Dit is tyd om TV-lisensies te skrap ná staat se rekord van wanbetaling aan lig kom, sê AfriForum

Die aankondiging dat staatsdepartemente jare laas hul TV-lisensies betaal het en die SAUK nou reeds nagenoeg R35 miljoen in agterstallige lisensiefooie skuld, is ’n verdere bewys dat dié stelsel ’n formidabele flop is waarin selfs die staat vertroue verloor het en dadelik afgeskaf moet word, meen AfriForum. Die burgerregteorganisasie het vroeër vanjaar reeds ’n beroep op die privatisering van die openbare uitsaaier gedoen. Die beroep is in September by ’n parlementêre voorlegging oor die Wetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie herhaal en AfriForum hou steeds vol dat dit die enigste volhoubare opsie vir die voortbestaan van die SAUK is.

Die nuutste syfers van verbruikers wat nie hul TV-lisensies betaal nie is, luidens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, ’n duidelike teken dat die SAUK vasklou aan sy mislukte operasie- en finansieringsmodel. Volgens die SAUK se jaarverslae het die ontduikingskoers van TV-lisensiefooie vanaf 72% in 2018 toegeneem tot 85,8% in 2023.

Volgens Van Zyl is dit veelseggend dat dit blyk asof die staat nou ook by verbruikers se stille protes teen TV-lisensies aangesluit het. “Die SAUK moet kies of dit gaan sink of swem, terwyl die ondoeltreffende, staatsgesentreerde model met uitgediende TV-lisensies waaraan dit aan vasklou, soos betonblokke om hul enkels die stryd om lewe en dood selfs meer onhaalbaar maak,” sluit Van Zyl af.

Volgens AfriForum het die SAUK nou die geleentheid om die eksistensiële krisis waarin dit dekades lank reeds gedompel is, deur middel van ’n vars benadering, naamlik privatisering, ontsnap, vertroue in kykers en luisteraars te hervestig en die uitsaaier te herposisioneer as ’n moderne en relevante instelling.

Soortgelyke plasings