|

Dogter vind danksy privaatvervolgingseenheid berusting 3 jaar ná ongeluk pa eis

Patrick Jewell (65) het op 8 Oktober 2021 aan beserings beswyk wat hy tydens ’n ongeluk in Brits in  September 2021 opgedoen het. Sy dogter Jacky kan nou, drie jaar ná sy dood, danksy die hulp van AfriForum se privaatvervolgingseenheid aanbeweeg ná Kgaugelo Masenya (19) verlede week tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis is, wat hy onder huisarres sal deurbring. Hy sal ook vir hierdie tydperk 16 ure gemeenskapsdiens per maand by die Polokwane Provinsiale Hospitaal moet doen.

Hy het in Mei vanjaar skuldig gepleit op klagte van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur.

Masenya was minderjarig en het sonder toestemming met sy pa se voertuig rondgery toe die ongeluk plaasgevind het. Hy het naby Jewell se huis oor ’n stopteken gery sonder om te rem en het toe beheer oor die voertuig verloor. Jewell is reg voor sy eie huis raakgery en het ernstige inwendige beserings opgedoen. Ooggetuies het Masenya voorgekeer toe dit lyk of hy van die toneel wou vlug. Jewell is in Brits in die hospitaal opgeneem, maar is na ’n hospitaal in Pretoria oorgeplaas waar hy later dood is.

“Ek het op die dag van my pa se dood ’n saak by die polisie gemaak, maar behalwe vir die kaptein wat darem probeer help het, was die res van die personeel nie juis hulpvaardig nie. Ek het gou besef die saak geniet nie die nodige aandag nie en as ’n jarelange AfriForum-lid, het ek besluit om ’n e-pos aan die privaatvervolgingseenheid te stuur om te vra of hulle kan help,” sê Jacky.

“Ek het binne minute terugvoer gekry en dieselfde dag reeds ’n oproep van Chris Gouws, senior ondersoeker by die privaatvervolgingseenheid, gekry. Hy het dadelik werk van die saak gemaak en ons het so een keer per week gesels. Dit het gevoel of die regstelsel die bal laat val het met dié saak, maar die privaatvervolgingseenheid het dit weer opgetel.”

Jacky en Patrick Jewell

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê dat die gesloer om sake op te los net daartoe lei dat slagoffers en hul geliefdes se trauma uitgerek word. “Hoewel ons verlig is dat Jacky hierdie proses agter haar kan sit, het die drie jaar wat dit geneem het om hierdie saak te finaliseer vir haar en haar familie addisionele seer besorg. Die gesloer met hierdie saak het ook ’n impak op die beskuldigde gehad, en ons deel Jacky se hoop dat hierdie vonnis vir Masenya ’n les sal wees, dat hy uiteindelik sal grootword en ’n rolmodel vir ander sal wees,” sê Bateman.

Volgens Jacky het Masenya lig daarvan afgekom, maar sy kan ten minste nou die hoofstuk afsluit en aanbeweeg. “Ek skrik nog sommige nagte wakker en dink aan alles wat gebeur het en hoe baie ek my pa mis.”

Sy sê haar pa se laaste woorde aan haar sal haar altyd bybly.

“My pa het gesê ek moet liefde vir almal stuur. Hy het só ’n goeie hart gehad en hy sou enigiemand help. Hy was ’n goeie oupa vir my dogter en hy was my nommer een. Ek mis hom baie. Ek is geweldig dankbaar vir die pad wat die privaatvervolgingseenheid saam met my gestap het en dat hulle ons gehelp het om die saak af te handel sodat ons met ons lewens kan voortgaan.”

Soortgelyke plasings