hierdie aflewering besoek ons Bethlehem Museum in die pragtige Vrystaat.
Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, gesels met Maritha Swanepoel wat vertel dat ’n groepie mense wat passievol oor geskiedenis en die bewaring daarvan is, op 21 Maart 2013 bymekaar gekom en “Die Vriende van die Museum Vereniging” gestig het om die Bethlehem Museum Trust behulpsaam te wees. Sy het as “Vriend van die Museum” aangesluit en is ook ’n trustee van die Bethlehem Museum Trust.
Dankie vir die geleentheid om meer omtrent die pragtige museum te wete te kom! Wat is die geskiedenis daarvan?
Die Nederduits Gereformeerde Sendingkerk (slegs die tweede sendingkerk in die Vrystaat) is van 1906 tot 1910 gebou met blou ysterklip en sandsteen afkomstig uit die gruisgroef langsaan. Gemeentes in die Kaapkolonie, die plaaslike boeregemeenskap en gemeentelede het fondse geskenk daarvoor. Nadat ’n nuwe sendingkerk in 1963 in Bohlokong voltooi is, het die stadsraad die ou kerkgebou en terrein waarop dit staan, aangekoop. In 1964 met die vieringe van die honderdjarige bestaansfees van Bethlehem, is dit amptelik as museum in gebruik geneem. Die ideaal was dat dit al die vernaamste taal- en kultuurgroepe van Bethlehem en die omgewing se geskiedenis moet bewaar en hulle kultuurlewe bevorder. Rich Venter was die eerste kurator. Hy het items vir die museum bymekaar gemaak deur met sy DKW van plaas tot plaas te ry. Hy het die artefakte op rekord gestel, alle geskiedkundige besonderhede daaromtrent neergeskryf, dit gemerk en in die museum uitgestal.
Vandag is daar meer geboue op die terrein. Die Riddell-gebou (vernoem na die eerste kleremaker in Bethlehem wat dit as winkel gebruik het) is in die vroeë 1970’s deur die stadsraad aangekoop en met ’n trekker en sleepwa uit die middedorp na die museumterrein verskuif. In 1989, in aanloop tot die dorp se 125 jarige herdenkingsfees, is die museumterrein vergroot en die rooisteengebou, Die Waenhuis, opgerig.
Die terrein, hoofgebou en waenhuis is die munisipaliteit se eiendom.Die artefakte behoort egter aan die Bethlehem Museum Trust wat in 2008 gestig is en dit is dus baie veilig. In ander dorpe het munisipaliteite die artefakte verkoop om hul skuld te delg.
Strukture wat deur die trust op die terrein opgerig is, byvoorbeeld die kombuis en ablusiegebou, bekend as Die Stoep, asook die staalstruktuur wat as kultuursentrum gebruik gaan word, is ook die trust se eiendom.
Wat is die tema of fokus van die museum?
Dit is “Waar ons die toekoms van ons verlede verseker”. Ons fokus op die multikulturele leefstyl van die voorgeslagte en is toeganklik vir alle kulture.
In 2016 het die trustees, vriende en ander vrywilligers, met minimale fondse tot hul beskikking die museum laat verf, asook die dak en vloere herstel. Met die hulp van kundige persone van die Nasionale Museum in Pretoria en die Oorlogsmuseum in Bloemfontein is die museum in temas ingedeel, byvoorbeeld militêre geskiedenis, tekstiele en kinders. Temakurators (almal vrywilligers) is aangewys en ’n digitale stelsel is geïmplementeer. Inventarislyste is vir elke tema saamgestel en elke temakurator het ’n lys van alle artefakte in hul afdeling gekry om kontrole te verseker.
Waaroor is die besoekers gewoonlik die meeste verras of opgewonde as hulle die museum besoek?
Die artefakte wat so goed bewaar word, verras hulle telkens. Die indrukwekkende klerevertoonkas met geronde glaspanele (wat in 1903 ingevoer is) is byvoorbeeld vir 77 jaar in die “James T Strapp, Draper, Outfitter”-winkel gebruik. Die Strapp-familie het dit aan die museum geskenk toe die winkel in 1980 gesluit het. Onder die militêre tema word items van die verskillende oorloë, soos items wat gemaak is deur die krygsgevangenes in Ceylon, asook van die Suid-Afrikaanse Weermag tot 1994 en die ontbinde kommando uitgestal. Bethlehem Museum is verder in besit van ’n volledige uitstalling van geraamde foto’s wat strek van die eerste dorpsbestuur vanaf 1876 tot die munisipale burgemeesters in 1994.
