Erfenisjuwele 13 – AfriForum se tak in Zeerust
In die reeks Erfenisjuwele werp AfriForum lig op erfenisbakens en -projekte in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar. AfriForum se takke doen wonderlike werk om die erfenisbakens in hulle omgewing te bewaar en in stand te hou.
Tans is Zeerust se tak juis besig met verskeie projekte en ons het by Madelein van der Walt en die res van die span gaan kers opsteek oor hulle werksaamhede. Ons het Madelein die afgelope tyd leer ken as ’n vaardige “erfenisspeurder” wat kosbare inligting oor die dorp se geskiedenis uitsnuffel. Ons waardeer haar hulp met hierdie artikel in die besonder.
Hallo Zeerust-tak, vertel ons bietjie meer oor julleself asseblief?
Ons is ’n tak van AfriForum in Zeerust en alles wat ons doen, is vrywillige arbeid. Ons glo in selfbestuur, omdat ons oortuig is dat selfdoen beter is as om niks te doen nie. Ons glo dat God ons hier geplant het vir ’n spesifieke rede en dat ons werk nie net vir onsself is nie, maar ook vir ons kinders se toekoms. Ons veg vir ons kultuur en die toekoms van ons dorp, asook ons land.
Ons sewe (Pierre van der Walt, Marius Kruger, Madelein van der Walt, Michelle Botha, Chané Kruger, Nadine Pelser en Violet Henning) is net ’n druppel in die emmer. Die jeugspan het ook ’n baie aktiewe rol in ons projekte, en dit is wonderlik om te sien hoe bejaardes in die dorp ook hul hande uitsteek om te help, selfs al is die son warm! Dit is van uiterste belang om te besef dat sonder elke vrywilliger wat saam met ons ’n graaf optel, ons nie sou wees waar ons tans is nie.
Ja, daar is tye wanneer ons mismoedig of negatief voel, maar dit is dan wanneer iemand met ’n bemoedigende woord na vore kom. En dan pak ons weer die volgende taak met opgewondenheid en geesdrif aan … en ons braai!
Vertel ons van Zeerust – wanneer het die dorp tot stand gekom en waar is dit?
Zeerust is geleë in die Ngaka Modiri Molema-distrik van Noordwes. Die dorp het op die plaas Sefatlhane/Sebatlani (wat “stowwerige plek” beteken), tot stand gekom en het ’n ryk geskiedenis. Diederik Jacobus Coetzee het die dorp gestig en dit aanvanklik Coetzee’s Rust genoem. Later is dit tot Zeerust verkort. Dit is amptelik op 18 Maart 1936 tot ’n munisipale dorp verklaar.
Die N4-snelweg loop deur ons dorp, wat dit maklik toeganklik maak. Alhoewel dit as ’n plaasdorp beskou word, kan ons julle verseker dat dit nie klein is nie. Dit is ’n besige area, met Botswana se grensposte naby. Ons dorpie spog met ’n sterk gevestigde toerismebedryf, met een van die hoogtepunte die Madikwe Natuurreservaat wat slegs 90 kilometer van die dorp af is. Natuurlik kan ons ook nie die plaaslike Marico mampoer vergeet nie!
Die mense van ons dorp is uiters gasvry en ons verwelkom julle graag om die dorp te besoek en die unieke karakter daarvan te ervaar. Daar is ’n ou gesegde in ons dorp: “As jy eers van die water geproe het, kom jy altyd terug!”
Watter erfenisbakens is in die omgewing waarby die tak betrokke is?
’n Groepie vrywilligers het op 27 Maart 2021 bymekaar gekom om die Erfenisterrein skoon te maak. Dit was eers ’n gesukkel om toegang tot die terrein te kry, aangesien dit op verlate sportgronde geleë is en die toegangshek heeltemal toegegroei was. Die terrein was in ’n aaklige toestand: boemelaars het daarvan hulle tuiste gemaak, met gras wat hoër as die vrywilligers was. Die plaveisel was toegegroei en besaai met stukkende glasbottels en sakke. Die boemelaars het ook vuur gemaak onder die afdak, wat ’n gedenksteen beskadig het.
