|

Die verwoesting van ANC-kaderontplooiing

AfriForum het onlangs tot die Demokratiese Alliansie (DA) se hofsaak teen kaderontplooiing as vriend van die hof toegetree. Die ANC se beleid van kaderontplooiing behels die aanstelling van “kaders”, oftewel partylojaliste, in afdelings van die publieke administrasiesektor waaroor die party mag het. Kaderontplooiing word dus op ’n simbiotiese wyse gebruik om die ANC se mag oor regeringstrukture te behou en tegelyk ANC-kaders te bevoordeel. Dit kom dus vanselfsprekend neer op blatante diskriminasie op grond van politieke affiliasie. Hierdie openlike diskriminasie beteken dat regeringsposte nie op meriete gevul word nie en dat sosiale kohesie ondermyn word deur die boodskap wat uitgestuur word dat sekere mense, in die woorde van George Orwell, “meer gelyk as ander is”.

Die onmeritokratiese aanstelling van staatsamptenare het aanleiding gegee tot die ondergang van die publieke administrasiesektor. Niks illustreer dit op ’n meer verdoemende wyse as die mees onlangse verslag van die ouditeur-generaal waarin meer as 80% van  regeringsdepartemente en -instellings nie skoon oudits verwerf het nie. Voorbeelde van kaderontplooiing se nalatenskap is volop en versprei oor die meeste sleutelregeringsareas.

Die ellendige toestand van Suid-Afrika se vervoerinfrastruktuur het ’n katastrofiese uitwerking op ekonomiese doeltreffendheid en vooruitgang.

Net só bevind die openbare gesondheidsektor hom op sigself in ’n treurige toestand, as gevolg van ernstige wanbestuur en korrupsie. Dit het tot ’n ernstige tekort aan gesondheidswerkers en onaanvaarbare standaarde van mediese sorg gelei. Kaderontplooiing het ’n reuse-aandeel in Suid-Afrika se gebrekkige opvoedingstelsel, wat volgens News24 onlangs tweede laaste op ’n wereldwye ranglys geplaas is.

Die agteruitgang van Suid-Afrika se staatsenergieverskaffer, Eskom, is een van die mees skadelike en kommerwekkende gevolge van kaderontplooiing. Eskom se wanbestuur, in die hande van ANC-kaders, het gelei tot die gereelde implementering van beurtkrag wat die ekonomie na beraming miljarde rande per dag kos. Die werklike koste van beurtkrag oor die laaste jare is egter feitlik onberekenbaar as gevolg van verlore produktiwiteit en die afskrikking van buitelandse beleggers wat dit teweegbring. Só ook is die land se water- en sanitasiegeriewe in ’n klaaglike toestand as gevolg van dekades se wanbestuur. Gevolglik word ernstige watertekorte vir die komende jare voorspel.

Tussen Oktober 2021 en Maart 2022 is ’n gemiddeld van 71 moorde en 121 verkragtings per dag gepleeg.

Kaderontplooiing en die verval van die publieke administrasiesektor speel ook ’n reuserol in die skrikwekkende misdaadvlakke wat Suid-Afrikaanse burgers teister. Tussen Oktober 2021 en Maart 2022 is ’n gemiddeld van 71 moorde en 121 verkragtings per dag gepleeg. Die ANC-regering misluk dus in sy mees basiese plig om landsburgers veilig te hou. Verder het Suid-Afrika reeds vroeg in 2022 ’n werkloosheidkoers van 46,2% bereik, volgens die breë definisie wat mense insluit wat opgegee het om werk te vind. Hierdie astronomiese vlakke van werkloosheid is onmenswaardig en veroorsaak staatsafhanklikheid. Die regering beskou staatsafhanklikheid egter duidelik nie as ’n negatiewe fenomeen nie, aangesien die minister van finansies baie trots tydens die begrotingsrede aangekondig het dat 46% van die landsburgers staatstoelaes ontvang.  

Uit die bogenoemde voorbeelde en statistieke is dit duidelik dat die regering drasties en omvattend sal moet optree om enigsins ’n kans te staan om die land van die naderende afgrond weg te stuur.  Basiese stappe in hierdie rigting behels dat die regering sy inmenging in die private sektor staak, afstand van diskriminerende en ondoeltreffende swart ekonomiese bemagtig doen, die begroting herstruktureer om staatskostes te verminder, en korrupsie en staatskaping aan die kaak stel. So lank as wat kaderontplooiing aan die orde van die dag is, is al hierdie dinge geheel en al onmoontlik.

Wat die ANC-regering se hardnekkige volharding met kaderontplooiing wél beklemtoon, is dat Suid-Afrikaners nie die regering as ’n redder moet beskou nie. Namate die Suid-Afrikaanse staat al hoe verder verval, moet gemeenskappe en die burgerlike samelewing al hoe nouer deur ’n benadering van selfdoen verenig word om sodoende hulself staatsbestand te maak. Dit is die enigste manier om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir die land se mense en toekomstige geslagte te bewerkstellig.

Reiner Duvenage is veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings