Die Afrikaanse wêreld is armer ná afsterwe van prof. J.C. Steyn
Deur Alet Rademeyer
Hulde blyke stroom in ná prof. Jaap Steyn (83), bekroonde digter, skrywer, akademikus, kultuurhistorikus, oud-joernalis en ewige entoesiastiese stryder vir Afrikaans vanoggend in sy huis in ’n aftree-oord in Bloemfontein oorlede is.
Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder by Kraal Uitgewers, sê hulle het met leedwese van Steyn se afsterwe verneem. “Hy was een van Afrikaans se grootste en mees geliefde skrywers. Kraal het verskeie van sy werke gepubliseer, waaronder sy monumentale werk Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die ‘Patriot’-jare.”
Nieuwoudt sê prof. Jaap se sagte benadering, nederigheid, onbeskryflike kennis, liefde vir Afrikaans én die geskiedenis, was enkele van die karaktereienskappe wat hom so geliefd gemaak het. “Die Kraal Uitgewers-span salueer ’n meesterlike skrywer.”
Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, het die organisasie se innige meegevoel aan Steyn se suster Ria en familie betuig. “Sy dood laat ’n onmeetbare leemte op die terrein van Afrikaner-kultuurgeskiedenis, Afrikaanse taalwetenskap en letterkunde.
Die omvang van die rol wat hy op hierdie terreine gespeel het, word bewys daardeur dat hy die ontvanger was van onder meer:
- die Eugène Maraisprys vir die digbundel Die grammatika van liefhê;
- die Stalsprys vir geskiedwetenskappe vir die biografie Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal;
- die Louis Hiemstraprys vir nie-fiksie vir die biografie Die honderd jaar van M.E.R.;
- die C.J. Langenhovenprys vir sy bydrae tot taalwetenskap;
- die N.P. Van Wyk Louwmedalje vir die volgehoue uitbouing van ’n vertakking of vertakkings van die geesteswetenskappe;
- erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns; en
- die Jan H. Maraisprys vir sy uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal.
“Met sy werke Tuiste in eie taal, Trouwe Afrikaners en Ons gaan ’n taal maak, het hy die kultuurgeskiedenis van Afrikaans en haar sprekers op ’n meesterlike en onverbeterlike wyse gedokumenteer. Benewens sy kennis en skryfvernuf, sal hy veral onthou word as ’n helder denker, nederige mens, fynproewer van humor, vurige liefhebber van en aktivis vir Afrikaans en ’n lojale vriend. Ons sal hom mis en ons wens sy geliefdes troos in die hartseer tyd toe,” sê Bailey.
Steyn was onder meer ook dosent in Algemene Taalwetenskap aan die Randse Afrikaanse Universiteit en professor-navorser in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy is veral bekend vir sy indringende studies oor die Afrikaanse taal se herkoms en geskiedenis en sy omvattende biografieë oor onder andere M.E.R. en N.P. van Wyk Louw. As digter verwerf hy die Eugène Marais-prys en die Ingrid Jonker-prys en as prosaskrywer word hy bekroon met onder andere die Recht Malan-prys, die Louis Luyt-prys en die Stalsprys.
Hy is op 31 Julie 1938 op die plaas Mara in Fouriesburg in die Vrystaat gebore. Die gesin trek later na Petrus Steyn waar hy sy skoolloopbaan in 1955 aan die J.A. Malherbe-hoërskool voltooi.
Hy het met ’n beurs van Die Volksblad studeer en in 1958 die BA-graad behaal met onderskeidings in die hoofvakke Afrikaans/Nederlands en Duits. Hy het toe by die koerant gaan werk waar hy tot in Julie 1964 verbonde was. Hy het later ook sy honneurs- en meestersgraad in Afrikaans en Nederlands, albei cum laude behaal. In 1966 verwerf hy sy doktorsgraad in algemene taalwetenskap aan die Gemeentelijke Universiteit in Amsterdam.
Steyn het talle toekennings gekry en is ses keer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon.
Benewens sy uitgebreide prosa- en poesië-werke skryf hy eindelik meer as ’n honderd populêre artikels vir dagblaaie en tydskrifte.
Steyn se werk in Afrikaans is ’n konstellasie van ses verwante dimensies. Hierdie dimensies sluit in: die plattelandse leefwêreld van vele Afrikaners met spesifieke aandag aan die Vrystaat; aanknopingspunte in die Europese geesteslewe en ander volke en tale se bestaanstryd; poësie en sosiaal-betrokke prosa; Afrikaanse taalgeskiedenis; Afrikaner-kultuurgeskiedenis; en Afrikaans en Afrikaners se politieke en kulturele bestaanstryd vandag.