Gelukkig is daar vordering gemaak. In Julie 2022 het Izak Snyman ’n hek aan die straat se kant opgesit, wat dit veel makliker maak om toegang tot die terrein te kry. Drop-’n-drom help ons om die terrein skoon te hou, die gras te sny, en te sorg dat die plaveisel nie weer toegroei nie.
Marius Kruger het vir ons met ’n tuisgeboude vuurvegter gehelp om die gras gereeld nat te lei, en nou het ons ’n kraan op die terrein. Ons maak beurtelings die gras nat. In September, tydens Boomplantmaand, het ons ook twee kareebome op die terrein geplant, wat regtig baie mooi groei.
Voor-en-na foto’s is ’n bewys van die harde werk en toewyding wat aan die terrein gespandeer is. Dit is geweldig opwindend om te sien hoe die gras soos ’n mat groei en dat kinders ook nou kaalvoet op die terrein kan baljaar. Dit is eintlik hoe dit moet wees. So dra ons ook ons geskiedenis aan die volgende geslagte oor.
Die Erfenisterrein bevat die Burgergedenkgraf. Die oorspronklike grafstene is in die muur van hierdie monument ingebou. Burgers wat tydens die Anglo-Boereoorlog omgekom het in die Slag van Lichtenburg (3 Maart 1901), die Slag van Buffelshoek (16 Augustus 1901), die Slag van Kleinfontein (24 Oktober 1901), tydens die beleg van Mafeking, asook enkele burgers van Marico en omgewing wat elders omgekom het, is hier herbegrawe.
Verder is hier ook ’n replika van die Groot Trekleier A.H. Potgieter se gedenkbeeld en die gedenknaald vir seuns en dogters van Marico wat tydens die Grensoorlog gesneuwel het.
Vertel ons meer oor die beplande verskuiwing van ’n kanon wat ’n monument is ter nagedagtenis aan mense van Zeerust wat in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog gesneuwel het?
Die navorsing oor die kanon het ons baie persoonlik geraak en was soms moeilik, aangesien ons nie almal oorspronklik van die omgewing af kom nie en die beskikbare inligting en kennis oor die geskiedenis beperk was. Daar was werklik dae wat dit gevoel het asof ons in ’n onophoudelike stryd was om die mense en die stories agter die kanon te verstaan.
Aanvanklik het ons gedink dat die kanon net die mense vereer wat in ons omgewing tydens die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het. Na deeglike navorsing kon ons egter vasstel dat dit mans en vrouens van Zeerust, Slurry en Groot Marico wat hulle lewens tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorlog verloor het, gedenk. Ons kon ook die name van die spesifieke mense opspoor. Hulle grafte is in die ou gedeelte van Zeerust se begraafplaas. Dit was nie maklik om die grafte te vind nie, aangesien die terrein in ’n baie slegte toestand was. Na twee skoonmaaksessies en met die hulp van munisipale werkers, is die begraafplaas egter nou in ’n baie beter en toeganklike toestand. Daar is selfs grafte van soldate wat van Engeland en Nieu-Seeland afkomstig was.
Een graf wat ons besonder diep geraak het, is dié van die jong fietsryer, Philip Ivan Lowne Frost, wat net 17 jaar oud was toe hy in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het. Dit is hartseer om te dink sy hele lewe het nog voor hom gelê.
Met behulp van die afgetrede bibliotekaris, Tannie Ansie Nel, wat ingespring het en ons gehelp het, kon ons die koperplaat wat van die kanon afgesteel is, se bewoording opspoor. Dirk Bloem van die Gunners Association het vir ons die kanon uitgeken – nee, dit was toe nie ’n weeskind kanon nie. Dit is ’n WF3.7″ Howitzer, wat in 1928 vervaardig is. Dit kom van Indië af en is skynbaar ’n bergkanon. Dit was beslis in gebruik, soos wat ’n mens aan die afwerking van die loop kan sien. Daar is min van hierdie kanonne wat nog behoue gebly het en ons wil dit regtig graag hier in Zeerust hou. Die terrein waarop dit staan, is verkoop en word tans ontwikkel. Ons het dus aansoek gedoen om dit ook na die Erfenisterrein te verskuif.
