Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit skuld Delportshoop-inwoners dringend water
AfriForum eis dat die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit dringend optree om die waterkrisis in Delportshoop te herstel nadat inwoners se krane al vir sowat twee maande lank droog is. Die organisasie versoek dat daar in die tussentyd watertenkwaens aan inwoners beskikbaar gestel word, totdat die probleem opgelos is.
Die waterkrisis kom al van November 2024 nadat ’n kontrakteur se vragmotor ’n waterpyp beskadig het. Hoewel aanvanklike herstelwerk uitgevoer is, word daar beweer dat die skade blokkasies in die pype veroorsaak het, wat gelei het tot onvoldoende waterdruk en – in sommige gevalle – ’n algehele gebrek aan watertoevoer in sekere gebiede. Van die strate wat geraak word, is Kruger, Buys, Bredenkamp, Pretorius en Saamloop.
Inwoners ervaar veral sedert Desember 2024 ernstige ontwrigtings; saans is die waterdruk sterk, terwyl daar geen waterdruk deur die dag is nie. Ten spyte van pogings om die blokkasies op te los, is die krisis – veral in gebiede soos Pretoriusstraat – steeds onopgelos.
In ’n brief wat op 28 Januarie aan die Dikgatlong-munisipaliteit gestuur is, het AfriForum uitgelig dat hierdie voortdurende watertekorte inwoners se grondwetlike reg op toegang tot voldoende water skend soos verskans in artikel 27(1)(b) van die Grondwet, asook die vereistes van die Wet op Waterdienste van 1998.
Boonop is die regering se maandelikse voorsiening van minstens 6 000 liter gratis water per huishouding aan heelwat geaffekteerde huishoudings nie nagekom nie, veral nie aan diegene wat glad nie water het nie.
In die brief versoek AfriForum die munisipaliteit om die watertoevoer onmiddellik te herstel en te verseker dat daar deurlopende waterdruk in alle geaffekteerde gebiede is; om tydelike verligtingsmaatreëls, soos watertenkwaens, aan geaffekteerde huishoudings beskikbaar te stel; en om ’n deeglike assessering uit te voer om toekomstige ontwrigtings te voorkom en om hierdie plan aan AfriForum te kommunikeer.
AfriForum versoek ’n opdatering oor die Dikgatlong-munisipaliteit se aksieplan en tydlyn om die probleem op te los teen 30 Januarie en hoop dat die munisipaliteit spoedig sal optree om verligting vir die geaffekteerde inwoners te bring.
Besoek www.wordlid.co.za om AfriForum se Delportshoop-tak te ondersteun.