Dit kos ’n krisis om kragdadigheid te bevestig
Deur Marlene Malan
Dít het my werkgewer, Afrikaans, die afgelope agttien maande (opnuut) aan my bewys.
Nou verwys ek nie na die krisis van onderdrukking en uitrangering, negatiewe etikettering en vernedering wat sy al langer as die afgelope twintig jaar verduur nie. Ek praat van die afgelope agttien maande se COVID-19-pandemie, gepaardgaande inperking en afsondering, werksverliese en ekonomiese desperaatheid.
Op 26 Maart verlede jaar, toe pres. Cyril Ramaphosa die grendeltyd aankondig, was ek en my werkgewer gelukkig al ’n geruime tyd aan die gang op ons eie paadjie van werk en verdien. Ons verhouding was gevestig, ons het mekaar goed verstaan en ek het oor ’n tydperk van amper nege jaar as vryskutwerker geweet dis by háár dat my heil lê. Sy kyk mooi na my.
Ek praat Afrikaans, ek skryf Afrikaanse artikels en berigte, ek vertaal in Afrikaans en ek redigeer en proeflees Afrikaanse tekste. Ek bedryf al ’n geruime tyd ’n tuisboekwinkel op ons erf in die Groot-Karoo en my topverkopers is Afrikaanse fiksie, niefiksie en kinderboeke. Die Leesfees op Prins Albert (tot einde 2019, voor die pandemie) was sowat 70% Afrikaans vanweë die borgskappe uit Afrikaanse geledere en as gevolg van die demografie van die dorp, naamlik 94,6% inwoners hier wie se moedertaal Afrikaans is (en dit geld so te sê vir die hele Karoo). Hierdie twee aspekte speel die belangrikste rol in die saamstel van ’n feesprogram. Gooi daarby die stroom boeke wat sonder ophou in Afrikaans gepubliseer word, en jy het ’n wenresep.
Nou ja, die meeste feeste het gesneuwel en dié geleenthede moes herbedink word. Aanlyn feeste gaan voort, maar net op groot skaal. Op ’n plekkie soos Prins Albert maak jy ander planne om Afrikaans haar teenwoordigheid te laat behou.
Die antwoord: Jy gaan sit en dink … Jy ontleed vraag en aanbod. Dis ’n basiese ekonomiese beginsel waarop die grootste maatskappye gebou word. As jy dít verstaan, floreer jy.
Ek beskik oor die aanbod, naamlik my vaardighede wat ek oor dekades opgebou het rondom Afrikaans. Maar wat van die vraag of behoefte – het dit kleiner geword, of verdwyn? Dit help nie om paniekerig te word nie, het ek besef. Ek moenie net kyk wat ek uit Afrikaans kan put (vraag) nie, ek moet ook bydra (aanbod) om my eie behoefte aan verdienstes te verbeter.
Dit was in hierdie tyd van balanseer en opweeg, van ontleding van voor- en nadele, van die besef dat ek ’n moontlike krisis moet afweer om ’n inkomste te bly verseker, dat my werkgewer my gerusgestel het – en dit in die vorm van ’n vriend en vryskutkollega Hannes Visser, redakteur van Oudtshoorn Courant. “Kom ons begin ’n uitgewery,” sê hy in April verlede jaar, pas nadat ons almal in afsondering en vrees gedompel is … asof dit die mees doodgewone ding op aarde is. So kalm soos om te sê: “Kom ons braai Saterdagaand.”
Ek wou nog wenkbroue lig toe hy vervolg: “Ons praat tog al lankal hiervan. Ons was tot nou toe net te bang.” Maar ons het geweet bangheid moet gebêre word, vrees is verlammend wanneer ’n krisis jou tref. Ons gekombineerde vaardighede wat ons vir “eendag” – aftrede – wou spaar, moet nóú ingespan word. Dit is om verdienstelike boeke uit te gee wat moeilik ’n kans kry by die groot, gevestigde uitgewershuise.
“Wat kan ons verloor?” vra ek hom. “Niks,” sê hy. “Ons moet versigtig wees, wat geldsake en gehalte betref,” sê ek. “Ons was nog altyd,” antwoord hy. “Wat is ons aanbod?” vra ek. “Ons unieke sakemodel,” sê hy. “En ons werkgewer natuurlik,” voeg ek by.
En toe spring ons.
Nou is dit September 2021. Ons landing lyk nie te sleg nie, hoewel ons elke dag nuwe sakevaardighede aanleer. Hannes is die onderhandelaar, ek bly eerder agter die skerms, waar ek op my gelukkigste is. Tydens kantoorure het ons ’n professionele werksverhouding, maar ná werk braai ons twee gesinne dikwels saam.
