Die regering se hernieude aptyt vir hidrobreking laat ’n slegte smaak
Die Suid-Afrikaanse regering het onlangs sy aptyt vir skaliegas-eksplorasie en -ontginning in die Karoo hernu met Gwede Mantashe, die minister van Minerale Hulpbronne en Energie, wat aangekondig het dat grondwerk gedoen is om voort te gaan met die aanlandige ontginning van fossielbrandstowwe in die Karoo.
Die regering beplan om binnekort die moratorium op skaliegas op te hef, terwyl tien blokke aan wal vir olie- en gas-eksplorasie regoor die Karoo opgeveil word. Volgens die Petroleumagentskap van Suid-Afrika (PASA) het sommige stratigrafiese rotskernmonsters wat gedurende 2020 en 2021 geboor is, die teenwoordigheid van beide skaliegas en olie aangedui.
Met verwysing na Suid-Afrika se verbintenisse om na hernubare energiebronne te draai en die land se vinnige energie-oorgangsplan en verbintenisse tot ’n lae-koolstoftoekoms, het Mantashe gesê dat “ons oorgang volhoubaar gaan wees as ons toegang tot olie en gas op ons kus het. Ons gaan nou ’n versoek rig vir voorstelle om daardie gas te ondersoek.”
“Die ontginning van skaliegas in Suid-Afrika se semi-dorre Karoo-streek sal die gebruik van boorwerk en hidrobreking (“fracking”) vereis. Dit is onomwonde in ander lande gedemonstreer dat hierdie waterintensiewe tegnologie ’n hoë openbare gesondheids- en omgewingsrisiko inhou, met bewese gevalle van grondwater- en lugbesoedeling,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum, in reaksie op die onlangse verwikkelinge.
“Hierdie risiko’s en gevolge word bevestig in die Strategiese Omgewingsevaluering (SEA) oor skaliegas, in opdrag van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing en uitgevoer deur die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR).
“Verder het ’n studie in opdrag van die Departement van Wetenskap en Tegnologie en vervaardig deur die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAF), Suid-Afrika se gebrek aan tegniese gereedheid om ’n aanlandige skaliegas-onderneming te ondersteun, beklemtoon. Beide die ASSAF- en SEA-verslae het die behoefte aan omvattende basislynstudies voor enige verkenning uitgelig.
“Op die oomblik is verskeie voorgestelde wetgewende en regulatoriese wysigings met betrekking tot skaliegas-eksplorasie nog in konsepvorm en die bestaande wetgewende raamwerk maak nie voorsiening vir voldoende beskerming van mense en die omgewing nie. Daar blyk verder ’n voortgesette gebrek aan samewerking tussen verskeie staatsdepartemente te wees met betrekking tot byvoorbeeld die Een Omgewingstelsel (OES) vir mynbou, met verskillende departemente wat steeds in silo’s bedrywig is,” sluit De Klerk af.
Jonathan Deal, stigter van die Treasure Karoo Action Group (TKAG), het die regering se optrede gekritiseer deur te sê: “Die minister se stellings is nie net teenstrydig met basiese logika nie maar ook met baie van die regering se eie beleide, planne en internasionale verpligtinge vir ’n vinnige energie-oorgang. Die valse aansprake van rykdom en volhoubare werksgeleenthede vir burgers, tesame met oorbeklemtoonde syfers wat vir potensiële gasreserwes voorgelê word, is oneerlik en die tydsberekening van die minister se kommentaar voor volgende jaar se verkiesings is glad nie verbasend nie. Afgesien van die onvoltooide omgewings-, sosiale, ekonomiese, erfenis- en waterbasislynstudies (wat noodsaaklik is om mynwerkers tot verantwoording te roep) en realisties te wees oor ’n meerjarige tydlyn om eksplorasie te voltooi, sal potensiële gasreserwes in die Karoo niks doen om Suid-Afrika teen Eskom se krisis te beskerm nie.
“Die olifant in die vertrek is sonder twyfel die feit dat die regering konsekwent ’n onvermoë geïllustreer het om mynboubedrywighede doeltreffend te moniteer, te beheer en af te dwing en nog minder kans het om suksesvolle tegniese ondersoeke na tegniese vervolgings in Suid-Afrika se reeds oorbelaste hofstelsel te dryf. Selfs in lande met groter monitering- en implementeringsvermoë, is die petrochemiese industrie in staat om aanspreeklikheid vry te spring deur nie-openbaarmakingsooreenkomste en om van hul diep sakke gebruik te maak wanneer dit kom by regsuitdagings en skikkings. Om bekommernisse oor hierdie algehele sakekultuur binne die Suid-Afrikaanse konteks af te wys, is om die groot en ongerehabiliteerde mynskade aan grond en water in Suid-Afrika af te maak – wat tans duidelik is. Mynbou is buite beheer in Suid-Afrika,” gaan Deal voort.
“Skaliegas-ontginning in die Karoo sal ons nie van beurtkrag bevry nie en dit sal nie in die huise van arm gemeenskappe in kos omgeskakel kan word nie. Ons doen ’n beroep op plaaslike gemeenskappe om burgers te verenig en uit te reik vir inligting en ondersteuning aan waghond- en omgewingsorganisasies wat by skaliegasontginning betrokke is. Ons is baie bekommerd dat skaliegasontginning nog ’n voorbeeld van ’n vinnig-rykword-skema vir ’n handjievol politieke elites sal word, ten koste van die armes en kwesbares.
“Ná meer as ’n dekade en met al hoe meer lande wat moratoria en verbod op hidrobreking instel, kon ons regering geen bewys lewer dat die voordele die risiko’s sou oorskry as Suid-Afrika sou voortgaan met hidrobreking in die Karoo nie,” sluit Deal af.