| |

Die NVG gaan adjunkspeaker van Gauteng Provinsiale Wetgewer vervolg

Skaars twee weke nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geskryf het oor die verwerpte saak teen Vuyo Mhlakaza-Manamela, het die staat besluit om haar wel te vervolg. Die adjunkspeaker van die Gautengse wetgewer sal teregstaan op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en crimen injuria. Die saak spruit uit ’n beweerde aanval op ’n beampte van die polisie se beskermings-en-sekuriteitsdienste, sers. Lizzy Mojapelo.

Sy het die eenheid genader nadat die NVG geweier het om te vervolg. Die saak is verlede jaar teruggetrek nadat senior aanklaers glo aan Mojapelo gesê het die saak sal moeilik vervolg word omdat die verdagte ’n baie hoëprofielpersoon is.

Vandag het adv. Andrew Chauke, die Gautengse direkteur van openbare vervolging, in ’n brief aan die eenheid gesê:

“Nadat die inhoud van die dossier, u versoek vir ’n nolle prosequi-sertifikaat en die verslag van die betrokke Senior Staatsaanklaer bestudeer is, is hierdie kantoor tevrede dat daar ’n prima facie-saak teen Nomvuyo Mhlakaza-Manamela is en dat die saak teen haar nie teruggetrek moes word nie.

“Hierdie kantoor het ’n opdrag aan die hoofaanklaer uitgereik dat Nomvuyo Mhlakaza-Manamela vervolg moet word op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en crimen iniuria.

“Die betrokke senior staatsaanklaer wat die saak teruggetrek het, is tereggewys.”

“Dit is ’n oorwinning vir die beginsel van gelykheid voor die reg. Ons sal verseker dat politici nie teen vervolging verskans word nie. Alhoewel ons moes verseker dat geregtigheid uiteindelik geskied, wil ek advokaat Chauke en sy kantoor komplimenteer vir sy oortuiging en bereidwilligheid om te aanvaar dat ’n fout gemaak is en om die vervolging van me. Mhlakaza-Manamela te beveel,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Ek is baie gelukkig met die NVG se besluit. Dit is net jammer dat AfriForum eers betrokke moes raak, maar die NVG moet sorg dat geregtigheid vir my en my dogter geskied — dit is al wat ons nodig het. Ons is dankbaar teenoor AfriForum,” sê Mojapelo.

Die beweerde aanranding het in Februarie 2020 by die huis van Mhlakaza-Manamela en haar man, adjunkminister van hoër onderwys, Bhuti Manamela, plaasgevind. Mojapelo beweer die verdagte het haar in ’n dronk woedebui erg aangerand. Sy sê verder dat haar polisiehoofde haar nie wou help om ’n saak te open nie, maar eerder alles in hul vermoë gedoen het om daardie pogings te ontwrig.

’n Mediese ondersoek het bevestig dat Mojapelo veelvuldige beserings opgedoen het, en ook bevestig sy was toe 11 weke swanger. Sy het vaginale bloeding opgedoen en moes vrugbaarheidsbehandeling ontvang om te verseker dat haar swangerskap nie beëindig word nie.

Mojapelo, as ’n ywerige en pligsgetroue polisiebeampte, het besonderhede van die beweerde aanranding met elke stap van die proses gedokumenteer — van die voorvalleboek op die misdaadtoneel tot die saamstel van aantekeninge van haar interaksies met aanklaers en ondersoekers. Ten spyte van die prima facie getuienis teen Mhlakaza-Manamela, het die NVG geweier om die saak voort te sit.