Op Turksvy Publikasies se lys van boeke wat binne een jaar verskyn het, is drie Afrikaanse digbundels (die vierde verskyn oor ’n maand), drie Afrikaanse kortverhaalbundels, ’n Afrikaanse roman (memoires) wat op Erfenisdag bekendgestel word en vier kinderboeke. Engels, nóg ’n groot werkgewer in Suid-Afrika, het ons ook raakgesien en drie skrywers na ons verwys – en so het ons reeds ’n Engelse digbundel uitgegee; ook drie Engelse kinderboeke en een Engelse motiveringsboekie wat die skrywer in haar werksessies gebruik.
Op ons onmiddellike publikasielys is nóg ’n kinderboek, ’n roman, ’n kortverhaalbundel en ’n digbundel. Ons hoop om al hierdie Afrikaanse boeke voor Kersfees te laat verskyn.
Die krisis van die pandemie het ons gedwing om skeppend – selfs groot – te dink … en dis waarom ons die pandemiedigbundel Maskers en mure met die werk van 142 digters (80 gepubliseerdes, 60 ongepubliseerdes) in Junie vanjaar die lig kon laat sien. Tot groot vreugde van my werkgewer. Maskers en mure het ’n kreatiwiteit van sy eie ontwikkel, want van die verse daarin is deur die musikus en liriekskrywer Frazer Barry (Tribal Echo) getoonset en debuteer op 22 Oktober by die Tuin van Digters in die Breytenbach-sentrum op Wellington.
So stadigaan word Turksvy dus ’n werkskepper.
Intussen bly ek ook besig met eie skryfwerk in die vorm van berigte en artikels. Alles in Afrikaans. In my boekwinkeltjie is Afrikaanse fiksie, niefiksie, kinderboeke en digbundels steeds die topverkopers. Ek kan met alle eerlikheid sê dat ek in my byna dekade lange vryskutloopbaan besiger is as ooit. En dit as gevolg van die goedgunstigheid van my moedertaal. As ’n dag uit 48 ure bestaan het, sou ek die ekstra 24 nuttig kon gebruik.
Een van die grootste voordele wat sy my bied, is dat aftrede en verveling my nooit in die gesig staar nie – solank ek gesond en energiek is. By haar het ek die vryheid gekry om vir my ’n toekoms te bou, want sy het nog nooit na my ouderdom gevra nie – net na vaardighede. Ook om dáár, beskikbaar, te wees met my aanbod wanneer daar iewers ’n vraag ontstaan. Om die waarheid te sê, een van haar prestasievereistes is dat ek eerder moontlike vrae moet antisipeer – dus proaktief wees, nie reaktief nie. Dis hoe wenmaatskappye hul mededingers troef, is haar beleid.
Sy vereis van my om wyd te lees – nie net Afrikaans nie – om altyd nuwe en vars idees na die tafel te bring. Sy vra dikwels na-ure betrokkenheid en ondersteuning buite my werkplek, soos om Afrikaanse boeke beskikbaar te stel aan ons plaaslike biblioteek en nuwe Afrikaanse privaat skool. Haar opdrag is keurig geformuleer, maar besonder dringend: Jy moet dit wat ek jou bied buite die grense van jou studeerkamer uitleef.
Ek moet byhou met veranderende taalreëls en nuwe teksboeke, nuutskeppings, variante en streektaal. Maar ek moet terselfdertyd nooit haar taal- en letterkundegeskiedenis vergeet nie – dus bybly by dit wat reeds geskryf is. ’n Mens kan nie kultureel en ekonomies vooruitboer as jy nie jou eie agtergrond en herkoms deeglik ken en verstaan nie.
My werkgewer het my ’n waardevolle, streng en deeglike ekonomieles geleer: Wat vir die algemene handel geld, geld ook vir haar. Sy is ’n ewe mededingende rolspeler in die ekonomie as enige ander maatskappy en produk. Dit beteken: As jou verkoopplek of afsetgebied verander, pas jy aan; as jou maatskappy op een plek of gebied seerkry, verskuif jy jou handelsgrense. Ook: In krisistye kort jy nie in op reklame nie, jy pas net dit aan wat jy gewoonlik daarop bestee het. Dus: Jy reklameer anders.
Uiteindelik word ekonomiese sukses deur net een maatstaf bepaal: Glo jy in jou maatskappy en sy produkte?
Dan is krisisse die beste ding wat jou en jou werkgewer kan tref om skeppingsvermoë te laat floreer.
Marlene Malan is ‘n vryskutjoernalis, teksredakteur, proefleser en uitgewer – alles in Afrikaans, vir Afrikaans