|

Durban-Wes-tak dien voorstelle vir GOP in by eThekwini-metro

AfriForum se Durban-Wes-tak het hulle voorstelle vir die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan ingedien.

Die tak het hulle uitgespreek oor die ouditeur generaal se bevinding dat daar onmededingende en onregmatige verkryging was by die eThekwini-metro veral ten opsigte van toekennings wat aan familielede gemaak is. Die tak stel voor dat dringende voorsorg in plek gestel moet word ten einde hierdie onreëlmatighede uit die weg te ruim.

Hoewel die metro 8.9% van die munisipale begroting spandeer het aan instandhouding en herstelwerk meen die AfriForum-tak dié persentasie verhoog moet word na 15% veral met die vloedskade in ag genome.

Sowat R4,8 miljard van die munisipale begroting is ook toegeskryf aan vrugtelose en verkwiste uitgawes. Die tak beskou dit as onaanvaarbaar veral omdat hierdie uitgawe in 2021/2022 hoër was as vorige jare.

Rekeninghouers van die eThekwini-metro neem gemiddeld 88 dae om hul rekeninge te vereffen terwyl die metro self gemiddeld 71 dae neem om hul eie rekeninge te betaal. Daarbenewens word 58% van die metro se rekeninge glad nie verhaal nie.

Volgens André Johnson, voorsitter van AfriForum se Durban-Wes-tak, het die metro ’n verpligting teenoor die gemeenskap om te sorg dat die begroting reg aangewend word ten einde aan die gemeenskap se behoeftes te voldoen.

“Ons het ook versoek dat verskeie straatligte in Northdean, Montclair en Woodlands herstel moet word. Voorts moet rioolinfrastruktuur ook herstel en opgegradeer word,” sluit Johnson af.

Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal, meen dat onnodige verkwisting van fondse ’n ernstige impak het op dienslewering, toerisme en die plaaslike ekonomie. “AfriForum se takke in KwaZulu-Natal neem aktief deel aan die GOP-proses en dit is ook nodig dat ons kommentaar lewer op die bevindinge van die ouditeur generaal sodat ons kan verseker dat munisipaliteite hulle verpligtinge nakom. Die voorstelle wat ons indien is geformuleer om dienslewering te verbeter en ons hoop dat die munisipaliteite dit werklik ter harte neem.”

Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van jou naaste AfriForum-tak en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings