Dis-Chem-debakel: Ondersteun eerder jou plaaslike apteek as rasgedrewe beleid!
Die verbod op die aanstelling en bevordering van wit mense by Dis-Chem het sedert dit verlede week aan die lig gekom het, wyd kritiek uitgelok. AfriForum veroordeel ook hierdie rassistiese personeelbeleid ten sterkste soos heelparty ander organisasies en politieke partye.
“Dis-Chem is nie die enigste apteek in Suid-Afrika nie. AfriForum spoor daarom sy lede en ondersteuners aan om hul plaaslike gemeenskapsapteke te ondersteun om sodoende hulle geld te laat praat,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.
Die organisasie se aanlyn platform AfriForum Sakenetwerk kan gebruik word om ondernemings – soos apteke – wat in Afrikaans sake doen, te vind en te lys.
’n Herrie het verlede week rondom dié JSE-genoteerde maatskappy losgebars toe dit aan die lig gekom het dat Ivan Saltzman, uitvoerende hoof, in ’n brief ’n moratorium op die aanstelling en bevordering van wit mense geplaas het. Die brief het op sosiale media uitgelek en die uitvoerende bestuur van Dis-Chem met rooi gesigte gelaat. Die maatskappy het intussen Suid-Afrikaners om verskoning gevra vir die “trant” van die brief én vir die feit dat dit verkeerdelik wyd versprei is, maar dit is onduidelik of die moratorium ook teruggetrek is.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die brief op sy sosialemediaplatforms gedeel en aangekondig dat die vakbond met regstappe teen Dis-Chem gaan begin. Ná die memorandum teruggetrek is, het Hermann gesê die vakbond verwelkom dit, maar betreur dat dit ooit gebeur het.
Herman Mashaba, leier van ActionSA, het ook teen die moratorium uitgevaar en gesê Suid-Afrikaners moet op meriete en nie volgens ras aangestel word nie.
Wetgewing vereis van ondernemings om sekere rasteikens te behaal of die risiko te loop om ’n reuseboete opgelê te word.
Solidariteit het reeds op 5 Oktober 2021 ’n klag by die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) ingedien waarin die vakbond aanvoer dat die regering se rassebeleid die IAO se Konvensie 111, wat rassediskriminasie verbied, oortree. Die klag wys ook daarop dat die rassebeleid mense weer volgens ras klassifiseer en nie benadeling regstel nie. Nadat die klag deur die VN aanvaar is, het die VN aangedui dat die regering ingestem het tot ’n mediasieproses.
Dit sal ook die eerste keer wees dat die regering se rassebeleid op internasionale verhoor is.
“Daar moet ’n groter debat gevoer word rakende rassediskriminerendewetgewing en -beleide in Suid-Afrika. Dit is hoogtyd dat hierdie beleide veroordeel en uiteindelik afgeskaf word,” Van Zyl.