Die moontlike onmoontlike
Ben Freeth, ’n Zimbabwiese boer, is besig om ongeveer 2 000 km te perd af te lê vanaf sentraal-Zimbabwe tot in Windhoek, Namibië. Daar gaan ’n memorandum op 18 Maart aan die Suider Afrika Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) oorhandig word waarin ’n oproep gedoen word vir die heroprigting van die SAOG-tribunaal, dié streek se streeksgeregshof. Ben se merkwaardige reis het egter nie begin toe hy en sy muil op 28 November 2023 van die hek van die plaas Mount Carmel vertrek het nie.
Ben en sy wyle skoonpa, Mike Campbell, het in 1999 bevestiging van die Zimbabwiese regering ontvang dat die staat nie daarin belangstel om hul plaas vir sy grondherverdelingsprogram te bekom nie. Twee jaar later is daar egter ’n uitsettingsbevel op hulle beteken. Ben en sy skoonpa het die Harare Hooggeregshof sonder sukses genader en die saak dus na die SAOG-tribunaal geneem.
Die SAOG-tribunaal het uiteindelik op 28 November 2008 in hul guns beslis dat die boere (ook die wat tot die saak toegetree het) die reg het om hul plase te besit en te bewerk. Die Zimbabwiese regering het die uitspraak egter geïgnoreer; Mount Carmel is binnegeval en die huise van sowel die boere as die plaaswerkers en hul gesinne is in 2009 afgebrand. Die regerings van die SAOG-state het daarna stappe geneem om die werksaamhede van die SAOG-tribunaal op te skort.
Ben en die ander Zimbabwiese boere het egter nie moed opgegee nie, en met ondersteuning van organisasies soos AfriForum en Saai is groot oorwinnings in Suid-Afrikaanse howe behaal tot voordeel van al die volke van suidelike Afrika – Ben en ander Zimbabwiërs se storie is voorwaar ’n inspirasie vir medegelowiges in suidelike Afrika.
As Christene het ons die eenvoudige (maar nie maklike) verantwoordelikheid om te bepaal wat die volgende regte ding is om te doen, en dit dan te doen. Ons is nie verantwoordelik vir die uitkomste nie – dit is in die Here se hande.
Ons leef met die ewigheid in gedagte; dit is waarom ons, in gehoorsaamheid aan God, daarna strewe om die skynbaar “onmoontlike” te bereik – ons volg nie ’n benadering van die “politiek van die moontlike” nie. Daar staan immers in Lukas 18 vers 27 geskryf: “Maar Hy antwoord: Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik.”
As mens kyk na ons gebroke wêreld, hier aan die suidpunt van Afrika en elders, kan mens net tot een gevolgtrekking kom: Die mensdom het Christus nodig. Om Sy lig te vind en daarin te lewe is die enigste oplossing vir die geweld van Afrika (en die verval van die Weste).
Mens wonder soms of ons Hemelse Vader treur omdat daar soveel swaarkry oor sy kinders hier in suidelike Afrika moet kom vir ons om mekaar as broers en susters in Christus te sien wat kan saamwerk vir Sy koninkryk teen die bose.
Ons glo dat die Here ’n plan gehad het toe Hy sy kinders uit die Weste na die smeltkroes van Afrika gestuur het; want wat vandag grootliks in Europa verlore is, brand steeds helder in Afrika – iets mooi is gesmee in hierdie vuur.
Miskien het ons, in ons tyd, die unieke geleentheid om ’n keuse te maak: nie om te doen wat ons dink moontlik is nie, maar om te doen wat ons glo reg is: want dan sal ons vrede vind in wat die uitkoms ook al mag wees – want die Here bepaal dit.