Erfenisbewaring se boodskap van hoop
Wanneer AfriForum of ander instansies ’n erfenisbewaringprojek aanpak, is daar dikwels mense wat vra of die hulpbronne wat daarvoor aangewend word, nie elders beter bestee kon word nie. Wat hulle vergeet, is die belangrike rol wat erfenisbakens speel – nie alleen om ons te help anker in ons historiese wortels deur ons aan ons herkoms te herinner nie, maar ook oor die belangrike boodskap van hoop wat daarin te vinde is.
’n Plasing op Facebook het my pas weer daaraan herinner. ’n Beeld van die oorlog in Oekraïne wat baie mense aangryp, is dié van ’n kombuiskas wat verbete vasklou aan die muur van ’n andersins verwoeste woonstelgebou in die stad Borodyanka. Ongeag wat die geopolitiese of ideologiese agtergrond van die oorlog is, is daar iets aan die beeld van die halwe kombuis met die kordaat keramiekhaantjie nog bo-op die kas wat die tragiese gevolge van oorlog vir gewone mense aangrypend duidelik maak.
Volgens die Facebook-blad Kyiv not Kiev is die kas met die toestemming van die eienaar versigtig verwyder, sodat dit, haantjie en al, mettertyd in die Oekraïense Nasionale Museum vir die Rewolusie van Waardigheid uitgestal kan word. In die nabye toekoms gaan dit waarskynlik vir sommige ’n boodskap van woede en wraak dra, maar later, soos alle oorloë al bewys het, sal die hartseer oor die vermorsing van kosbare lewens en die troos oor hoe herlewing altyd op die dood volg al wees wat oorbly. Dit is die boodskap van elke lente, die boodskap van die veerkragtigheid van mense, maar bowenal ook die boodskap van Paasfees en Christus wat vir ons die dood oorwin het sodat daar lewe ná die dood kan wees.
In Februarie het ’n skitterende artikel oor die restourasie van die Notre Dame-katedraal in Parys in National Geographic verskyn. In die artikel word besondere interessante kommentaar deur diegene wat by die restourasieproses betrokke is, geplaas. Dit spreek die debatte aan waarmee restourateerders, argeoloë, historici en ander bewaringskundiges goed vertroud is, naamlik tot watter stadium jy ’n gebou terug restoureer as dit ernstig beskadig is.
Bouwerk aan die Notre Dame het in 1163 begin. ’n Brand in 2019 het groot gedeeltes van die dak en die spitstoring vernietig. Ironies genoeg was ’n haan ook hier betrokke. Daar was naamlik ’n koper haan op die spitstoring. Dit het sowat 60 kilogram geweeg en is ná die brand in die rommel in die katedraal gevind. Met die ineenstorting van die toring is die haan platgedruk. Dit sal voortaan uitgestal word en ’n replika sal gemaak word om weer op die toring te staan.
Juis oor die toring was daar heelwat debatte pas ná die brand. Die vraag was of dit weer heropgerig moes word. Daar was mense wat wou hê dat daar nuut gedink moet word oor die katedraal en dat iets eie aan ons eeu selfs daaraan toegevoeg moes word, eerder as om op die spoor na die verlede terug te loop. Een voorstel was byvoorbeeld dat ’n ligtoring vanaf die dak in die lug op geprojekteer moes word. Uiteindelik is egter besluit om die gebou so ver as moontlik na sy vorm voor die brand in 2019 te herstel. Die argitektoniese historikus, Jean-Michel Leniaud, verduidelik die besluit om ná ’n ramp identies te herbou, as “’n kragtige simboliese daad, ’n katarsis. Dit is die enigste manier waarop gerou kan word. Dit is baie belangrik om te rou.”