Die rytuie is ook altyd ’n groot verrassing en sluit ’n kakebeenveerwa van 1876, kapkar van 1910, lykswa wat in 1904 in Thaba Nchu deur die Bethlehem Stadsraad gekoop is, en 1949 John Deere-trekker in. Die 1949 Mack-brandweerwa is pragtig gerestoureer en word jaarliks gebruik om Kersvader te vervoer en geskenke af te lewer. Dit is altyd ’n groot opgewondenheid vir die kinders en almal wat betrokke is.
Op ’n ligter noot: Tydens die uitsorteer van die artefakte was daar ’n koperitem wat as “ghriespomp” beskryf is. Een van die Vriende, Septimus de Klerk, het dit bekyk. Hy sê toe dat dit nie ’n ghriespomp is waarmee jy ’n kar of trekker “ghries” nie, maar dat dit wel ’n ghriespomp van die een of ander aard is. Iets waarmee ’n mens “geghries” word, naamlik ’n enemaspuit. Google het bevestig dat Septimus korrek is!
Daar is nog baie meer interessante artefakte wat by die museum te sien is en die gemeenskap word genooi om dit eerstehands te kom beleef.
Vertel ons meer oor die trustees en Vriende se werksaamhede?
Almal werk as ’n eenheid saam aan gemeenskapsprojekte. Saam met die trustees verrig die lede as vrywilligers ’n diens om die museum skoon te hou, fondse te genereer, artefakte te versamel, uitstallings te orden en fasiliteite te verbeter. Hulle neem diensbeurte om besoekers by die museum te ontvang en toere aan te bied. Hulle is ook aktief betrokke by die bemarking van die museum in plaaslike koerante, by radiostasies en op sosiale media.
Mense van sover as Pretoria, Paarl, Wellington en selfs uit Engeland wat voorheen ’n verbintenis met Bethlehem gehad het, word deur passievolle vrywilligers in hul soeke na die geskiedenis van hul voorgeslagte gehelp. Palm Maree en Erika van Eeden is gewoonlik diegene wat hiermee hand bysit.
Bethlehem Museum is nie net ’n bewaarplek vir geskiedenis nie. Ek glo dit is ook ’n volwaardige gemeenskapsentrum. Oor watter fasiliteite beskik julle en wie gebruik dit tans, of mag daarvan gebruik maak?
Daar word nou saamgewerk met al die kultuurverenigings in Bethlehem. Voordat die Riddell-gebou uitverhuur kon word, moes ’n kombuis en badkamers aangebou word. In 2019/2020 is dit met die hulp van borge en donasies gedoen. Dié gebou dien tans as Die Stasiekafee, wat vir funksies gebruik en uitverhuur word. Kultuurorganisasies soos die Rapportryers, ATKV, Moths, Maluti Motorklub, dames van die VLU, inwoners van aftreeoorde en kerke huur dit gereeld om vergaderings en klein funksies daar aan te bied. Die Bethlehem Round Table het in 2023 die Waenhuis gehuur om ’n internasionale funksie daar te hou. Daar word ook gereeld onderlinge kuiers op die terrein gehou soos ’n bring-en-braai om net lekker gedagtes uit te ruil en te sosialiseer.
In Januarie 2024 het ’n groep Japanese toeriste en hul internasionale toergids die museum besoek. Hulle kon nie uitgepraat raak oor artikels wat hulle herken het as items wat ook deur hulle gebruik word, veral die porseleinware, nie.
Vandalisme en die beskadiging van historiese geboue en begraafplase in Bethlehem (veral die Britse Oorlogsbegraafplaas waar die ysterkruise gereeld gesteel is) het begin handuit ruk. Daar is kontak gemaak met die “Commonwealth War Graves Commision” en die “Heritage Association of South Africa”. Dit was net nie moontlik vir diegene wat by die museum betrokke is om dit ook nog te hanteer nie en in November 2019 is die Bethlehem Erfenis Vereniging dus gestig om daaraan aandag te gee.
