|

Delmas Valke-buurtwag vat verdagtes vas, vind gesteelde voertuie en waak oor hoofweë

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het weer verlede maand sy toewyding aan die gemeenskap bewys deur die omgewing teen boosdoeners te beveilig. Dié buurtwag het nie net talle verdagtes deur die loop van die maand vasgetrek nie, maar ook verskeie voertuie teruggevind wat in die omgewing gesteel is en selfs bystand gebied ná ’n skietvoorval in die omgewing.

Hierdie buurtwag het regdeur die maand op verskeie inbrake gereageer en ’n skietery waartydens een persoon geringe beserings opgedoen het. Die buurtwag het boonop ook in afsonderlike voorvalle drie verdagtes aangekeer en aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig. Altesaam vier motors wat deur die maand gesteel is, is ook met behulp van die buurtwag teruggevind.

Die buurtwag het ook vir ’n groot deel van die maand daarop gefokus om die N12 te beveilig en die ysterpenlokvalle wat gereeld op hierdie hoofweg gestel word, te pak. Daar is op ’n aand ses voorvalle aangemeld waartydens voertuie ysterpenne of klippe op hierdie hoofweg raakgery het. Selfs die SAPD se voertuig het ’n klip getref en skade opgedoen. Die buurtwag het verskeie motoriste bygestaan wat deurgeloop het en selfs twee van die vermeende boosdoeners gewaar en agternagesit. Die twee verdagtes het egter inhegtenisneming ontduik.

“Die Delmas Valke-buurtwag sal nie ophou baklei teen die vlaag misdaad op hoofweë nie en die ysterpenlokvalle wat daar gestel word nie. Dit is net ’n kwessie van tyd voordat ons die bendes vastrek wat hiervoor verantwoordelik is,” sê Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak.

“Dis wel kommerwekkend dat motoriste nie hierdie gevalle by die polisie aanmeld nie. Dit lei daartoe dat die werklike risiko vir motoriste in die gebied nie akkuraat bepaal kan word nie. Die polisie en ander veiligheidsrolspelers moet deeglik bewus wees van die omvang van die probleem om doeltreffend aandag daaraan te gee en die nodige mannekrag te ontplooi,” voeg Botha by.

Verder het die Delmas Valke se opgeleide mediese span ook ’n besige maand agter die rug. Dié span het op meer as 20 noodroepe gereageer en die nodige bystand gebied. Die Delmas-tak se mediese span bied broodnodige bystand aan persone totdat nooddienste kan oorneem.

Raak vandag nóg by AfriForum se Delmas-tak en Delmas Valke-buurtwag betrokke. Besoek www.wordlid.co.za om meer oor hierdie tak te wete te kom.

Soortgelyke plasings