Deneysville-tak amptelik gestig
AfriForum se Deneysville-tak is Donderdag 24 November amptelik gestig. Oranjeville is by hierdie tak ingedeel totdat hulle genoeg lede het om hul eie tak te stig.
Die bestuur bestaan uit Chris Els (voorsitter), Duncan D’Abreton (ondervoorsitter), Marie Rudman (sekretaris), Mike Gardener (tesourier), Dirk Manten (veiligheid), Glenn McCarrol (omgewingsake) en Linton Logie (plaaslikeregeringsake). Phil Voges verteenwoordig Oranjeville. Daar is ook ’n AfriForum-buurtwag gestig met Dirk Manten (buurtwagleier en inligtingsbeampte), Justin Wolmarans (leier van operasies) en Sandy Gaddin (leier van steun) op die bestuur.
Die nuwe tak is reeds volstoom aan die gang en het baie planne om Deneysville weer die pragtige plek te maak wat dit eens was. Die eerste prioriteit is om die buurtwag aan die gang te kry voor die vakansietyd aanbreek om misdaad te bekamp. Mense wat wil betrokke raak kan vir Chris Els by 067 078 2740 kontak.
“Ek is baie opgewonde oor hierdie nuwe tak. Die gemeenskap is positief om hand aan die ploeg te slaan om ’n daadwerklike verskil in Deneysville te maak,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir Mooirivier.
Die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Deneysville of Oranjeville” na 45344 (R1).