In 2023 is ’n hele sandsteenhuis en waenhuis se materiaal aan die museum geskenk. Daar was soliede houtbalke, vloere, vensters, deure en sinkplate. Die geboue is afgebreek en vir veilige bewaring vervoer. Die sinkplate is gebruik om ’n stoep voor die waenhuis te bou om die ossewaens te berg. Dit kan ook vir funksies gebruik word. Die sandstene en houtbalke gaan gebruik word om die staalkonstruksie, wat in 2020 opgerig is, toe te bou om dit sodoende in ’n volwaardige kultuursentrum te omskep.
Het julle enige funksies wat julle jaarliks aanbied en wat die publiek kan bywoon, byvoorbeeld op Internasionale Museumdag, of Erfenisdag?
Besoeke van skoolkinders is baie hoog op die agenda. Op 6 April word die aankoms van Jan van Riebeeck gewoonlik gevier deur ’n glasie sjampanje te klink. Om die Internasionale Museumdag op 18 Mei te vier, bly die museum vir ’n groot gedeelte van die dag oop vir besoekers. Vanjaar is dit op ’n Saterdag en daar gaan ’n bring-en-braai gehou word. Op 25 Mei 2024 bied die Maluti Motorklub weer hul jaarlikse motorskou hier aan. Aangesien 2024 ’n skrikkeljaar is, is daar besluit om op 16 Junie 2024 ’n Vadersdagete aan te bied, in plaas van die jaarlikse Moedersdagete en vir Erfenisdag (24 September 2024) word ’n multi-kulturele feesdag beplan.
AfriForum, die Rapportryers, ATKV en Maluti Motorklub is gereelde borge van ons projekte.
Wat is die uitdagings wat julle het, of wat julle al moes hanteer?
Geen subsidie word van enige owerheid ontvang nie. Diefstal en inbrake het hoogty gevier. Dit was ook nie veilig vir besoekers en werkers nie, want daar is helderoordag by hulle motors ingebreek. Verskeie donasies is ingesamel en so kon ’n kamerastelsel geïnstalleer word. Die oostelike en noordelike gedeeltes van die draadheinings waar die skelms toegang verkry het, kon ook met ’n palissadeheining vervang word en nou is die museum en mense deeglik beveilig.
Die bedrading van die museumgebou is baie oud en skep ’n risiko. Die volgende uitdaging is om genoeg fondse bymekaar te maak om dit te laat herbedraad.
As julle ’n wenslysie kon opstel, wat sou daarop wees?
Die herbedrading van die museumgebou, om ’n stoorkamer aan die waenhuis te bou en ’n vloer en mure vir die kultuursentrum te kry.
As mense historiese voorwerpe of dokumente het wat hulle graag aan julle wil skenk, met wie moet hulle kontak maak?
Skenkings is baie welkom. Skaars items wat nog nie oud genoeg is om as artefakte beskryf te word nie, word ook aanvaar en geberg om later uit te stal. Mense kan met Tertius du Preez of my (Maritha Swanepoel) skakel. Die skenkings word deeglik gedokumenteer, gemerk en beskryf voordat dit uitgestal word.
Hoe kan lede van die publiek nog by julle betrokke raak?
Deur die museum te besoek (die R10-toegangsgeld per persoon maak dit moontlik om die skatte van ons voorgeslagte te bewaar), die Riddell-gebou teen ’n minimale bedrag te huur of as Vriend aan te sluit en as vrywilliger betrokke te raak.
Ten slotte, wat is julle advies aan enigeen wat ’n erfenislandmerk of -terrein wil aanneem en regruk?
As daar nie ’n museum in jou dorp is nie, begin een. Om bewaring te bevorder help Bethlehem Museum graag met inligting om nuwe museums te vestig. Hulp is in 2021 verleen aan die gemeenskap van Paul Roux met die stigting van hul privaat museum. Hulle is ’n baie aktiewe museum wat maandeliks die verlede laat herleef met die gebruik van veteraanmotors, perdekarre, ensovoorts. In April 2024 het ons ook ’n skenking van artefakte aan die Settlers Museum in Limpopo gedoen.
Maritha en al jou medewerkers, ons bedank julle opreg vir die groot taak wat julle met soveel ywer, entoesiasme en sukses verrig! Baie sterkte daarmee, AfriForum bly graag betrokke waar ons kan help met julle werksaamhede.
Kontakbesonderhede: Tertius du Preez (voorsitter) – 082 889 4294; Maritha Swanepoel (sekretaris) – 083 257 5488 of e-pos mswannie42@gmail.com.