|

Dié debatteerders van Limpopo bewys hulle is tops

AfriForum het die afgelope naweek die streeksuitdunne vir die burgerregteorganisasie se Dink of Sink onvoorbereide debatskompetisie by Merensky Landbou Akademie in Tzaneen aangebied. Altesaam 84 leerders van vier  hoërskole in Limpopo het aan hierdie debatskompetisie deelgeneem. Die doel van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is om debat in Afrikaans op hoërskool- en universiteitsvak te bevorder. Terselfdertyd leer die debatteerders ’n kernvaardigheid wat hulle in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree.

Die skole wat aan die debatskompetisie deelgeneem het, is Merensky Landbou Akademie, Hoërskool Ben Vorster, Hoërskool Pietersburg en Hoërskool Louis Trichardt. Elkeen van die spanne het drie debatte gevoer oor verskeie onderwerpe rakende aktuele kwessies in hulle omgewing en die land.

“Die Dink of Sink onvoorbereide debatskompetisie is elke jaar ’n hoogtepunt op die Merensky Landbou Akademie se kultuurkalender. Die spanne moes vanjaar waarlik dink of sink met die onderwerpe wat gegee is, maar ek dink al die leerders het hulle goed van hul taak gekwyt,” sê Ernest Swanepoel, onderwyser aan Merensky Landbou Akademie en organiseerder van die debat.

Ná ’n lang dag van debat is Merensky Landbou Akademie (span 1) se Eddie Mostert, Carmé Louw en Lua Streicher as die junior kategorie se wenners aangewys, terwyl Hoërskool Ben Vorster (span 4) se Lené Campher, Zené de Jager en Juliana du Plessis die naaswenners is. In die senior kategorie het Merensky Landbou Akademie (span 2) se Carel Volschenk, Chané Gouws en Euné Pohl geseëvier en is Merensky Landbou Akademie (span 1) se Anke Rood, Larike Joubert en Hano Potgieter as naaswenners gekroon. Merensky Landbou Akademie se junior (span 1) en senior (span 2) span dring deur na die nasionale finaal wat op 5 Oktober in Pretoria plaasvind.

“Alhoewel daar nog baie oefening en voorbereiding vir die debatteerders voorlê, sien ons baie uit vir ’n naelbyt eindstryd in Oktober wat gaan bepaal wie die beste onvoorbereide debatteerders in Suid-Afrika is,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekköordineerder vir Onderwys.

Soortgelyke plasings