Dié stede se krane moontlik stywer toegedraai; AfriForum deel wenke om water te bespaar

AfriForum doen ’n beroep op veral inwoners van Pretoria, Johannesburg en Durban om nie die krane onnodig oop te draai nie. Dié organisasie waarsku van moontlike strenger waterbeperkings wat ingestel kan word as gevolg van watertekorte in dié stede. Pretoria, Johannesburg en Durban gaan reeds gebuk onder vlak 1-waterbeperkings maar indien inwoners nie daaraan gehoor gee nie kan hul krane nóg stywer toegedraai word.

Suid-Afrika se waterkrisis vererger bykans daagliks en word veral deur klimaatsverandering en die toenemende aanvraag na dié noodsaaklike bron van lewe aangedryf. Verder is verouderde infrastruktuur, droogtes, besoedeling en die wanbestuur van munisipaliteite, wat mense moontlik sonder betroubare toegang tot skoon water laat, ook ’n bydraende faktor tot die waterkrisis.

“Water is lewe. Elektrisiteit kan deur sonenergie opgewek word, maar daar is geen alternatief vir water nie. Inwoners kan nie op hul plaaslike munisipaliteit staatmaak om die nodige planne te deel vir wanneer die ramp tref en daar nie meer water is nie. Daarom is dit belangrik dat elke persoon wat water gebruik dit spaarsamig doen en ’n plan in sy huis moet hê vir wanneer Dag Zero moontlik aanbreek,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.

Om inwoners te help, het AfriForum ’n opsommende gids saamgestel oor hoe om water voor en gedurende ’n droogte te bespaar. Die beste is om vooruit te beplan vir ’n droogte. Verder is AfriForum se afdeling vir Omgewingsake besig om druk op munisipaliteite toe te pas om waterverliese waarvoor die munisipaliteit verantwoordelik is – waaronder lekkende waterstelsels, krane en brandkrane – te beperk.

Tydens die watertekorte in die Stad Kaapstad van 2015 tot 2020 het die Kaapstad-stadsraad daarin geslaag om Dag Zero vry te spring. Dit kon gedoen word deur streng waterbeperkings toe te pas, samewerking van inwoners en deur reeds planne te hê vir wanneer ’n waterkrisis opduik en om dié planne suksesvol uit te voer.

Volgens AfriForum moet daar baie meer opleiding en bewustheid in gemeenskappe geskep word om water te bespaar en hoe om voorkomend op te tree in dié verband.

Soortgelyke plasings