Die impak van trauma
Deur Hennie Human, slagofferondersteuningsbeampte by AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid
“Is daar iets met my verkeerd? Ek ken myself nie meer nie.”
Dit is die woorde van ’n jong ma wie se sesjarige seuntjie in ’n motorongeluk gesterf het. Sy vertel van haar huwelik wat besig is om uitmekaar te val, sy sukkel om te bid en vind nie meer sin in die lewe nie. Die emosionele pyn kan op haar gesig gesien word. Haar lewe is omgedop en is besig om deur haar vingers te glip – sy voel sy het beheer verloor. Die verlies van haar seuntjie het ’n geweldige impak op haar – dit is traumaties.
Baie van ons gaan deur soortgelyke traumatiese gebeurtenisse. Verstaan ons wat met ons gebeur en watter impak dit op ons het?
Wat is trauma?
Nie alle gebeure of voorvalle wat ons ervaar of waaraan ons blootgestel word, is traumaties nie. Byvoorbeeld, ’n motorongeluk waar twee motors met die wegtrek in mekaar vasry, word anders beleef as die ongeluk waar lewensverlies was. Die graad en intensiteit van liggaamlike en emosionele impak is net soveel hoër by die traumatiese voorval.
Die “psigiese wonde” wat die traumatiese gebeure laat, word “trauma” genoem. Dit is die innerlike pyn en seer wat die persoon ná die gebeure ervaar.
Trauma word gekoppel aan ’n voorval of gebeure wat lewensbedreigend is en verlies insluit. Lewensbedreigend sou voorvalle wees soos gewapende roof, plaasaanval, motorkaping, ernstige motorongeluk, ernstige liggaamlike wonde, oorlog, gesinsgeweld, seksuele misdrywe (verkragting ingesluit) en terminale siekte, waar voorvalle van verlies die dood van ’n geliefde, egskeiding, verlies van ledemate en werkverlies kan wees.
Ons ignoreer of ontken meestal trauma en die innerlike pyn wat dit veroorsaak. Die kultuur van sterk-wees waarin ons grootword, leer ons dat dit nie so erg is nie, met tyd kom ’n mens daaroor. Net om later uit te vind die fisiese wonde is lankal gesond, terwyl die “psigiese wond” nog rou bly.
Wat is die impak van trauma?
Dit is noodsaaklik om in gedagte te hou dat elke persoon se reaksie op en belewenis van traumatiese gebeure nie net van mekaar verskil nie, maar ook uniek is. ’n Kenner in traumaberading het per geleentheid gesê: “Trauma loop met jou ’n pad (met of sonder jou toestemming). Die belangrike is nie die pad wat trauma met jou volg nie, maar hoe jy jou trauma bestuur”.
Die impak tydens die traumatiese voorval
Die natuurlike reaksie van die liggaam op ’n lewensbedreigende voorval of verlies is neurologies van aard. Die brein ontvang en stuur die boodskap na al die belangrike dele van die brein (hier is die limbiese sisteem belangrik) en die streshormoon adrenalien word afgeskei, met hierdie gevolge:
- Die persoon se hartklop en bloeddruk verhoog.
- Biologies word hy koud en sy gesig word wit soos die bloed na die spiere beweeg – hy voel verlam.
- Hy beleef alles asof dit “stadiger” gebeur (die brein gaan in theta-toestand) en hy dit op ’n afstand waarneem.
- Die vermoë van die brein om ervarings en waarnemings te kategoriseer, word beïnvloed – alles is ’n deurmekaarspul en die vermoë om te onthou, word aangetas (streshormone oorspoel die logiese deel van die brein).
- Hy is met vrees en ongeloof vervul – hy kan nie glo wat besig is om met hom te gebeur nie.
Die reaksie op die groot hoeveelhede adrenalien wat afgeskei word, is dié van vries, veg, vlug of oorgee. Soms tree persone tydens die voorval totaal anders op as wat hulle gedink het hulle sou. Die persoon se reaksie is ongelukkig nie voorspelbaar nie. Die persoon doen soms dinge wat normaalweg nie moontlik is nie, soos om oor ’n hoë muur te spring om die dief te vang. Die persoon kan ook emosioneel met intense vrees, hulpeloosheid, angs, huilerigheid, woede of gelatenheid reageer.
Die impak ná die voorval
Die streshormoon kortisol word ook vrygestel.
’n Oorweldigende gevoel van magteloosheid tree in, wat onsekerheid oor homself en sy vermoëns skep. Die persoon se normale hanteringsmeganisme (Engels: coping skills) word ernstig beïnvloed. Hy begin dit moeilik vind om die normale alledaagse lewenseise te hanteer en take te verrig.
Verder beïnvloed trauma ook die persoon se gedrag en gevoelens:
- Die persoon probeer nou plekke, mense en situasies wat hom aan die voorval herinner, vermy.
- Terugflitse van die voorval vind plaas en sekere mense, gebeure of selfs geluide kan “snellers” wees wat hom die voorval laat herbeleef.
- Slapeloosheid en nagmerries kom voor.
- Versteuring in eetgewoontes.
- Oorbedagtheid.
- Onttrekking aan sosiale interaksie en verhoudingsprobleme ontwikkel.
- ’n Verandering in die selfkonsep en lewens- en wêreldbeskouing tree in.
- ’n Geloofskrisis kan ontstaan, wat God se liefde en teenwoordigheid bevraagteken.
- Skuldgevoelens, depressie, buierigheid, woede en angstigheid kan voorkom.
Indien die persoon se traumatoestand voortduur en nie aandag kry nie, kan posttraumatiese stres ontwikkel.
Hoe help hierdie inligting my?
Hê begrip vir ander wat trauma ervaar. Verstaan jou eie trauma en soek hulp indien nodig.