| |

Dubbelle gelukskoot vir AfriForum se Bethlehem-tak en -buurtwag

AfriForum se Bethlehem-tak en -buurtwag is Saterdagaand (24 Augustus) tydens ’n toekenningsgeleentheid op dié organisasie se nasionale kongres as AfriForum se beste tak en buurtwag vir die sentraalstreek aangewys.

Die AfriForum-kongres het 22 tot 25 Augustus by die ATKV Klein Kariba buite Bela-Bela in Limpopo plaasgevind. Op die toekenningsaand is AfriForum-takke en -buurtwagte vir hul onbaatsugtige werk in hul gemeenskappe vereer.

Van al AfriForum se 56 takke in die sentraalstreek het die Bethlehem-tak die afgelope drie jaar die beste presteer. Dié tak pak weekliks ’n magdom aksies aan en is voorstanders wanneer dit kom by selfdoen. AfriForum se Bethlehem-tak is ook die enigste tak in die sentraalstreek wat ’n volwaardige buurtspan onder die Pionier-vaandel aangestel het wat weekliks aksies in die dorp dryf.

Die tak presteer nie net op die vlak van selfdoen nie, maar is ook uitstekend in veiligheid.

AfriForum se Bethlehem-buurtwag werk goed saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander veiligheidsorganisasies en ondergaan ook opleiding in onder meer huis-en-haard-beskerming en taktiese skiet en leer hoe om eiendom te benader as daar ’n gevaar in die eiendom is. Hierdie buurtwag bestaan uit vyf protospanlede en 71 aktiewe buurtwaglede wat saans die strate patrolleer. Oor die afgelope drie jaar het die buurtwag al op meer as 300 voorvalle gereageer, waaronder veldbrande en plaasaanvalle. AfriForum se Bethlehem-buurtwag oefen ook een keer per jaar sy gebeurlikheidsplan in en het al meer as 127 arrestasies in hierdie drie jaar uitgevoer.

Op die gebied van selfdoen het die tak ’n waentjie met twee aangestelde Pionier-werkers wat voltyds slaggate in die dorp herstel, skoonmaakprojekte doen en oop velde in stand hou. Die afgelope drie jaar het die buurtspan ongeveer 1 000 ton teer gebruik om slaggate te herstel en 49 000 vierkante meter se gras gesny wat vyf begraafplase in die area insluit. Verder maak hulle ook by die Bethlehem-museum in die dorp skoon en ontblok ook gereeld stormwaterdreine in die verskeie woongebiede.

Die Bethlehem-tak en -buurtwag is waarlik ’n uitblinker in die sentraalstreek en dra by tot gemeenskapsontwikkeling en selfstandigheid.

“Danksy die gemeenskap en sakeondernemings se bereidwilligheid om ons hande te vat en te help, was dit vir die Bethlehem-tak en -buurtwag moontlik om die toekennings te ontvang. Ons is opreg dankbaar daarvoor, asook vir elke AfriForum-lid wat dit moontlik gemaak het,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Juandré Gelderblom, voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak, bedank die gemeenskap vir hul volgehoue ondersteuning met die tak se projekte.
“Hierdie toekenning is ook die gemeenskap s’n, sonder hulle sou ons nie ons werk in die dorp kon verrig nie,” sê Gelderblom.

Ian van Straaten, die Bethlehem-buurtwagleier by AfriForum, voer aan dat die buurtwag gaan voortbou op hul goeie werk. “Ons werk stop nie by die toekenning van Sentraal-buurtwag van die jaar nie. Ons is daartoe toegewyd om aan te hou om ons gemeenskap tot die beste van ons vermoë te beskerm,” sê Van Straaten.

Soortgelyke plasings