Beplan julle binnekort enige erfenisprojekte waarby mense betrokke kan raak?
Die afgelope drie jaar het ons ons bes gedoen om die terrein in ’n goeie toestand te hou, en ons is ook van plan om ons hande op die begraafplaas te hou.
Marius en Pierre van der Walt koester ’n groot droom vir die Erfenisterrein. Hulle wil graag hê dat dit verdubbel in grootte en uiteindelik ’n ordentlike uitstalling van ons Afrikaners se geskiedenis huisves. Ons het ons oë ook op twee ossewaens wat in Zeerust staan.
Dit sal wonderlik wees as ons Geloftefeeste na die terrein kan bring. Dit is ons kultuur en erfenis, en ons moet elke deel daarvan bewaar.
Wat is van die uitdagings wat julle teenkom en wat is op die tak se wenslysie?
Die goedkeuring vir die verskuiwing van die kanon is nog nie verkry nie, maar sodra ons dit kry, sal ons ’n podium daarvoor moet oprig, verkieslik met ’n dak. Die koste van die restourasie van die kanon en die verskuiwing daarvan sal waarskynlik baie hoog wees.
As ons besluit om die ossewaens ook te verskuif, staar ons dieselfde probleem in die gesig.
Voordat ons enige dienste by die Erfenisterrein kan aanbied, moet daar badkamers opgerig word.
Ons sal ook in die nabye toekoms moet kyk om die sekuriteit by die Erfenisterrein op te skerp. Daar is tans net ’n draadheining om.
Ons benodig altyd hande, toerusting en gif om die begraafplaas te onderhou. As die Here ons met Sy genade seën, sal ons ook graag die beskadigde grafte daar wil herstel.
Wie kan mense kontak as hulle meer oor Zeerust se tak of erfenisbakens wil uitvind?
Dit het onder ons aandag gekom dat daar mense van buite die dorp is wat die terrein wil gaan besoek en foto’s daarvan gaan neem. Hulle was nie bewus daarvan dat ons die terrein onderhou nie, daarom het ons ’n bord opgerig by die Erfenisterrein met kontakbesonderhede op. As iemand toegang tot die terrein wil verkry, kan hulle enige tyd die nommer skakel.
Ons geniet die besoekers vreeslik baie, want hulle vertel ons weer van dinge waarvan ons nie geweet het nie. Dit sluit familielede van oorledenes wat hier begrawe is in – hulle help ons om die “persoon agter die grafsteen” te leer ken.
Ons kontaknommers is: Pierre – 082 569 8564 en Marius – 082 630 0155.
Ten slotte, as ander takke of gemeenskappe ook by ’n terrein, monument of museum in hulle omgewing betrokke wil raak, wat is julle advies asseblief?
Vrywilligers is min, maar dié wat daar is, is daar weens ’n ware passie en egte toewyding. Dit is belangrik om elke oomblik te geniet en te leer van jou omgewing, en om mense te ontmoet wat jy andersins nie sou geken het nie. Wees oop en buigsaam: dinge verloop nie altyd volgens plan nie, maar dit is deel van die leerproses.
Daar is geen lekkerder gevoel as om terug te staan en te kyk na wat julle as tak bereik het nie. Die dinge vat tyd en baie geduld, maar dit is verseker die moeite werd.
As die Zeerust-tak op enige manier kan bydra tot die bewaring van julle dorp se geskiedenis, moet julle nie huiwer om ons te kontak nie.
Met groete van Pierre, Marius, Madelein, Michelle, Chané, Nadine en Violet.
Hartlik dank vir julle sewe se toewyding en harde werk, asook vir hierdie bydrae tot Erfenisjuwele. AfriForum se takke lewer ’n kosbare bydrae tot die bewaring van ons geestelike en stoflike erfenisskatte en julle is ’n inspirerende voorbeeld hiervan. Ons wens julle seën met julle werksaamhede toe en hoop die publiek gaan julle erfenisplanne sterk ondersteun!