|

Ekurhuleni se R16 miljoen-prestasiebonusse ’n klug, sê AfriForum

Die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit se besluit om sowat R16 miljoen-prestasiebonusse aan personeel uit te betaal, is ’n klap in inwoners van dié munisipale gebied se gesig, meen AfriForum. Terwyl dié metro prestasiebonusse uitdeel, word dienslewering agterweë gelaat.

“Ons het hier te doen met ’n munisipaliteit wat in die gemeenskap se oë misluk het om die mees basiese dienste te lewer, maar tog meen hulle dat prestasiebonusse geregverdig is. Dit is niks minder as ’n klap in die gesig vir die mense van Ekurhuleni wat daagliks sonder betroubare water en elektrisiteit moet oorleef nie,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Terwyl die feesseisoen naderkom, is talle inwoners van Germiston en omliggende gebiede sonder lopende water. In sommige gevalle is water slegs gedurende middernagtelike ure beskikbaar – indien enigsins. Hierdie onaanvaarbare situasie veroorsaak dat gesinne en ondernemings sukkel om voort te bestaan, terwyl die metro-amptenare groot bonusse in hul sakke steek.

“Die swak dienslewering het ’n negatiewe impak op die ekonomie en besigheidsektor. Baie ondernemings trek swaar omdat hulle gereeld sonder elektrisiteit en water moet klaarkom en kan gevolglik nie bonusse aan hul werknemers betaal nie, terwyl die onbevoegde Ekurhuleni-metro prestasiebonusse uitdeel,” voeg Ferreira by.

AfriForum se Germiston-tak beklemtoon dat hierdie krisis ’n verdere refleksie is van ’n diep gewortelde gebrek aan verantwoordbaarheid binne die Ekurhuleni-metro. Gemeenskappe het ’n reg om dienste soos betroubare water- en elektrisiteitsvoorsiening te verwag, maar hierdie prioriteite word klaarblyklik afgeskeep.

“Dit is tyd dat ons as gemeenskappe saamstaan en diegene wat ons vertroue geskend het, aanspreeklik hou. Ons gaan nie stilbly terwyl die mense wat hulle salarisse uit ons sakke kry, ons as inwoners in die steek laat nie. Dienslewering is nie ’n luukse nie – dit is ’n reg,” sluit Ferreira af.

AfriForum sal nie toelaat dat hierdie kwessie onder die mat ingevee word nie en bly verbind tot die belange van sy gemeenskappe deur swak bestuur en wanpraktyke aan die kaak te stel en met alternatiewe oplossings vorendag te kom om dienslewering in die hande van die gemeenskap te plaas.

Raak betrokke by AfriForum se Germiston-tak en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos na germiston@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings