Delportshoop-tak se deelname aan GOP werp vrugte af
AfriForum se Delportshoop-tak se volgehoue pogings om swak dienslewering in die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit die hoof te bied, het eindelik vrugte afgewerp. Dié tak het in Mei verskeie voorstelle met betrekking tot dienslewering in sy skriftelike kommentaar op die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ingedien. Sedertdien is talle van hierdie probleme aangepak en lekkasies herstel wat vir jare lank al probleme bied.
Waterinfrastruktuur
Die tak het verneem dat daar reeds herstelwerk gedoen is op die pypbreuke wat die tak aan die munisipaliteit uitgewys het. ’n Pypbreuk wat al vir jare lank probleme vanuit Krugerstraat bied, is herstel, asook die pypbreuk in Ulcostraat. Die lekkasies in Alphaweg is ook aan die munisipaliteit gerapporteer en daar is onderneem om aandag daaraan te gee.
Die waterinfrastruktuur in Kerk-, Van Wyk-, Venter- en Pretoriusstraat is ook onder die munisipaliteit se aandag gebring. Dié waterpype word gereeld beskadig wat tot ernstige wateronderbrekings en lekkasies ly. Die munisipaliteit het die infrastruktuur reggemaak en die gemeenskap het intussen hobbels oor die pype gesit om te verhoed dat dit stukkend gery word.
Daar is ook groot lekkasies op die hoofwaterpyplyn in Delportshoop wat ’n opeenhoping van water om kragpale veroorsaak en moontlik daartoe kan lei dat dié kragpale omval. Die situasie is aan die munisipaliteit gerapporteer, wat op sy beurt onderneem het om die twee groot lekkasies te herstel.
Die Delportshoop-tak het ook in sy kommentaar aan die munisipaliteit daarop gewys dat dit noodsaaklik is dat die gebied se reservoirs twee keer ’n jaar skoongemaak word. Die munisipaliteit het aan hierdie versoek gehoor gegee en die reservoirs vir Delportshoop en Barkly-Wes is reeds skoongemaak.
Dreineringstelsel
Delportshoop beskik oor swak dreineringstelsels wat dikwels daartoe lei dat water in die gebied opdam of selfs paaie oorspoel. Die dreinering in Hannekom-, Jakaranda- en Britsstraat is veral gebrekkig, asook die groot dreineringsloot agter Fouriestraat wat voor Sewendelaan verby loop. Die munisipaliteit is oor die situasie bewus gemaak en is tans in die proses om die dreinering agter Fouriestraat te verbeter.
Instandhouding op kraginfrastruktuur
Die instandhouding van kragkabels en die enkelfase-kragtoevoer is ’n voortdurende probleem op Delportshoop, veral omdat die infrastruktuur gereeld skade lei gedurende slegte weerstoestande en sterk winde. Dié kwessie, asook die kragbokse wat gevandaliseer word en bome wat oor kraglyne groei is aan die munisipaliteit gerapporteer. Die munisipaliteit het intussen versterkings tussen die kraglyne gesit wat die enkelfase-probleem amper heeltemal uitskakel.
Die gebrekkige instandhouding en opgradering van die kragstasies in Bredenkamp- en Britsstraat is ook onder die munisipaliteit se aandag gebring en ná dit is daar eindelik instandhouding op die stasies gedoen.
Vullisverwydering
Die munisipaliteit se vullisverwyderingsdiens was vir maande lank onbetroubaar en inwoners het dikwels weke lank sonder dié diens gegaan. Die AfriForum-tak het in sy skrywe aan die munisipaliteit geëis dat sy vullisverwyderingsvoertuig opgeknap moet word sodat die diens wat inwoners verwag, doeltreffend gelewer word. Sedert dié versoek het die tak daarop gelet dat die voertuig herstel is en dat die vullis weer weekliks verwyder word.
“Vele ander foute is ook aan die munisipaliteit gerapporteer en hoewel slegs ’n paar van die gebied se kwessies al aandag geniet het, is AfriForum vol vertroue dat die ander probleme ook spoedig die hoof gebied sal word,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo. “AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteit toe te pas om te verseker dat Delportshoop instandgehou word en nie gebuk gaan onder veral nie.”
Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se Delportshoop-tak betrokke te raak en ’n wesenlike verskil in die omgewing teweeg te bring.