Dullstroom-polisiekantoor lyk weer netjies en spog met nuwe ingangsbord
AfriForum se Dullstroom-tak het op Vrydag 3 Mei ’n projek van stapel gestuur waartydens die Dullstroom-polisiekantoor se perseel skoongemaak is. In samewerking met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en Drive Dullstroom’s Destiny, ’n plaaslike gemeenskapsorganisasie wat na die toestand van Dullstroom omsien, is die gras gesny, bossies in die beddings verwyder en vier waentjievragte tuinvullis weggery. Daar is verder ook ’n nuwe bord by die ingang opgerig om dit makliker vir inwoners en toeriste te maak om die polisiekantoor te vind.
Die projek is begin omdat die polisiekantoor se perseel verwaarloos en afgeskeep was. Alhoewel die polisielede hulle bes doen om die perseel in stand te hou, het hulle nie die toerusting om die werk doeltreffend te kan verrig nie. Daarom het AfriForum se Dullstroom-tak besluit om in te spring en die werk te doen.
“Dit is vir ons lekker om hierdie projek te kon begin aangesien dit ’n direkte positiewe invloed op die veiligheid in ons dorp het. Verder kweek dit ook ’n gevoel van trots by die polisielede en die gemeenskap omdat die terrein nou netjies lyk en meer toeganklik is vir lede van die publiek,” sê Stephan Joubert, ’n lid van AfriForum se Dullstroom-tak.
AfriForum se Dullstroom-tak bedank Drive Dullstroom’s Destiny vir hulle hulp gedurende die dag, sowel as kapt. Willie de Waal van die Dullstroom-polisiekantoor wat self kom hande vuil maak het tydens die aksie.
Hierdie AfriForum-tak nooi lede van die publiek uit om deel te word van die tak se projekte om sodoende ook ’n verskil te maak in hul omgewing. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.