DIE PEPUDA-WYSIGINGSWETSONTWERP – WAAROM JY STANDPUNT DAARTEEN MOET INNEEM
Deur Alana Bailey
Tans is daar heelwat omstrede wetsontwerpe wat hewige debat ontlok, byvoorbeeld oor onteiening sonder vergoeding, wapenbesit, en PEPUDA, oftewel die wysigingswetsontwerp rakende die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie. Die akroniem PEPUDA kom van die Engelse benaming “Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Amendment Bill 2021”.
Verskeie instansies, organisasies en politieke partye het reeds daarteen gewaarsku, maar daar is ook diegene wat waarskuwings daarteen as bangpratery afmaak. So lees ek byvoorbeeld in ’n meningsartikel op Netwerk 24 dat die skrywer meen “Dit wil mense veilig laat voel, en hulle bemagtig.” [https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/diskriminasiewet-wat-beteken-dit-regtig-20210626]. Dit klink pragtig, daarom moet ons vra waarom mense dan nie veilig en bemagtig voel wanneer hulle die wetsontwerp bestudeer nie?
AfriForum het ’n regsmening daaroor van ’n senior advokaat verkry. Om kortliks op te som, is die probleme wat hy met die konsepwet identifiseer dat:
- dit die terme “gelykheid” en “diskriminasie” herdefinieer;
- die bedoeling van die aangeklaagde hiervolgens van geen belang is nie, dit is die ervaring van die klaer wat tel;
- organisasies en maatskappye nou ook aanspreeklik gehou kan word vir hulle personeel se aksies;
- die staat kodes mag bepaal waarvolgens onder andere nie-regeringsorganisasies mag optree;
- die staat die klaers se sake mag befonds, maar nie finansiële hulp aan diegene wat hulle teen die klagtes moet verdedig, hoef te voorsien nie; en
- die staat alle wetgewing wat deur die konsep geraak word, moet hersien.
Politieke ontleders beskryf Suid-Afrika lankal as ’n hibriede regime ‒ ’n staat wat ’n mengsel van outoritêre en demokratiese kenmerke vertoon. Aan die een kant is daar byvoorbeeld demokratiese verkiesings wat gereeld plaasvind, maar aan die ander oorheers die staat alle sektore en onderdruk demokrasie.
Hierdie wysigingswet is ’n sprekende voorbeeld van hoe sulke onderdrukking gewettig kan word. Die staat besluit wat diskriminasie is; die staat besluit wanneer iemand diskrimineer; die staat hou werkgewers aanspreeklik vir werknemers; die staat bepaal hoe gemeenskapsinstellings mag optree; die staat betaal net een kant van regsaksie, ongeag of die ander party onskuldig is; en les bes, die staat pas alle bestaande wetgewing aan om dié benadering af te dwing. Laat dit enige ruimte vir die burgerlike samelewing om self te besluit oor hulle optrede? Ja, mits die staat dit natuurlik toelaat …
Volgens die Netwerk 24-meningstuk sal dié benadering “ons demokrasie versterk” en “van ons verantwoordelike burgers maak, met begrip vir en respek teenoor ander”. Ongelukkig kan jy nie demokrasie versterk deur dit weg te neem nie, net so min as wat respek met wetgewing afgedwing kan word.
Die logiese gevolg van elke keuse wat ons maak, is diskriminasie. As AfriForum ’n Afrikaanse ontvangsdame aanstel omdat ons ’n Afrikaanse organisasie is, diskrimineer ons teen die sprekers van al 7 096 ander tale in die wêreld. As ’n Christelike privaat skool ’n onderwyseres aanstel wat ’n Christen is, diskrimineer dit teen alle kandidate wat ander geloofsoortuigings huldig.
In die verlede was daar heelwat regsuitsprake wat hierdie soort besluite verdedig het, omdat dit diskriminasie was wat regverdig kon word, gesien in die lig van die belange van ’n bepaalde gemeenskap. Al bogenoemde besluite is geneem sonder dat daar enige bedoeling was om teen iemand te diskrimineer of enigeen te benadeel. In sy huidige vorm maak PEPUDA egter nie voorsiening vir dié soort optrede nie. As ek slegs Spaans praat en voel AfriForum tas my waardigheid aan deur my nie vir die pos as ontvangsdame te oorweeg nie, kan ek ’n klag lê en as die staat besluit om die saak verder te voer, kan ek selfs finansiële hulp daarvoor kry.
Dalk klink hierdie voorbeelde vergesog, maar in die onlangse verlede was daar al vele hofsake presies oor kwessies van die aard, byvoorbeeld waar mense gemeen het dat die regulasies van die instelling waaraan hulle studeer of waar hulle werk, teen hulle kultuur diskrimineer. In die gevalle kon die arbiters of howe beslis deur te kyk of daar doelbewuste benadeling was, of sinvolle redes vir die regulasies, maar met PEPUDA sal die klaer slegs sy ervaring hoef te motiveer. Al is daar dus dan geen bedoeling om iemand te na te kom nie, sal die individu én sy werkgewer, of die betrokke instansie aanspreeklik wees en gestraf moet word.
Die gevolge hiervan kan verlammend vir die regstelsel wees, want met PEPUDA is daar geen wyse waarop iemand vooraf kan bepaal of hy die wet gaan oortree of nie – jy kan nooit seker wees hoe iemand jou keuses vir of teen hulle gaan ervaar nie.
Afgesien van die totale gebrek aan logika, is dit ongelukkig só dat ons regering herhaaldelik bewys het dat hulle uitblink in wanbestuur en die ongelyke behandeling van landsburgers. Dink maar aan die gesukkel met die beskikbaarstelling van entstowwe tans en die toerismefonds wat op grond van ras teen benadeeldes in dié sektor probeer diskrimineer. Kan ons dus vertrou dat hierdie wetgewing beter ingespan sal word, as dit aanvaar sou word?
Wanneer dit by die bedreiging van burgerregte kom, is die benadering baie soos wanneer jy met dinamiet te make het. Ek bêre nie dinamiet in my linnekas nie. En sou dit in ’n kas wees, sal die kas gesluit wees, en niemand kom ooit met ’n vuurhoutjie daar naby nie. Waarom sou ek die risiko wil skep? Net so kan ons nie wetgewing wat die potensiaal het om ons burgerregte te bedreig, goedkeur nie, al is die bedoelings daarmee hoe edel.
Opsommend dus, nee, dit is nie alarmisties om standpunt teen die wetsontwerp in te neem nie. Dit is wys, want dit voorkom onnodige risiko’s en beskerm demokrasie deur die burgerlike gemeenskap se onafhanklikheid te verdedig.
Neem saam met AfriForum standpunt in teen hierdie onsinnige wetsontwerp!