Eenheid begin om rassisme en haatspraak te veroordeel
AfriForum het vandag ’n eenheid teen rassisme en haatspraak in Centurion bekendgestel wat dié vergrype en oortredings in die toekoms aan die groot klok sal hang.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, wat die eenheid gaan lei, sê die burgerregte-organisasie veroordeel alle vorme van rassisme, haatspraak én dubbele standaarde. “Ons navorsing dui daarop dat wit rassisme deurlopend aggressief veroordeel word, terwyl swart rassisme baie keer geïgnoreer of selfs verdedig word.”
Die noodsaaklikheid vir die eenheid is gesien in die lig van ’n toename in rassistiese en haatgedrewe uitsprake wat dikwels op sosiale media en ander platforms gemaak word.
Roets het ook verwys na die omstredenheid wat daar in die land rondom die erkenning en beskerming van minderheidsregte is weens die ANC se houding dat diegene wat daarop aanspraak maak hul eintlik vir die voorsetting van apartheid beywer.
Hy het gewys op die gevare in uitsprake soos dat wit mense in die land “ekonomies dominant” is en gevolglik geteiken moet word om wit heerskappy te ontbloot.
Hy het ook ’n aksieplan vir die eenheid aangekondig. Dit maak voorsiening vir deelname aan gesprekke en ideevorming oor die kwessie, konsekwente veroordeling van rassisme, insameling en ontleding van data, navorsing oor rassisme en haatspraak, siviele litigasie, strafregtelike klagtes, privaat vervolging en internasionale bewusmaking.
Roets het voorts daarop gewys dat AfriForum én die nuwe eenheid vryheid van spraak verdedig en daarom die voorgestelde wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade teenstaan. Dié wetsontwerp is vol gebreke en beperk vryheid van spraak.
Verskeie rolspelers wat die eenheid ondersteun, het ook voorleggings tydens ’n konferensie gemaak.
Dr. Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), het na ’n meningspeiling verwys waarin bevind is dat rassisme nie Suid-Afrikaners se grootste kwelling is nie. Hulle is meer bekommerd oor werkloosheid, korrupsie en swak dienslewering.
Volgens hom wil dit voorkom of beskuldigings van rassisme vir ideologiese oogmerke of om die aandag van beleid- en ander mislukkings af te lei, wel die land se goeie rasseverhoudinge kan ondermyn.
Cronjé meen dat hoewel rasseverhoudinge nog goed is, is daar tog ’n verandering in openbare mening waarvan kennis geneem moet word.
Cronjé sê hoewel huidige probleme rondom ekonomiese groei, werksgeleenthede en onderwys vertroue in die uitwissing van rasse ongelykheid ondermyn, is daar ook ’n meer ontstellende verduideliking naamlik die konstante vloed van rasse retoriek waar daar oproepe vir grootskaalse herverdeling as teenvoeter vir armoede is.
Hy het gesê die instituut is bekommerd oor politici en ander kommentators wat daarop fokus om rasse te verdeel ter wille van politieke of ideologiese gewin.
Rhoda Kadalie, menseregte-aktivis, het verwys na die rol wat politici in die aanblaas van rassisme speel. Volgens haar het faktore soos swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en kaderontplooiing ook tot meer rassisme aanleiding gegee. “Daar is inderwaarheid vandag meer rassewetgewing as wat daar tydens apartheid was.”
Kadalie meen rassisme word deur individue soos pres. Jacob Zuma en die regering as politieke wapen gebruik om hul eie mislukkings te verbloem. “’n Slagoffer-mentaliteit en die aanspraak maak op enigiets wat jou moet toekom op grond van die verlede word vir rassistiese redes ingespan om ander skuldig te laat voel.”
Kadalie meen dit het nie sin om mense vir hul dom uitsprake te straf nie. Opvoeding is nodig om mense se houdings te verander. “Rassisme wat gebruik word om wraak te neem, mense te kriminaliseer, te verneder of bloot net stil te maak, kan rampspoedige gevolge hê. Wat ons nodig het, is robuuste en intellektuele debat en gesprekke oor rassisme sodat dié wapen stomp gemaak kan word.”
Adv. Mark Oppenheimer, spesialis in spraakvryheid en haatspraak, en dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner, het op regsimplikasies en gevolge van rassisme en haatspraak gewys.
Oppenheimer het gesê vryheid van spraak het ’n belangrike rol in ’n demokrasie, terwyl haatspraak die antitese van demokratiese waardes is. Haatspraak moet beveg word om kwesbare burgers teen benadeling en geweld te beskerm.
Volgens Oppenheimer moet daar in wetgewing baie duidelik uiteengesit word presies wat met haatspraak bedoel word. Hy het ook bepaalde voorstelle oor strafmaatreëls wat vir haatspraak oorweeg behoort te word. Dit sluit in die onvoorwaardelike aanbied van verskoning, gemeenskapsdiens of boetes wat opgelê kan word om ’n slagoffer of organisasie wat ’n slagoffer verteenwoordig, te vergoed.
Curlewis sê Suid-Afrika het nog ’n baie lang pad om te stap wat die stryd teen rassisme en haatspraak betref. “Ons sukkel met frustrasies en dilemmas soos dat rassisme nog nie eens as ’n misdaad geklassifiseer is nie. Daarbenewens is mense nog sku om ’n klag hieroor by die polisie in te dien en het hulle ook nie vertroue dat dit tot vervolging en optrede teen oortreders sal lei nie.”
Hy het gesê daar moet ook gevra word of wetgewing die antwoord vir hierdie probleem is en of daar nie ook na alternatiewe benaderings soos onderwys gekyk moet word om oortreders se gedrag te verander nie. “Iemand wat rassistiese uitsprake maak en absoluut niks het om te verloor nie, sal nie vrees om in konflik met die gereg te kom nie. Ons moet by die jeug begin om ’n verskil te maak.”