|

Die Afrikaner maak só-musiekblyspel laat gehore skaterlag én diep dink

Die nuwe Afrikaanse musiekblyspel, Die Afrikaner maak só, wat nou al vir die derde agtereenvolgende week op die planke is by AfriForum Teater in Pretoria, het teatergangers behoorlik gaande. Liefhebbers van Afrikaans, Afrikaanse teater en musiek moet egter spring, want slegs ’n handjievol vertonings lê nog voor in dié speelvak.

In hierdie byderwetse musiekblyspel maak die gehoor kennis met die Van der Merwe-gesin wat as’t ware vasgevang is in 1994. Te midde van onsekere tye en politieke omwentelings besluit die Van der Merwes om nie soos talle ander Afrikaners te emigreer nie, maar om eerder in ’n ondergrondse bunker te gaan bly. Dertig jaar later maak hulle as die laaste oorblywende Afrikaners in Suid-Afrika, in telkens skreeusnaakse oomblikke, kennis met ’n Suid-Afrika wat heelwat anders lyk as hoe hulle dit onthou.

Topgehalte toneelspel, skerp dialoog en ’n eiesoortige storielyn het die afgelope drie weke reeds aan duisende teatergangers ’n goedvoelervaring soos min gebied. Met Die Afrikaner maak só wyk die gesoute vervaardigers, Inhoud Huis Musiek, ietwat af van hul vroeëre gewilde musiekblyspele, Die Gelofte en Die Kaplyn, wat nou op historiese gebeure gebaseer is. Gehore kan egter steeds verwag om op ’n onvergeetlike en eg Afrikaanse musiekervaring trakteer te word wat gehore die een oomblik laat skaterlag en die volgende oomblik weer diep laat dink.

Die Afrikaner maak só-musiekblyspel is vervaardig vir AfriForum Teater en geskryf deur die leiers in Afrikaanse musiekteater Johan Vorster, Jacomien de Wet en Jannes Erasmus.

Die sterbelaaide rolverdeling bevat boonop die room van Afrikaanse sang- en teatertalent, en bestaan uit die geliefde sangeres Bernice West; die gesoute operasanger en akteur Rouel Beukes; Nadia Beukes op wie se kerfstok daar al dosyne televisie-, teater- en filmproduksies is; Dihan Keun wat onlangs ook in Die Kaplyn te siene was; Revan Luüs; en medeskrywer en regisseur van Die Afrikaner maak só, Jannes Erasmus.

West en Bok van Blerk se gewilde liedjie “Die Afrikaner maak so” wat onlangs ook bekroon is met die Aitsa-toekenning vir meeste stromings deur ’n groep op duo, is die temalied van dié musiekblyspel en vorm deel van ’n opwindende reeks oorspronklike musiek wat spesiaal vir die blyspel geskryf is.

Soortgelyke plasings