Dat dit die enigste manier is, stem ek nie saam nie. Soms dra ruïnes die boodskap ewe sterk oor. Twee voorbeelde in hierdie verband uit die Tweede Wêreldoorlog is die katedraal in Coventry (Engeland) wat in 1940 erg deur ’n Duitse bombardement beskadig is, en die Keiser Wilhelm Gedenkkerk in Berlyn (Duitsland) wat in 1943 deur ’n bomaanval van die Geallieerde Magte verrinneweer is. Beide se ruïnes is beveilig en behou, met ’n kerk daarnaas waar die boodskap van vrede en versoening kragtig uitgebeeld en gepredik word.
In Dresden (Duitsland) is die Frauenkirche ook tydens die Tweede Wêreldoorlog feitlik vernietig. Dit is in die agtiende eeu gebou en is as uitnemende voorbeeld van die Protestantse Barok-boukuns gereken. Vanaf 13 Februarie 1945 het die Geallieerde Magte die bombardement van Dresden begin en uiteindelik 650 000 bomme op die stad laat neergiet. Die kerk het twee dae en nagte van die bombardement deurstaan, maar op 15 Februarie het die koepel uiteindelik ineengestort. Vir jare het die ruïnes as oorlogsgedenkteken bly staan, maar die groot boublokke is sorgvuldig bewaar. Vanaf 1982 is vreedsame protesaksies teen die destydse kommunistiese Oos-Duitse regime daar gehou. Ná die hereniging van Duitsland is besluit om dit te herbou. Van oor die wêreld is bydraes vir die heroprigting gestuur. Dit het meer as 180 miljoen Euro gekos. Die herwonne boumateriaal van die oorspronklike gebou is sover moontlik daarvoor gebruik en die voltooide kerk is op 30 Oktober 2005 heringewy ‒ op die vooraand van Hervormingsdag (31 Oktober). Dit dien tans beide as kerk en simbool van hereniging.
Die herbruik van die oorspronklike boumateriaal is op sigself inspirerend, veral in ons tyd waar herwinning ’n belangrike doelstelling geword het. In aansluiting hierby huldig ’n groep skrynwerkers (bekend as Skrynwerkers sonder Grense) wat by die heroprigting van die Notre Dame in Parys betrokke is, ’n interessante standpunt. Die groep se stigter, François Calame, meen restourasie moet nie net gaan oor herstel van die oorspronklike nie, maar ook oor die bewaring van vaardighede. Deur dieselfde materiaal, gereedskap en tegnieke vir die heropbou te gebruik, bly ’n gebou wat herstel word se unieke aard en boodskap vir die nageslag behoue, glo hy.
In Suid-Afrika sien ons dieselfde entoesiasme en ywer onder die Vriende van Mostert se Meule wat stukkie vir stukkie tot sy eertydse werkende glorie herstel word ná die brand wat dit op 18 April 2021 byna vernietig het. Tans maak Mike Sutton en sy span van Solid Engineering in Grabouw goeie vordering met die vervaardiging van die houtremwiel en lanterntandwiel wat kernonderdele van die meule se maalmeganisme uitmaak. Die meule se webwerf bied gereeld opdaterings oor die vordering met die restourasieprojek en bankbesonderhede vir skenkers.
Oor die restourasie van die Suid-Afrikaanse Parlementsgebou is minder bekend. As ons egter na die bostaande voorbeelde kyk, is die boodskap duidelik dat enige projek van dié aard nie aan owerhede oorgelaat kan word nie, maar ’n hele gemeenskap se betrokkenheid verg om werklik suksesvol te kan wees. Daar is iets besonder heldhaftig en aangrypend in die beeld van ’n gebou wat letterlik uit die as herrys danksy die insette van ’n skare “gewone” mense.
Die restorasie of herbou van erfenisbakens is dus hoegenaamd nie beperk tot ’n landskapverfraaiingsprojek, herdenkingsdaad, of ereskuld aan voorouers nie, maar ook ’n kragtige boodskap aan tydgenote en toekomstige geslagte om te herinner dat dít wat vandag verlore lyk, môre weer met skoonheid en waardigheid kan herrys.